‘Ouderdom is nie vir sissies nie’

Ouderdom

Dr Cornelia de Kock

“De grote zaal”, ’n roman van Jacoba van Velde wat in 1953 verskyn het en wat in dertien tale vertaal is, was baie prominent in dié dertigjarige vrou se boekrak. By geleentheid het sy dit in my hand gestop en gesê:”Dis waarom ek ’n voorstander van genadedood is”. En nou is die vrou bejaard en bevind haarself in so ’n saal…

Die boek handel oor die vier-en sewentigjarige vrou se verblyf in ’n tehuis vir bejaardes. Sy beland in ’n saal saam met ander dames; almal is sterwende. Sy is in Nederland en haar enigste dogter woon in Parys. Sy ervaar ’n eksistensiële krisis, is eensaam en beleef doodsangs. Sy wonder hoe sy daar gekom het en wat sy daar maak?

Ouderdom is nie vir sissies nie – ’n frase wat ’n mens gereeld hoor.

Dit het my laat dink aan die ou Duitse wynliedjie,Fein, fein schmekt uns der Wein:

“Lekker smaak die wyn en die liefde, as ’n mens twintig is

Ook nog as mens dertig is.

As ’n mens veertig is, soen jy nog graag – mits jy spaarsaam was

Wanneer jy ouer word, bietjie kouer word, bly slegs die wyn…”

Die vermaarde, Stellenbosche Soöloog en uiters begaafde mens, CGS de Villiers, of te wel, Doktor Con, het altyd gesê dat hy met Goethe se kalwers ploeg. Ek mag seker dan met sy kalwers ploeg? Doktor Con het hom openlik oor die ouderdom uitgelaat: “Robert Browning, die Engelse digter, het gelieg toe hy gesê het:’The best is yet to be’ “.

Wanneer jy vir die bejaarde Doktor Con sou vra hoe dit gaan, het hy geantwoord:” Soos dit met ’n oumens gaan.” Hy het egter nooit verduidelik hoe dit nou eintlik met ’n oumens gaan nie.

Toe hy self al diep in die tagtig was, het hy in ’n onderhoud met die destydse radio-omroeper, Danie van Eeden,hierdie wyshede kwytgeraak: “Moenie dink jy is onmisbaar nie. Probeer die wêreld van jou tyd verstaan. As moderne musiek en skilderkuns vir jou lelik is, bly weg van konsertsale en uitstallings. Gaan lê op die bed en lees ’n lekker speurverhaal. Die ouderdom is onvermydelik, tensy jy voor die ouderdomsjare sterf. Die ouderdom het sy matesis…”; met ander woorde min mense spring dit vry.

Die Engelse vertaling van De grote zaal, het ’n subtitel bygevoeg:”When shadows fall”. Wanneer ek deur die gange van ’n versorgingsoord op Stellenbosch stap, besef ek Browning het nie geweet waarvan hy praat nie. Ek kyk met deernis na die eertydse bekendes van die Eikestad. Die geboë man, aan die hand van ’n versorger, wat deurgegaan het as die aantreklikste oujongkêrel van die dorp. Die fisikus wat hom nie meer met atome besig hou nie. Die kranige rugbyspeler wat sy spierkrag verloor het. Die digter wat nie eens meer rym nie… – “hul het versmelt tot blote skadu’s ten die muur…

Dié reëls in die skoollied van Hoërskool Stellenbosch kom by my op: “Fier en hoog net soos die Eike groei hul hier uit goeie grond…”Helaas, groeoe hulle nie meer nie, maar kwyn weg.

Was Adam Smal reg, hang alles af van hoe die dobbelsteentjie val? Is dit gene, of is dit leefstyl wat die laaste sê het?

Die Prediker was reg: “die ongelukkige dae en die jare waarin jy geen behae sal hê nie”, is vir die meeste sterflinge onafwendbaar.

Hierdie is die mense wat stadig sterf; die ander is die begenadiges wat vinnig sterf: in hul slaap, in ’n swembad, tydens ’n fietsrit of op pad kombuis toe om tee te gaan maak…

Vreemd genoeg die vrou wat ’n halfeeu gelede ’n voorstander van genadedood was, merk teenoor my op dat sy “sielsgelukkig” in die oord is. ’n Byna negentigjarige vertel dat haar lysie van goed waarvoor sy die tehuis dankbaar is, net langer word.

Dan kan ek uitstap in die lig, met die woorde van Van Wyk Louw in my hart: “Mooi is die lewe en die dood is mooi.”

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!