Afrikaans by US weer in kollig
Volgens Conrad Steenkamp, hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR), word goeie werk aan die US gedoen om meertalige ondersteuning aan studente te gee, maar dit help nie die US blaas hierdie beuel terwyl daar terselfdertyd oorgeskakel word na eentalige Engelsmedium-onderrig nie. Dit verteenwoordig die aftakeling van tweetaligheid pleks van die ontwikkeling van ware meertaligheid aan dié instelling.
Die reaksie kom teen die agtergrond van ‘n nuwe taalkwessie wat die afgelope week op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) heers nadat studente deur huiskomiteelede aangesê is om slegs Engels met mekaar te praat – onder amptelike en informele omstandighede.
Universiteitsowerhede probeer nou vure doodslaan oor voorvalle op die kampus op Stellenbosch sowel as sy Tygerbergse mediese kampus waar studente skynbaar verbied is om Afrikaans te gebruik – selfs onder sosiale omstandighede.
Die herrie is ontketen nadat huiskomiteelede van die Irene- en Minerva-dameskoshuis eerstejaarstudente verbied het om Afrikaans te praat, selfs in informele gesprekke by die koshuise. Volgens die US-bestuur was dit ‘n waninterpretasie deur oningeligte koshuisleiers van die universiteit se taalbeleid en is dit in stryd met die doelstellings van meertaligheid van die US.
Maar taalkenners en voorstanders van die gebruik van Afrikaans stem nie hiermee saam nie. Steenkamp beklemtoon dit ook dat hierdie nie ‘n stryd teen Engels is nie, maar een om Afrikaans te behou.
“’n Mens moet hierdie gebeure teen die groter agtergrond van die algemene verengelsing van die US beoordeel. Dit is duidelik dat Engels as die openbare taal ‘wat almal mos verstaan’ op kampus bevorder word, terwyl die gebruik van Afrikaans as die probleemtaal afgeskaal word,” meen Steenkamp.
“Dan wonder ‘n mens ook hoekom die universiteit so lank vat om op die klagtes oor die beweerde waninterpretasie van die taalbeleid in koshuise en elders op te tree. Hulle kon immers in ander situasies blitsig reageer. Dit pla dat sommige koshuise steeds blyk te dink hulle het niks verkeerd gedoen nie. Daarby kry mens die gevoel die US besef nie werklik die ernstigheidsgraad van hierdie vergrype nie. Waar bly die reaksie?”
“Dié agtergrond stem mens onrustig oor die fakulteite se voorstel dat nuwe kursusse gedurende die eerste semester slegs in Engels aangebied mag word, ʼn afwyking van die taalbeleid. ‘n Mens twyfel sterk daaroor dat so ʼn besluit tydelik sal wees. Hierdie voorstel wat op 19 Maart voor die US-senaat dien, verteenwoordig die spreekwoordelike koeël deur die kerk. Dit beteken die einde van Afrikaans as onderrigmedium aan die US.”
Tian Alberts, voorsitter van Studenteplein, ‘n onafhanklike studente-organisasie, ondersteun die feit dat daar skynbaar ‘n gebrek aan optrede deur die US-bestuur is.
“Die US-bestuur was verkeerd om eerstens sonder ondersoek te aanvaar dat hierdie voorvalle geïsoleer was, en tweedens om te impliseer dat nuwelinge ervarings rondom moedertaal beleef het wat nie werklik of waardig is nie. Intussen het dit ook aan die lig gekom dat soortgelyke voorvalle op die Tygerberg-kampus van die mediese fakulteit voorgekom het. Hoe is dit dan geïsoleerde voorvalle? Die US-bestuur het sover op ongeloofwaardige wyse uitgewys dat hierdie afdwinging nie sy beleid is nie, maar hy het nie die betrokke koshuisleiers se optrede uitdruklik gerepudieer nie,” sê hy. Studenteplein hoop om binnekort met die universiteitsowerhede oor die aangeleentheid te vergader.
Alan Bailey, hoof van kultuursake van Afriforum, sê die versoek om nuwe kursusse net in Engels aan te bied, is net nóg ’n gebeurtenis wat die US se gebrek aan verbintenis tot veeltaligheid, en meer spesifiek tot Afrikaans, illustreer.
“AfriForum heg min waarde aan die universiteit se verweer in die media dat die moontlike aanvaarding van hierdie voorstel ‘slegs ’n tydelike reëling in die eerste semester sal wees’.
“As eentalige onderrig nou skielik die enigste oplossing is, dui dit op ’n gebrek aan dienslewering aan ’n beduidende deel van die studentegemeenskap, ’n gebrek aan kreatiewe denke en aanpasbaarheid, maar bowenal ’n miskenning van die menseregte van alle betrokkenes.
“Die senaat se besluit oor hierdie versoek sal wel ’n aanduiding wees van die US se toekomstige verbintenis tot Afrikaans en meertaligheid. Die universiteit se nuwe taalbeleid wat in die vooruitsig gestel word, sal verder toon tot watter mate die bestuur se verbintenisse tot die bevordering van Afrikaanse studente se taalregte lippediens is, al dan nie,” meen Bailey.
In ‘n verklaring sê die US dat sy studente nie net verskillende taalvoorkeure het nie, maar ook van verskillende lande afkomstig is. Hulle kan nie elkeen se taal vlot praat nie, maar almal kan ten minste Engels verstaan.
“Daarom gebruik studenteleiers in koshuise tydens die verwelkomingsperiode meestal Engels in formele byeenkomste om ’n atmosfeer van inklusiwiteit te skep, en sodat almal kan verstaan. Dit is in ooreenstemming met die taalbeleid se paragraaf 7.2.5 wat lui dat taal in koshuise en ander leefomgewings op so ʼn wyse gebruik word dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie,” lui ‘n deel van die verklaring.
Volgens die verklaring is die kern van die US-taalbeleid steeds dat die universiteit verbind is tot die omgang met kennis in ’n diverse samelewing. Die taalbeleid beoog om uitvoering te gee aan artikel 29(2) van die Grondwet wat betref taalgebruik in sy akademiese, administratiewe, professionele en sosiale konteks. Die beleid beoog om billike toegang tot die US vir alle studente en personeellede uit te brei, om pedagogies verantwoordbare onderrig en leer te fasiliteer, en meertaligheid te bevorder.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het sterk teen die US se optrede kapsie gemaak en gaan klagtes by die menseregtekommissie en die taalregtekommissie aanhangig maak. ‘n Afvaardiging onder die leiding van die party-leier, John Steenhuisen, en die kiesafdelingshoof, dr. Leon Schreiber, het die kampus besoek om hulself van die feite te vergewis.
“Die probleem is duidelik sistemies en die krisis is vererger deur bewerings dat die universiteit van plan is om voortaan alle nuwe kursusse slegs in Engels aan te bied. Wat tans op Stellenbosch afspeel is ‘n skokkende oortreding van Afrikaanse studente se grondwetlike regte. Ten spyte van die universiteit se flou verskonings, blyk dit dat hierdie nuutste vergrype heeltemal in lyn is met die gees van die 2016 taalbeleid, wat Afrikaans as ‘n gelyke onderrigtaal naas Engels afgeskaf het,” het Schreiber in ‘n verklaring laat blyk.
“Ons doen ‘n beroep op hierdie grondwetlike instellings om die saak met dringendheid te ondersoek, aangesien hierdie kwessie van groot belang is vir ons Grondwet se strewe om ‘n nasie te bou waar diversiteit en meertaligheid as ‘n bate gesien word, eerder as ‘n las.
“Tot en met 2016 was Stellenbosch die laaste universiteit in die suidelike helfte van die land wat steeds onderrig in Afrikaans aangebied het. Na die 2016-besluit om Afrikaans as ‘n gelyke taal af te skaf, het vier miljoen Afrikaanssprekendes in die Wes- en Noord-Kaap nie meer toegang tot hoër onderwys in hul moedertaal nie. Dit is ten spyte van die feit dat Stellenbosch die vermoë het om in Afrikaans onderrig te bied – soos wat dit inderdaad vir meer as ‘n eeu lank gedoen het.
“Die aantal Afrikaanse studente neem af omdat Afrikaanse onderrig aanhoudend aangeval word, soos wat deur hierdie voorvalle bewys is. Hoe kan die universiteit verwag dat studente welkom voel op ‘n kampus waar hul geïntimideer en geviktimiseer word wanneer hul Afrikaans praat?”
Die DA gaan die veldtog ter verdediging van moedertaalonderrig op Stellenbosch verder verskerp en dring namens die miljoene Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap en Noord-Kaap daarop aan dat Afrikaans gelyk gemaak word met Engels aan die US en dat moedertaalonderrig uitgebrei word, nie aangeval word nie.
