Nuwe wynmaker sprei sy vlerke aan hoof van Stellenbosch Hills
Stellenbosch Hills het die opkomende jong wynmaker, Charl Myburgh, as deel van hul span aangestel. Charl bring ’n breë ervaringsveld van wynkelders wat op kwaliteit ingestel is, saam met hom. Behalwe sy eie pragtige kinders, sonder hy sy trotsste oomblik uit toe hy een van die span was wat in 2012 die SA Jong Wynskou se Generaal Smutstrofee ontvang het.
Charl se fokus in sy nuwe pos sal die voortsetting van sy voorganger, James Ochse, se werk én leiding aan die wynmaakspan by hierdie wynkelder in die Vlottenburg-distrik net buite Stellenbosch, wees.
Hy staan aan stuur van die wynkelder se vier hoof wynreekse: die toeganklike Polkadraai-wyne, Stellenbosch Hills, vat-verouderde rooiwyne en karaktervolle witenkelkultivarwyne, 1707, wat bestaan uit ’n Reserve Red-versnit en Reserve White, asook die Sense of Place terroir-spesifieke wyne.
Voor hy by Stellenbosch Hills aangesluit het, was hy senior wynmaker by die Waboomsrivier-wynkelder in die Breederiviervallei wat jaarliks sowat 16 500 t wyndruiwe geproduseer het.
Charl se beroep het hom wye ervaring laat opdoen by van Suid-Afrika se voorste wynkelders. Hy het sy loopbaan begin by Perdeberg-wynkelder, gevolg deur ’n kort tydjie by diei Simonsig-landgoed, voor hy oorgeskuif het na uniWines se Groot Eiland-kelder as rooiwynmaker. Hy het later onder dieselfde postitel by Nuy-wynkelder gaan werk.
In ’n sekere mate het sy aanstelling by Stellenbosch Hills sy kringloop voltooi. Die pad wat hom na die wynbedryf gelei het, het in sy matriekjaar saam met sy vriende begin met een onvergeetlike wynproereis om Stellenbosch en hy voeg by: “Dit het beslis ’n indruk gemaak.”
Sy ouers kom nie uit die wynbedryf nie. Sy ma was ’n verpleegster en sy pa het as bankier begin en later as skrynwerker gewerk. Charl en sy suster het in die Kaap se noordelike voorstede grootgeword.
“Ek het altyd geweet ek wou ingenieurswese of landbou gaan ontdek, so toe ek met die Universiteit Stellenbosch se opedag aan die wynkursus bekendgestel word, het ek geweet my besluit is geneem.”
Hy het later met ’n BSc Agric in wingerd- en wynkunde (gespesialiseerd) gekwalifiseer. Charl bring hulde aan ’n paar mense wat “regtig my manier van wynmaak en wingerd-praktyke verander het”.
“Oorlede prof. Eben Archer was ’n goeie familievriend en mentor. Ek het nie by hom klas geloop nie – ons groep het hom net misgeloop, maar het hom deur my skoonpa leer ken. Sy kennis was omvangryk, maar hy het steeds ’n wonderlike en nederige mens gebly.
“Vir die afgelope 10 jaar het ek met die wingerdboukundige, Pierre Snyman, gewerk, wat my alles wat ek oor wingerde weet, geleer het en in my eerste pos as kelderhulp by Perdeberg-wynkelder, het ek by Pieter Carstens geleer hoe om druk in ’n groot omgewing te hanteer.”
Charl sê selfs sy aanslag tot wynmaak het mettertyd gegroei tot groter volwassenheid. “Toe ek jonger was, wou ek groot, kragtige wyne met struktuur maak wat 20 jaar kon hou, maar met ervaring kom die waardering vir die strewe na die perfekte balans,” sê hy.
Sestien lede van ’n wye spektrum terroirs binne die Stellenbosch wyn-van-oorsprongdistrik, verskaf druiwe aan Stellenbosch Hills.
Die waardevolste les wat hy al deur sy loopbaan geleer het, was dat jy perspektief verloor wanneer jy kwaad is. “Haal diep asem en begin van vooraf. Moenie spekuleer nie, kry die feite agtermekaar,” sê hy.
Charl se stokperdjies en belangstellings as hy nie in die kelder staan nie, is uiteenlopend. Hy beskryf homself as “so ’n effense adrenalien-verslaafde”.
“Een van my lewenslange drome was om ’n vlieënier te word. Ek het tot by solovlugte gevorder, maar dit het net te duur geword om vol te hou. As ek ooit die lotto wen, sal ek beslis my privaat-lisensie wil verwerf!”
Charl is met Celeste getroud – die twee ken mekaar sedert gr. 1. Hulle het twee kinders, Leroux (10) en Amélie (8).
- Die Stellenbosch Hills se proelokaal is van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 17:00 en Saterdag van 10:00 tot 15:00 oop. Dis Sondag en openbare vakansiedae gesluit. Die kelder is by die R310- en Vlottenburgpad se kruising buite Stellenbosch geleë.
“Toe ek jonger was, wou ek groot, kragtige wyne met struktuur maak wat 20 jaar kon hou, maar met ervaring kom die waardering vir die strewe na die perfekte balans,” sê Charl.