Opwindende sportr- enkultuurnuus uit PRG
Riley in kollig
Paul Roos leerder, Riley Norton (17 jaar oud) het op 17 Maart op reis na Pretoria vertrek waar hy by ‘n span van 25 topkrieketspelers aangesluit om deel te vorm van die SA o.19 TAP-kamp (talent acceleration programme). Hier staan hy en 24 ander spelers die kans om gekies te word vir die o.19 Wêreldbeker-toernooi in 2024, sowel as ‘n toer na Bangladesh in Junie. Met dié dat Riley een van die jongste spelers is wat vir die kamp gekies is, is hy ‘n trotse verteenwoordiger van Paul Roos-krieket. Riley is ‘n groot inspirasie vir sy jonger spanlede met soortgelyke aspirasies.

Vyfkamp
Paul Roos spog met twee leerders wat uitmuntend gevaar het by die Wes-Kaapse provinsiale moderne vyfkampkampioenskappe wat Saterdag, 11 Maart gehou is.
Adriaan de Waard het ‘n goue medalje verwerf in die o.17-ouderdomsgroep waar hy in die volgende dissiplines deelgeneem en gekompeteer het: (1) hindernisbaan, (2) skerm, (3) swem en gekombineerde, (4) laserpistoolskiet en (5) hardloop. Adriaan het die vereiste aantal totale punte behaal om te kwalifiseer om aan die SA nasionale vyfkampkampioenskappe wat van 7 tot 8 April in Bloemfontein plaasvind, deel te neem.
Benjamin van Onselen (gr. 12) het op sy beurt ‘n goue medalje verwerf in die seuns o.19-ouderdomsgroep waar hy ook in dié vyf dissiplines deelgeneem het. Benjamin het ook gekwalifiseer deur die vereiste aantal totale punte te behaal om die Wes-Kaapse provinsiale span te verteenwoordig by die SA nasionale moderne vyfkampkampioenskappe in Bloemfontein.


E-sport
PRG se eSportspanne behaal groot sukses in die nuwe toevoeging ‘Fortnite’ tot die ASL Liga (African Cyber Gaming Schools League). Die PRG-spanne het drie uit die vier ‘Victory Royals’ (laaste span om te oorleef) gewen. Die skool spog met nege eSport-spanne en kompeteer in die liga teen net oor die 50 deelnemende skole. Met die bogenoemde tellings in ag genome, staan die PRG Fortnite B-span ‘n baie goeie kans om die liga te wen. Die B-span bestaan uit Martin Odendaal, Zac Pole yen John Jansen. PRG se eSport-spanne werk hard om hul wentitel te verdedig by Comic Con Kaapstad in April. Hulle het weggestap as algehele wenners na afloop van Comic Con Africa (2022) in Johannesburg.
Skaak
Op 25 Februarie het die Kaapse Wynlandskaakproewe in De Doorns plaasgevind. Meer as 100 skaakspelers het in drie ouderdomsgroepe deelgeneem. Altesaam 17 Paul Roosers het deelgeneem en almal vir die finale rondte gekwalifiseer. Op 11 Maart het die finale Kaapse Wynlandproewe in Wellington plaasgevind. Tien PRG skaakspelers het Bolandkleure verwerf en is gekies om die Kaapse Wynland by die Wes-Kaapskaaktoernooi van 30 Maart tot 2 April te verteenwoordig. Die 10 spelers is:
o.19: Alexander van der Merwe, Markus Nel
o.17: Cheslin Palmer
o.15: Walt Louw, Ben Louw, Wagheed Rosenberg, Jason Wu, Ethan February, Christoff Bester en Cronan Willis.
Kultuur
PRG Europese uitruilprogram
Na die pandemie en reisbeperkings, is dit opwindend om te sien hoe die Paul Roos Europese uitruilprogram weer lewe kry. Leerders van Gabriel von Seidl in Duitsland het vroeër die jaar by Paul Roos Gimnasium kom kuier. In Maart en April is dit Paul Roos-leerders se beurt om die onbekende in te vaar deur drie van Paul Roos se vennootskole in Duitsland, Frankryk en Nederland te besoek. Die uitruilgroep bestaan uit 23 leerders en sal vergesel word deur die rektor, Andre van Staden, en twee Paul Roos-onderwysers. Die groep het op 23 Maart vertrek sal drie onvergeetlike weke in Europa spandeer voor hulle op 15 April terugkeer na Suid-Afrika. Die leerders word deur families in dié drie lande gehuisves, sal die vennootskole besoek en op verskeie ekskursies gaan, waar hulle die geleentheid sal geniet om nuwe vriende te maak en verskillende kultuurervarings te beleef.

Interskole debat
Die tweede PRG interskole onvoorbereide debatte het op 18 Maart plaasgevind. Paul Roos se drie senior spanne het uitstekend gevaar en wen hul debatte teen Parel Vallei en Durbanville. Dirkie Aldrich en Steffan Thielen is as die beste sprekers aangewys. Die tweede juniorspan bestaande uit
Altus de Villers, Zach Geldenhuys en Johan Smuts wen ook hul debat oor: “Geloof in skole moet beoefen word”, teen Parel Vallei. Altus de Villiers is ook aangewys as beste spreker. Die Paul Roos interskole debatsliga duur voort in die tweede kwartaal.

