Vooraanstaande landbou-ekonoom kry US-eregraad
Die vooraanstaande landbou-ekonoom, dr Uma Lele, is met ‘n eregraad deur die Universiteit Stellenbosch (US) by sy Maart-gradeplegtigheid vereer. Sy het die graad Doktor in die Natuurwetenskappe in Landbou (DScAgric), honoris causa, Dinsdag by die gradeplegtigheidseremonie vir die fakulteit agriwetenskappe ontvang.
Lele, afkomstig van Indië, is vereer vir haar visionêre leierskap in die teorie en praktyk van landelike ontwikkeling wêreldwyd en haar werk om openbare beleid deur streng empiriese navorsing te beïnvloed.
Sy is ’n leier op die terrein van ekonomiese ontwikkeling. Hierdie onafhanklike vakkundige en ontwikkelingsekonoom het oor vyf dekades ryke ervaring in navorsing, bedryf, beleidsontleding en evaluering by die Wêreldbank, universiteite en internasionale organisasies opgedoen.
Lele is konstant aan die voorpunt van nuwe ontwikkelings in die teorie en beste praktyk van landelike ontwikkeling, en bevraagteken voortdurend die status quo en versit grense in haar soeke na ’n sinvoller pad na ontwikkeling. Haar werk word gekenmerk deur ’n konstante poging om openbare beleid deur streng empiriese navorsing te beïnvloed.
In haar tyd by die Wêreldbank was Lele aan die stuur van evaluerings van die Wêreldbank se woudstrategie, sy raadplegende groep oor internasionale landbounavorsing, en sy benadering tot wêreldwye programme. Sy het al in etlike advies- en deskundige panele vir internasionale organisasies gedien, waaronder vir die program Sasakawa Global 2000 en die Wêreldvoedselprys. Daarbenewens was Lele medevoorsitter van ’n taakgroep vir wêreldwye navorsing oor die verband tussen landbou en die omgewing en het sy die globale ontwikkelingsinisiatief van die Carter-sentrum en Carnegie-korporasie op die been gebring en bestuur.
Lele is die eerste vroulike ontvanger van ’n PhD in landbou-ekonomie van Cornell-universiteit.
