Room van kaasmakers nou onder soeklig

Meer as 900 produkte beoordeel vir 2023-SA suiwelkampioenskappe

Die room van suiwelkenners in die land het onlangs in Durbanville byeengekom vir die beoordeling van die 190ste Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe, die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika.

Altesaam 929 produkte van 71 Suid-Afrikaanse suiwelvervaardigers het oor twee dae van Donderdag 20 April tot Vrydag 21 April 2023 by Eensgezind Onthaallokaal om die aandag van tagtig beoordelaars meegeding. Die wenners van die gesogte SA Kampioen-, Qualité-, en Produk van die jaar-toekennings sal op Donderdag 25 Mei 2023 tydens die SA Suiweltoekennings, ook by Eensgezind, aangekondig word.

Volgens Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo, wat sedert 1834 die kampioenskappe aanbied, is dit ‘n voorreg om die 190ste herdenking van hierdie prestige-landbougeleentheid te vier. “Dit is ‘n eer om hierdie nalatenskap te kan voortsit,” sê Milford. “Ons is trots daarop om saam met bedryfrolspelers ‘n maatstaf vir uitnemendheid in die suiwelbedryf daar te stel, asook om erkenning aan presteerders te gee.”

Die internasionale beoordelaar Gaëlle Lettier Buchhorn was beïndruk met die gehalte en verskeidenheid van die inskrywings. “Dit is my eerste besoek aan Suid-Afrika, en ek is aangenaam verras met die diversiteit van suiwelprodukte in julle land,” sê Buchhorn, ‘n suiwelkenner wat in Denemarke by Chr.Hansen, ‘n internasionale biowetenskapmaatskappy wat natuurlike bestanddele aan melkerye verskaf, betrokke is. “Die gehalte wissel van goed tot baie goed, met uitstekende produkte wat gelykstaande is aan die gehalte wat ons in Europa kry.” Buchhorn het vir die eerste keer amasi geproe en suiwelvervaardigers aangeraai om aan te hou innoveer: “Julle is op die regte pad deur die uitstekende natuurlike bestanddele wat julle beskikbaar het, te gebruik om wonderlike Suid-Afrikaanse produkte te maak.”

Vanjaar se kampioenskappe is gekenmerk deur strawwe mededinging, volgens hoofbeoordelaar Alan Fourie. “Ons het goeie belangstelling van vervaardigers gehad, met meer as 500 inskrywings van kaas,” verduidelik Fourie. “Ons is trots op elke vervaardiger wat hulle produkte teen die bestes in die land wil meet, aangesien hierdie kampioenskappe ‘n soeke na uitnemendheid deur elke vervaardiger behels. Almal wil graag ‘n toekenning ontvang om te bewys dat hul produkte as uitmuntend beoordeel word. Die kampioenskappe moedig ook innovasie aan, en soos altyd het ons vanjaar weer uitstekende nuwe vervaardigers én nuwe produkte ervaar.”

Volgens Fourie lê die waarde van die SA Suiwelkampioenskappe in die impak daarvan op die suiwelbedryf oor die afgelope 190 jaar, naamlik om vervaardigers te motiveer om die beste moontlike suiwelprodukte te maak. “Dit is ‘n prestasie, veral ook op die gebied van sensoriese opleiding aangesien die kampioenskappe ‘n platform skep waar beoordelaars ervaring kan opdoen om kundiges te word, soos die 17 nuwelingbeoordelaars wat ons vanjaar betrek het,” sê Fourie, wat self meer as 40 jaar ondervinding in die sensoriese evaluering van suiwelprodukte het.

Die SA Suiwelkampioenskappe en SA Suiweltoekennings word deur Agri-Expo aangebied in vennootskap met die platinumvennoot Synercore, diamantvennote Chr.Hansen en IMCD SA, goue vennote Woolworths en die Wes-Kaapse Departement van Landbou, silwervennote Condio en Pick n Pay, sowel as brons vennote Orchem, Mane, en AECI Food & Beverage.

Van links na regs is Breyton Milford (hoofbestuurder van Agri-Expo), Gaëlle Lettier Buchhorn (internasionale beoordelaar en suiwelkenner van Chr.Hansen in Denemarke), dr. Ivan Meyer (Wes-Kaapse minister van landbou) en Robyn Bolters (produkontwikkelaar en nuwelingbeoordelaar) tydens die beoordeling van die 190ste SA Suiwelkampioenskappe. Foto: A Gorman Photography

Hoofbeoordelaar Alan Fourie en Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, tydens die beoordeling van die 190ste SA Suiwelkampioenskappe, wat van Donderdag 20 tot Vrydag 21 April 2023 by Eensgezind, Durbanville, deur Agri-Expo aangebied is. Foto: Natalie Gabriels Photography
Die room van suiwelkenners in die land het onlangs in Durbanville byeengekom vir die beoordeling van die 190ste SA Suiwel-
kampioenskappe, die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika. Hier is die paneel van kaas- en botterbeoordelaars. Foto: Natalie Gabriels Photography
Die paneel van melk-, joghurt-, roomys- en ander suiwelproduk-beoordelaars. Foto: A Gorman Photography

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!