Meer as 400 produksies vanjaar te sien
Die 2024 Toyota Stellenbosch Woordfees bot, blom en bruis dié lente uit met meer as 400 unieke produksies wat in nagenoeg 60 venues in en om Stellenbosch aangebied word. Die fees vind vanjaar van 28 September tot 6 Oktober in die Eikestad plaas.
Die 2024-program bied aan feesgangers die geleentheid om met oorgawe uiting te gee aan ’n eie spontaneïteit, wat gestalte gee aan vanjaar se feestema – Speel.
“Speel ontsluit nuwe moontlikhede, dit ontdek wêrelde, en dit plaas jou op ’n ongebreidelde plek waar jy net in die oomblik kan wees,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees.
“Om te kan speel moet jy die pause-knoppie druk – halfgebak speel is kroek. Speel vra totale oorgawe, verbeelding, en gewoonlik maats. Speel is ’n dans met die werklikheid, van ’n wêreld wat is, maar ook ’n wêreld wat word. Waar ander reëls geld, waar die onmoontlike haalbaar en selfs moeiteloos word.”
Daar is 12 afdelings op die program: die EasyEquities Skrywersfees, Dans, Diskoers, Filmfees, Kinderfees, Klassieke Musiek, Komedie, Leefstyl, Toneel, Toyota Musiekfees, Visuele Kuns en die WOW-fees.
Die volledige program is nou op woordfees.co.za beskikbaar waar ’n PDF van die feesgids in Afrikaans en Engels afgelaai kan word. Die gratis gedrukte feesgids is vanaf middel Julie by die Woordfeeskantoor in die Erfurthuis (Ryneveldstraat 37, Stellenbosch) te kry, en ook by verskeie biblioteke, boekwinkels, toeristeburo’s en gastehuise in die Wes-Kaap.
Program
EasyEquities Skrywersfees
Die Stellenbosch Woordfees het 24 jaar gelede as ’n boekfees begin en die EasyEquities Skrywersfees is steeds ’n hartkamer van die program met 63 aanbiedings: Van boekpraatjies en voorlesings deur van die land se voorste woordpaljasse, tot woordspeletjies en open-mic-sessies.
Daar word ook aan die hand van boeke en die onlangse verkiesing kopstukke gesels oor politiek:
Die joernalis Pieter du Toit en regsgeleerde en sakeman Oyama Mabandla bespreek die herontdekking van die waardes wat onder onmoontlike omstandighede ’n konstante vloei van Suid-Afrikaanse pioniers voortgebring het, en die langtermyn-uitwerking van kaderontplooiing. Waldimar Pelser vra die skrywers uit oor hulle boeke The Super Cadres: ANC Misrule in the Time of Deployment en Soul of a Nation: A quest for the Rebirth of South Africa’s Values.
Gedigte is gemaak om gehoor te word. In Asem deur die oor bring drie digters vir luisteraars die gawe van hulle beste woorde in die beste volgorde – ’n soort offerande vir die oor. Danie Marais lees uit Ek en jy bestaan nie, Lynthia Julius blaas asem in die beeldryke Noord-Kaapse Afrikaans van Kinderlê, en die rubriekskrywer André le Roux ontbloot sy digterlike sy met ’n voorlesing uit Liefde en verset. Bibi Slippers speel gasvrou terwyl die digters met die ore toor.
Digters voel gereeld die behoefte om oor die liefde te skryf, maar dalk is dit tyd om eerder liries te raak oor die (dikwels meer betroubare en langdurige) liefde tussen vriende. Twaalf digters, onder wie Loftus Marais, Jolyn Phillips en Jaco Barnard-Naudé, kom elkeen met twee verse oor vriendskap na die partytjie. Is vriendskap inderdaad een siel in twee liggame, of eenvoudig die een siel wat daar sal wees wanneer jou wiele afkom?
Diskoers
Op die diskoersprogram is 54 gesprekke, waar alles van landbou, politiek, studentelewe, finansies, musiek en sake-invloed onder die loep kom.
Op die Netwerk24-gespreksreeks lei dié publikasie se politieke redakteur, Gert van der Westhuizen, en die TV- en radioaanbieder Lynette Francis-Puren aktuele gesprekke.
Toneel
Die toneelaanbod is vanjaar weer stewig met 36 aanbiedings, waarvan 13 produksies op die fees debuteer.
Onder die nuwe produksies tel die bekroonde regisseur Christiaan Olwagen se verwerking van die Noorse dramaturg Henrik Ibsen se drama Hedda Gabler. Dit word beskou as ’n meesterstuk in die realisme en moderne teater, en die titelkarakter as ’n vroulike weergawe van Hamlet.
Die teaterdoyen Marthinus Basson se debuutkomedie Kruispad of die legende van die goue vis, is ’n vertaling van die Estlandse skrywer Jaan Tätte se magiese sprokie oor die grense van liefde, verraad en die mag van geld. ’n Jong paartjie staan gestrand langs ’n hoofweg en besluit om skuiling teen die snerpende koue in ’n afgeleë hut in die woud te soek.
Die veelbekroonde eenvrouvertoning Isidlamlilo / The Fire Eater met Mpume Mthombeni vertel die storie van ouma Zenzile Maseko wat met God praat oor die ongelooflike gebeure in haar lewe. Maar sy is g’n gewone ouma nie: Sy is destyds deur die IVP gewerf en was een van die mees gevreesde sluipmoordenaars in die aanloop tot die 1994-verkiesing.
Wat ’n begin vir David Elridge se drama ’n Begin wat op die fees debuteer met Cintaine Schutte en Carel Nel onder regie van Tinarie van Wyk Loots. Dis die vroeë oggendure in die nadraai van haar (Cintaine Schutte) nuwe woonstel se daknatmaak. Hy (Carel Nel) is die laaste oorblywende gas. Die woonstel is ’n gemors en hulle ook…
Die regisseur Lara Foot fokus in haar internasionaal bekroonde verwerking van die tragedie Othello op dié karakter se innerlike lewe. Dié eg Suid-Afrikaanse produksie word in Engels, Afrikaans en Xhosa opgevoer met o.a. Atandwa Kani (Othello), Albert Pretorius (Lago) en Carla Smith (Desdemona).
In Speelgoed van glas is Nico Scheepers regisseur, vertaler en ontwerper in dié nuwe produksie van Tennessee Williams se tydlose meesterstuk The Glass Menagerie. Ontknoop die fyn web van liefde en verlies, gespin deur ’n matriarg (Anna-Mart van der Merwe) om haar gesin tot elke prys bymekaar te hou – en hoe graag elkeen van hulle wil ontsnap.
Suurdeeg speel af In die konserwatiewe omgewing van Namakwaland waar twee amper-skoonsusters probeer uitpluis wat hulle doel as vroue in die lewe is. Anna (René Cloete), wat reeds tien jaar met Ouboet Gert getroud is, raak verlief op haar swaer se meisie, Emma (Jodine Ockers), wat vir die eerste keer sonder Klein-Johnietjie op die plaas Besondersmeid is.

Monsters is die transkripsie van die ondervraging van twee tienjarige seuns nadat die tweejarige Britse seuntjie James Bulger in 1993 verdwyn het. Tinarie van Wyk Loots het die Sweedse dramaturg Niklas Rådström se stuk eksperimenteel vertaal. Sy is ook die regisseur. Die rolle, vertolk deur Michele Burgers, Elton Landrew, Ntlanhla Kutu en René Cloete, word om die beurt in ’n voorleesstyl opgevoer en die tekste aan die begin van elke toneel onder die spelers uitgeruil.
Kyk twee toneelstukke vir die prys van een met Double Trouble: Bettie innie selle & Chronicles vannie Lavis!
Hoe het dit gebeur dat die vooraanstaande antie Bettie (Dean John Smith) al in hegtenis geneem is, en hoe het sy dié volle 21 minute in ’n aanhoudingsel saam met geharde misdadigers oorleef? Kom luister as Bettie eerder vertel hoe die arme misdadigers onder haar skerp tong deurgeloop en dit oorleef het! Gantane Kusch is die regisseur en Dean John Smith die skrywer.
Beleef ’n tale queen op ’n mission. Moenie ’n fout makie: Sy issie a fairy nie. Moet oekie dink sy is fair nie. Sy is vannie Lavis.
Die drama Gas volg die karakter Dawid (Elton Landrew) wat ná 15 jaar terug keer na Alexanderbaai met ’n belangrike opdrag. Hy moet toesien dat die gemeenskap van sy grootworddorp goedkeuring gee vir ’n staatsprojek wat die hele Suid-Afrika gaan raak.
Ook op die toneelprogram te sien is die gewilde eenmanvertoning Reünie, waarin Frank Opperman terug is in sy Fiësta-bekroonde rol. En in die lagstuk Marion Monroe bepeins die merkwaardige Marion Holm die waarde van ’n naam.
Dans
Daar is drie uitgesoekte aanbiedings op die dans-program, wat ’n geleentheid bied om die baanbreker Gregory Maqoma se uittreevertoning, Exit / Exist te sien. Hy vier ook sy 50ste verjaardag met hierdie sensitiewe stuk wat die nalatenskap van hoofman Jongumsobomvu Maqoma (1798-1873), een van sy voorouers, verken.
Die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy beloof om gehore te betower met hulle nuutste dansproduksie, Hollywood. Gaan op reis deur Hollywood se mees geliefde genres met werke van die land se voorste choreograwe.
Die Figure of 8 Dance Theatre-geselskap se bekroonde produksie Set in Motion ondersoek die interne en eksterne kragte wat ons in teenoorgestelde rigtings trek en ons soms verhinder om voluit te leef, en fokus op die onverwagte kronkels en draaie wat ’n mens vasgevang laat voel. Dit het die KKNK se Herrieprys vir grensverskuiwende werk gewen.
Komedie
Van die land se grootste grapmakers bring vars vertonings na die program. Marc Lottering en Alfred Adriaan snoer kragte saam om hulle beste materiaal van die laaste paar jaar na die Toyota Stellenbosch Woordfees te bring. Albei dié grapmakers lok gereeld volgepakte teaters – plaaslik én internasionaal.
Met Nik Rabinowitz: Pension Killer kan jy jou oorgee aan ons skreeusnaakse wêreld soos gesien deur die oë van dié semi-heldhaftige komediant en selfverklaarde bokfluisteraar.

In AfriSnaaks neem Wayne McKay jou op ’n wipwarit deur die unieke humor, speelse nuanses, omgangstaal en absurditeite van Afrikaans wat jou sal laat lag totdat jy huil, belowe die akteur-regisseur Jeremeo Le Cordeur.
Die Kinderfees bestaan uit sewe aanbiedings wat groot, leersame vermaak en plesier vir die kleinspan en hul ouers belowe.
Laasjaar se Woordtrofeewenner vir beste prestasie in kinderteater, The King of Broken Things met Cara Roberts, is weer te sien. Gaan op ’n magiese, avontuurlike verkenning van die regmaak van dinge wat gebreek en weggegooi is – ook harte.
Michael Taylor-Broderick is die skrywer en regisseur.
Musiekfees
Ook die Toyota Musiekfees het aansienlik uitgebrei met 57 aanbiedings – van stadiongrootte tot klein en intiem, kry jy alles van opelugkonserte by die Jan Marais-natuurreservaat tot a capella, musiekteater en -komedie, ’n heildronk op Afrikaanse musiek, kabaret, en uitgelate optredes met jazz, rock, hip-hop en pop.
Tussen die vyf groot opelugkonserte, is daar ’n bekostigbare kaartjie vir elke kontemporêre smaak: Ricus Nel, Neon Dreams, Matthew Mole, Emo Adams & Dr Victor and the Rasta Rebels, en ’n country-pop-fees wag wanneer BlackByrd en Elandré hande vat.
Amanda Strydom vertel ’n storie van hoop, wonderlike avonture, selfontdekking, en oplaas tuiskoms na jou komvandaan in haar musiekteaterstuk The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder.

Op haar album Spoorsny verken Frieda van den Heever die landskap van die lewe en dood – en alles tussenin.
KFilms en e.tv bied met trots aan Kelders se geheime, waar alles “met ’n klein bietjie wyn” gebeur. Die Soebatsklowers se vele talente kom uit die kelder en in die kollig: Kom beleef jou gunstelingkarakters in ’n ander baadjie. Stefan Lombard is die musiekregisseur met choreografie deur Rushney Ferguson.
Die ikoon Koos Kombuis hou sy vyande naby. Sy aweregse en uitgesproke gedrag het oor die jare tot vele vetes en vyande gelei, maar die strydbyle is een vir een begrawe soos hy gryser en wyser geword het (of dalk nie). Kom luister wie het die toets van die tyd deurstaan wanneer musieklegendes soos Anton Goosen, Valiant Swart, Gert Vlok Nel en lede van die Gereformeerde Blues Band en die Warmblankes by hom aansluit in Koos Kombuis en vyande. Selfs sy beroemde “Lisa” gaan vir die eerste keer saam met Koos kom klavier speel. Schalk Joubert is die musiekregisseur.

Die Sama-bekroonde afro-soul-jazzmusikant Mandisi Dyantyis bring vibes en begeesterde klanke na die Bos.
Emo en Loukmaan Adams het Suid-Afrikaners se harte verower die oomblik toe hulle die vermaaklikheidswêreld betree het. In Two of a Kind wip die broers ’n vertoning op saam met kunstenaars wat hulle geite verstaan.
Klassieke musiek
Simfonie, styl en smaak. Op ’n uitgebreide klassieke musiek-program, is daar is 29 aanbiedings om van te kies wat ’n ryke verskeidenheid bied ten opsigte van styl, benadering en uitgevoerde werke. Dit sluit ’n eeufeesviering van George Gershwin se bekendste werk, die Rhapsody in Blue deur die bekroonde Charl du Plessis-trio in.
Die talentvolle jong pianis Mike Wang voer ook ’n solo van die Rhapsody in Blue uit in American Rhythms – ’n veelbelowende musikale reis met die Wynland Filharmoniese Orkes o.l.v. Reghardt Kühn.
Die Schöpfung (Die skepping) gee ’n eietydse kleur aan Haydn (1732-1809) se oratorium – die produk van die komponis se kennismaking met G.F. Handel se Messias in Londen. Die teks is gegrond op die Duitse vertaling van die digter John Milton se gedig “Paradise Lost” en verklank die skeppingsverhaal soos dit in Genesis opgeteken is. Die vyf soliste in dié uitsoekproduksie is van Duitsland en Suid-Afrika
In Horizons bied die bekroonde Kaapstadse Operakoor uiteenlopende musiekstyle aan – van tradisionele Afrikaliedere tot werke uit operas deur verskillende komponiste.
In ’n opwindende program wat van 1 klavier tot tien klaviere – en 20 pianiste – beweeg, word nuwe betekenis gegee aan die begrip “speel”. In Klavier-extravaganza verskyn groot plaaslike name van klassieke musiek met nog 14 jong, opkomende pianiste. Nina Schumann, bekroon in dié dissipline, is die vervaardiger en musiekregisseur.
In Paranoid Android verras ’n eklektriese sekstet met ’n konsert van 20ste eeuse musiek. Op die program is komposisies van onder andere Arnold Schoenberg, Guillaume Connesson, Alban Berg, Radiohead en Kathleen Tagg. Die sekstet bestaan uit Magdalene Minnaar (stem), José Dias (klavier), Petrus Coetzee (viool en altviool), Peter Martens (tjello), Gabriele von Dürckheim (fluit en piccolo) en Féroll-Jon Davids (klarinet en basklarinet).
Die bekende Wits-trio bied hul eerste vertoning by die Stellenbosch Woordfees aan met werke van Mozart, Brahms en Arno Babajanian. Die lede is Zanta Hofmeyr (viool), Susan Mouton (tjello) en Malcolm Nay (klavier) wat al 15 jaar saam musiek maak.
Die geliefde Universiteitskoor Stellenbosch se vertonings fokus op kultuurskatte van reg oor die wêreld. Gehore kan hulle regmaak vir ’n program propvol nuwe koorkomposisies en verwerkings, met nuwe a cappella-weergawes van onder meer “The Crossing” (Johnny Clegg) en “Blou” (André Swiegers). André van der Merwe is die dirigent.
Die Kaapse Baroktrio verken verskeie instrumentale verteltegnieke uit die Barok-era. Die praktyke uit dié tydperk van affeksie, retoriek, allegorie en simboliek word in Narratives gedemonstreer met die gesoute barokinstrumentaliste wat werke deur Arcangelo Corelli, Heinrich Biber, Georg Philipp Telemann en Antonio Vivaldi uitvoer, sowel as ’n innoverende nuwe komposisie vir barokinstrumente deur Antoni Schonken.
Peter Martens lei ’n ensemble van sewe Kaapse tjelliste en die jong Koreaanse tjellis Gunwoo Park, wenner van die Internasionale tjellokompetisie in Italië in 8 Cellos in Concert. Die konsert vorm deel van ’n reeks wat vir www.artmusic.tv opgeneem en deur RSG uitgesaai sal word.
Visuele kuns
Die kanvas pryk kleurvol op die Visuele Kuns-program met 45 aanbiedings: Van uitstallings en rondleidings, tot ateljeebesoeke by kunstenaars soos Ingrid Winterbach en Paula van Coller, ’n Picasso in die vertoonkas en vele meer.
Vanjaar se feeskunstenaar is die skilder en kleibeeldhouer Marlene Steyn.

Die jaarlikse kunsuitstalling en -veiling van die Toyota Stellenbosch Woordfees, in samewerking met Strauss & Co, vind vir die duur van die fees aanlyn in die Stellenbosse stadsaal plaas. Teresa Lizamore is die kurator van die uitstalling. Die kunswerke waarop vanjaar gebie kan word sluit werke in van gevestigde én opkomende kunstenaars
Leefstyl
Die 2024-fees open weer amptelik aan die gesellige Langtafel onder die bottende eike, tussen die pragtige ou geboue van Ryneveldstraat. Die kinkelkok Johnny Hamman sorg vir feestelik kos wat alles oor ’n braaivuur voorberei word. Kaartjies na die Langtafel op 29 September kos R1 200, met ’n afslagprys van R1 000 as jy voor 1 Augustus jou plek vas maak. Dit sluit ’n driegangete in en gaste word begroet met ’n glas wyn of borrels met die komplimente van Alto-wynlandgoed, Blaauwklippen, Dorp St Wine en Spier. Bespreek vroegtydig jou plek aan dié geliefde tafel.
Daar is 30 ander aanbiedings op die Leefstyl-program waarmee jy jou lewenslus kan verfris: Stap, draf, tuin- en kunskyk, kookdemonstrasies, argitektuurtoere, en alles wat die wynlande te eet en drink kan bied.
Nuut, verniet, goedkoop
Die ekonomie druk oral en dit was dus vir die feesbestuur ’n prioriteit om feesgangers vanjaar toegang tot soveel gehalte-aanbiedings moontlik te gee.
Die Toyota-pendeldiens en gratis parkering bied ’n oplossing vir die parkeerplekskaarste in Stellenbosch. Die pendeldiens bied vervoer na alle venues en kos slegs R20 per rit, R50 per dag en R150 vir die duur van die fees. Bussies pendel vanaf die parkeerterreine regoor Rhenish Girls’ High in Kochstraat en by die Oude Libertas-amfiteater.
Die visuele kuns- en diskoersprogramme is grootendeels gratis, met enkele aanbiedings wat iets kos.
Die Filmfees gedy met 49 speel-, kort- en musiekfilms, ’n minireeks, dokkies en meer. En dit wissel van gratis tot bekostigbare fooie van R60 en R70.
Feeskern
Die Stellenbosch Woordfees groei organies en vir optimale benutting van ruimte lyk die feeskern in 2024 anders as die afgelope paar jaar:
Ryneveld- en Victoriastraat word die hoofstrate van die fees. Die EasyEquities-boektent en US Museum-anneks huisves vanjaar die grootste deel van die EasyEquities Skrywersfeesprogram.
Volwassenes kan hulle innerlike kind uitleef in die Woordfees-speelkamer by die US Museum-vierkant. Hier kan jy touspring, blokraai en woordsoek speel, somme maak en vele meer.
Daar is ook ’n gesellige restaurant met onder meer koffie en heerlike roosterkoek by Die Plataan agter die US Museum.
.