Peter Garbriel se WOMAD vanjaar by Woordfees
In samewerking met Toyota Stellenbosch Woordfees en die US departement van musiek word die World of Music, Arts and dance tydens vanjaar se Woordfees aangebied.
Sonografie: Grepe in Roots en Blues.
Woensdag 2 Oktober 16h00, Fismer Saal, SU Konservatorium.
WOMAD “World of Music, Arts & Dance” is in 1982 deur Peter Gabriel gestig. Sederdien het hierdie organisasie se ryk etos van lokaliteit, globale ritmes en klanke gereis na miljoene in meer as 32 lande.
WOMAD SA 2024 se konserte en aktiwiteite sal vanaf 1 tot 13 Oktober in Kaapstad, Stellenbosch en Johannesburg gehou word.
WOMAD SA is trots daarop om vir die eerste keer saam met die Woordfees ‘n spesiale konsert met die titel Sonografie: Grepe in Roots en Blues aan te bied. Dié produksie is ‘n verkenning in klank en musiek van storievertelling en vraagstelling. In hierdie produksie vertel kunstenaars stories in en deur klank, aan die hand van instrumente, musikale idiome en die herinneringe wat hulle ontketen: uhadi, Khoe-klanke, onbegeleide stem en Mississippi blues. Hul vrae is ‘n teken van hoop: hoe luister ons opnuut, met nuanse en kompleksiteit? Met Iskwew Singers (Kanada-stemme), Joep Pelt (Nederland – Dobro resonatorkitaar en stem), Ncebakazi Mnukwana (stem en Uhadi) en Garth Erasmus (Khoe-instrumente en saksofoon).
Garth Erasmus, wat onder andere die Ghôrrah (kalbasboë), mondboë en Eoliese pype gaan speel vertel: “Die instrumente wat ek speel verteenwoordig die fisiese manifestasie van my reis van selfontdekking. Dit is instrumente wat ek as jongman sedert die middel 80’s self gemaak en gespeel het. Hulle verteenwoordig my gehegtheid aan my inheemse (KhoiSan) wortels en tree op as ‘bewys van bestaan‘ van hierdie eerste nasie-wortels, ten spyte van al die historiese pogings om die teenwoordigheid daarvan uit ons samelewing uit te wis, deur die gekombineerde vernietigende kragte van veelvuldige eras van kolonialisme en, uiteindelik, apartheid. Ek glo die klankfrekwensies wat deur hierdie instrumente gemaak word, het die krag om vergete herinneringe wakker te maak wat dormant in die kollektiewe onbewuste sluimer. Dit het die krag om ons op verbeeldingryke ontdekkings te neem.”
“Ek het hierdie produksie benader met ‘n konsep: ‘n bewuste poging om musiek nie te reduseer tot die gerieflike cliché van sosiale harmonie nie, en om deur klank moontlike toekoms te verbeel en dalk selfs te aktiveer. Deur improvisasie en stelstukke sal hierdie produksie uiteenlopende klankwêrelde verken en/of skep, aangesien ons op soek is na onverwagte punte van oorvleueling, sinchronisasie, spanning en moontlike nuutskeppings deur klank” sê dr Carina Venter, akademikus en senior lektor by die US departement musiek, en een van die regisseurs van die Sonografie-produksie (die ander regisseurs is dr Antoni Schonken en Arthur Feder).
Sluit aan by hierdie dinamiese musici vir ‘n middag van buitengewone musiek-storievertelling. Meer inligting en kaartjies:https://woordfees.co.za/en/program/sonografie-grepe-in-roots-en-blues/
Video:
Joep Pelt op ‘slide’ kitaar: https://www.youtube.com/watch?app=desktop&v=aawzLjaUQu8
Vir die volledige WOMAD SA program gaan na: www.womadsa.co.za