“Dié boek moet verfilm word” – Johnathan Amid
Martin Steyn word as een van Suid-Afrika se beste fiksie misdaadskrywers beskryf en Donker Water, alhoewel sonder raaisels, stel nie teleur nie.
Na ses jaar van stilte het Steyn pas sy vyfde boek bekend gestel. Die Stellenbosch-bekendstelling het op ’n reënerige Woensdagmiddag, 18 September, by die Oude Leeskamer plaasgevind. In gesprek met Steyn oor Donker Water was die bekende resensent Johnathan Amid.
Amid, ook bekend as manuskripontwikkelaar, keurder vir uitgewers, en skryfkonsultant, het aan Steyn vrae gestel oor sy nuutste manuskrip. Hy wou eerstens by die skrywer weet waarom hy ’n ses jaar stilte geneem het. Steyn het verduidelik dat hy effens uitgebrand gevoel het na sy laaste boek, Losprys, wat baie tegniese vernuf vereis het. Hy het voorts gesê dat hy ook: “…moeg was vir die polisie.” Steyn sê dat hy in die tyd dinge gedoen het wat hy al lankal wou en het ook aan ‘n gesinsdrama gewerk.
Amid het Steyn geprys oor sy uitstaande karakterisering en gesê dat sy karakters subtiel sterk is en selfs die stiller karakters se rolle uitstaan.
“Hulle is die spilpunt van die storie en kruip in die leser se hart in, dit wat met hulle gebeur en wat hulle ervaar. Hulle is onvoorspelbaar en die leser leer hulle ken deur die boek se uitstekende dialoog.”
Steyn is bekend vir sy intensiewe navorsing wat egtheid en geloofwaardigheid aan sy stories bring. Hy skryf dit toe daaraan dat hy na mense se stories luister en hierdie stories juis die stem van sy karakters is.
“Die dialoog stem uit navorsing en onderhoude, die mense se stories, stories en gebeure waarvan niemand weet, hulle persoonlikhede en hoe hulle praat .”
Donker Water is ‘n ‘duikboek’ en iets wat Martin al lankal wou doen. Hy moes sy navorsing staak met die uitbreek van Covid en kon uiteindelik sy werk aan Donker Water voortsit om die produk te lewer wat op elke Steyn-aanhanger se bedkassie hoort.
Alhoewel die slagoffers en duikers in Donker Water fiktief is, is die duikers se werk, hulle ervarings en omstandighede nie en sê Steyn:“… ek het dit probeer skryf soos dit is en verskillende situasies gekies sodat die beskrywings verskil.”
Die vryheid van fiksie, Steyn se skryf vernuf en ware stories was die resep vir Donker Water. Ten spyte daarvan dat Donker Water afwyk van Steyn se norm van misdaadraaisels, is daar geen tekort aan spanning in Donker Water nie. Selfs sonder ‘n moord om op te los skep Steyn ‘n storie waarin die leser nie werklik weet waarheen die karakters oppad is nie. Donker Water beeld die duiker se ervaring multi-dimensioneel uit:“… stadig en met min moeite,” vertel Steyn.
Amid het voortgegaan om te sê dat die storie roerend, mooi en teer geskryf is. Sy laaste woorde aan Steyn was dat hierdie boek se standaard ontsettend hoog is. “He just gets it. Alles vul mekaar aan en die humor skep ‘n lekker teenpool.”

Na ‘n opmerking uit die gehoor dat Steyn se werk aweregs is, het hy geantwoord dat: “… ek hou van aweregs.”
Steyn het weggegee dat hy wel aan die werk is aan ‘n volgende boek, waarin karakters van sy vorige werk weer hulle verskyning maak en gesê dat hy hoop om hierdie een teen 2026 bekend te stel.
Donker Water speel af in 2018, karakters ry trein en die leser sal die omgewing in en om Kaapstad herken. Volgens Amid skep Steyn ‘n uiteenlopende wêreld van ‘n omgewing wat vir ons bekend is, terwyl hy steeds die menslike element en emosie vasvang.
Dalk sien ons eendag Donker Water op ons kassies. Tot tyd en wyl kan jy jou kopie aanskaf by enige toonaangewende boekwinkel. Donker Water is ook as e-boek beskikbaar.
Annette Havenga ©