Wynbedryf sê nee vir verhoogde aksynsbelasting

Moontlike 72% gemiddelde verhoging in aksynskoerse rampspoedig
Ernstige kommer oor die potensiële impak van voorgestelde veranderinge aan wynaksynsbelasting wat die bedryf se volhoubaarheid en mededingendheid ernstig kan benadeel is vervat in ‘n omvattende voorlegging wat deur South Africa Wine, die nasionale liggaam wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf, uitgespreek is.
Die voorlegging is aan die nasionale tesourie gestuur na die publikasie van die aksynsbelastingbeleidsdokument in November 2024. Die bedryf is aanvanklik ’n kort tydperk gegee om insette te lewer.
South Africa Wine, sy lede en belanghebbendes in die bedryf het suksesvol ’n uitstel versoek, en belanghebbendes is tot 14 Februarie 2025 toegestaan om voorleggings te maak. Vandag het South Africa Wine amptelik sy voorlegging ingedien, waarin die ernstige gevolge wat hierdie voorgestelde veranderinge op die sektor sal hê, uiteengesit word.
“Die tydsberekening en omvang van hierdie voorgestelde  belastingveranderinge kan nouliks meer uitdagend vir ons bedryf wees,” sê Rico Basson, uitvoerende hoof van South Africa Wine.
“Ons het ’n uitgebreide voorlegging voorberei wat die ernstige implikasies van hierdie veranderinge oor ons hele waardeketting demonstreer.”
Die voorlegging spreek die onmiddellike veranderinge aan aksynskoerse aan wat in die Februarie 2025-begrotingsrede verwag word én die breër voorstelle wat in die Belasting van Alkoholdrank-beleidsdokument uiteengesit word.
“Wat veral kommerwekkend is, is dat ons huidige aksynsbelastinglas reeds die teikenkoers van 11% oorskry en aansienlik hoër is as ons mededingende wynproduserende lande,” verduidelik Basson. “Die voorgestelde raamwerk sal ons verder uit belyning met wêreldwye mededingers stoot, ons internasionale mededingendheid ernstig benadeel en ons vermoë om by te dra tot ekonomiese en sosio-ekonomiese sfere, van landelike landbou tot by die mark, ernstig belemmer.”
Bekommernisse
Die beleidsdokument stel verskeie beduidende veranderinge voor, insluitende:
• Implementering van bo-inflasie jaarlikse verhogings in aksynstariewe.
• Verhoging van die teikenbelastingriglyn van 11% tot 16% van die
kleinhandelverkoopprys.
• Instelling van alkoholinhoud-gebaseerde belasting eerder as per-liter-pryse.
• Progressiewe belastingbande met hoër tariewe vir wyne met ’n hoër
alkoholinhoud.
“Die progressiewe belastingvoorstel is veral problematies,” beklemtoon Basson. “Met 80% van Suid-Afrikaanse wyne wat ’n alkoholinhoud van meer as 9% het, kyk ons na ’n verbysterende 72% geweegde gemiddelde verhoging in aksynskoerse regoor die bedryf. Dit is onvolhoubaar vir baie produsente, veral kleinskaalse boere en kelders.”
Bedryfskonteks
Die voorgestelde veranderinge kom wanneer die wynbedryf reeds beduidende uitdagings ervaar.
“Ons moet beklemtoon dat hierdie voorstelle oorweeg word in ’n tyd wat ons bedryf onder erge finansiële druk verkeer,” sê Basson. “Ons sien ’n kommerwekkende toename in verliesmakende wynprodusente, en baie van ons lede sukkel om winsgewendheid te handhaaf te midde van stygende bedryfskoste en mededingende druk.”
Ekonomiese bydrae
Die wynbedryf bly ’n deurslaggewende bydraer tot Suid-Afrika se ekonomie en dra ’n beduidende R56 miljard tot die BBP by, skep 270 364 werksgeleenthede regoor die hele waardeketting, verdien buitelandse valuta deur uitvoer, genereer toerisme-inkomste, bevorder landelike ekonomiese ontwikkeling en ondersteun plaaslike gemeenskappe.
“Ons bedryf se bydrae strek verder as eenvoudige ekonomiese maatstawwe,” sê Basson. “Ons is dikwels die ruggraat van landelike gemeenskappe en ondersteun nie net direkte indiensneming nie, maar hele plaaslike ekonomieë en toerismesektore.”
Bedryfsversoek
South Africa Wine versoek namens die bedryf dat  aksynsbelastingverhogings tot VPI vir die 2025/26 finansiële jaar beperk word, dat daarop gelet word dat die huidige wynaksynsbelastingriglyn reeds die aanbevole koers in die 2014-beleidsraamwerk oorskry, en vir omvattende interaksie en samewerking met die wynbedryf oor die
voorgestelde beleidsveranderinge, met inagneming van hul potensiële eksistensiële impak op die sektor.
Suid-Afrika pas sedert 2004 ’n aksynsbelastingraamwerk toe wat ’n riglyn verskaf vir die belastingvoorkomskoers as ’n persentasie van die geweegde gemiddelde kleinhandelverkoopprys van alkoholiese drank. Die huidige riglyn vir die belastingvoorkomskoers vir wyn is vasgetel op 11%.
“Ons erken die regering se verantwoordelikheid om inkomste te genereer en alkoholverwante skade te beperk, maar hierdie voorstelle gaan te ver,” sê Basson.
“Die data spreek vanself. Verbruikspatrone en per capita-tendense in  Suid-Afrika bied geen ekonomiese of sosiale basis vir die herstrukturering van die huidige aksynsmetodologie nie. Die handhawing van aksynsverhogings teen maksimum VPI en die vasgestelde riglyn verteenwoordig ’n gebalanseerde benadering wat ons bedryf
toelaat om te herstel en volhoubaar te groei.
“Ons moet daarop fokus om die wynbedryf se sosio-ekonomiese bydraes te versterk deur werkskepping, toerisme en landelike ontwikkeling. Die geskiedenis wys vir ons dat buitensporige belasting dikwels onbedoelde gevolge veroorsaak wat ekonomiese stabiliteit en maatskaplike welstand ondermyn. Ons vra dus ’n pragmatiese beleid wat bedryfsvolhoubaarheid en verantwoordelike verbruik ondersteun. Hierdie doelwitte is
aanvullend, nie teenstrydig nie.
“Ons bly gereed om konstruktief met die nasionale tesourie in gesprek te tree oor die trajek van aksynsbeleid vir alkohol in Suid-Afrika en om oplossings te vind wat vir alle belanghebbendes werk.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!