Stellenbosch se Township & Village wen goud vir gemeenskapstoerisme

Wêreld neem kennis van plaaslike toerisme

Township & Village (T&V), ’n gemeenskapsgebaseerde toerisme-inisiatief wat in Stellenbosch se histories gemarginaliseerde woonbuurte werksaam is, het pas die goudtoekenning vir vrede, begrip en inklusiwiteit by die 2025 WTM Afrika Verantwoordelike Toerismetoekennings gewen. Dit is nou in die wedloop vir die internasionale Verantwoordelike Toerismetoekenning, waar dit meeding teen wenners uit Latyns-Amerika, Asië en Europa.

Die toekenning erken die inisiatief se benadering om in vennootskap met gemeenskappe te werk om meesleurende, storiegedrewe ervarings te ontwerp en aan te bied wat plaaslike erfenis en verbinding sentreer.

Die kernspan, insluitend René Momberg en Leana Kotze, lei hierdie werk saam met gemeenskapslede en met deurlopende ondersteuning van die Greater Stellenbosch Trust, wat die inisiatief help vestig het en steeds ’n sleutel-befondsings- en strategiese vennoot is.

“T&V is begin met die oortuiging dat toerisme méér kan wees,” sê Kotze. “Meer as net besienswaardighede. Meer as net spandeer. Dit kan ware verbinding skep, plaaslike erfenis eer, en iets blywends bou.”

Nuwe vertelling

Hoewel Stellenbosch internasionaal bekend is vir sy wynplase en Kaaps-Hollandse bekoring, verken min besoekers die ryk stories en komplekse nalatenskappe van gemeenskappe soos Kayamandi, Ida’s Valley, Pniël en Jamestown.

Township & Village nooi besoekers in hierdie gemeenskappe in via betekenisvolle, gemeenskapsgeleide ervarings soos erfenisstaptoere, storievertel-aande, tuisgemaakte etes, musieksessies en begeleide natuurstappe, alles ontwerp en aangebied deur plaaslike inwoners. Dit is gedeelde oomblikke aangebied deur mense wat die stories self leef.

“Gemeenskapstoerisme is ’n kragtige ekonomiese lewensaar, veral vir gemeenskappe wat histories benadeel was. Dit skep werksgeleenthede waar dit die nodigste is – in landelike gebiede en gemeenskappe met hoë werkloosheidsyfers, veral onder vroue en die jeug,“ sê Annemie Liebenberg, hoofuitvoerende beampte van Visit Stellenbosch.

“Dit gaan oor meer as net werk. Gemeenskapstoerisme bied mense die geleentheid om waardevolle oordraagbare vaardighede aan te leer van entrepreneurskap en finansiële bestuur tot bemarking kliëntediens en interpersoonlike vaardighede. Dit help om plaaslike kapasiteit op te bou en spreek Suid-Afrika se breër vaardigheidstekorte aan.

”Ekonomies-gewys versprei dit die voordele van toerisme wyer weg van slegs gevestigde sentrums, soos Kaapstad, en help dit om inkomste oor meer gemeenskappe te versprei. Besoekers kry die kans om egte uiteenlopende ervarings te hê en meer Suid-Afrikaners voel eerstehands die impak van toerisme in hul leefwêreld,“ glo sy.

Impak

Sedert sy bekendstelling in 2023 het Township & Village meer as 2,500 besoekers verwelkom, inkomstegeleenthede vir meer as 40 plaaslike gidse, storievertellers en entrepreneurs geskep, meer as 65% van sy inkomste direk aan gemeenskapsvennote uitbetaal en vennootskappe met Visit Stellenbosch, die Greater Stellenbosch Trust, en plaaslike opvoedkundige en korporatiewe instellings gevorm om verantwoordelike toerisme in die streek te vestig.

“Ons sien toerisme as ’n manier om saamhorigheid en begrip tussen mense te bou,” sê Momberg. “Dis oor die deel van ruimtes, nie net stories nie. Dis oor die soort land wat ons wil bou.”

Township & Village funksioneer as ’n sosiale onderneming en nie ’n liefdadigheid en ook nie ’n tradisionele toerismemaatskappy nie. Die model is gebou op mede-skepping. gemeenskapslede ontwerp en lei self die ervarings. Die inisiatief handhaaf ook ’n sterk etiese grondslag, insluitend kindbeskermingsbeleid, gedragskodes vir gaste en eerlike inkomste-verdelings-ooreenkomste.

“Dis nie oor ‘teruggee’ nie,” sê Momberg. “Dis oor sáám bou. Waardigheid, eienaarskap en respek is nie onderhandelbaar nie.”

Liebenberg sê hul doelwit is om gemeenskapstoerisme eksponensieel te laat groei.

“Ons wil hê dat besoekers aktief lede van Visit Stellenbosch in Kayamandi, Jamestown en die Dwarsriviervallei moet verken en hulself in die kultuur en gemeenskapslewe kan verdiep.

“Die Township & Village-toekenning is ’n besonderse erkenning van die puik werk wat in en rondom Stellenbosch gedoen word en dit plaas die kollig op gemeenskappe wie se stories kultuur en ondernemings sinvolle waarde tot ons dorp toevoeg.

“Daar is sóveel om te ontdek buite ons bekende kelders en wingerde. Hierdie toekenning bevestig dat ons besig is om regtig inklusiewe en betekenisvolle toerismegeleenthede te bou,“sê sy.

Vars van sy WTM-oorwinning, het Township & Village groot planne vir 2025 en wil hulle twee nuwe ervarings wat in die Wes-Kaap geloods word bekendstel, ‘n opleidingsprogram vir jong gemeenskapsgebaseerde gidse en storievertellers begin, verbeterde impak-aanwysers om sosiale en ekonomiese uitkomste te meet skep en ’n wil meer gemeenskappe in die formele toerisme-ekonomie integreer.

“Ons wys dat verantwoordelike toerisme nie net ’n konsep is nie, maar ’n werkbare model,” sê Kotze. “En dit hervorm hoe toerisme in Suid-Afrika kan lyk.”

Erkenning

Township & Village is nou ’n finalis in die Global Responsible Tourism Awards, met wenners wat in November 2025 aangekondig word. Dis ’n merkwaardige sprong vir ’n grondvlak-inisiatief wat slegs ‘n paar jaar oud is, maar een wat jare se grondwerk, samewerking en vertroue weerspieël.

“Ons wil nie die enigstes wees wat dit doen nie,” sê Kotze. “Ons wil ’n ander soort toerisme in Suid-Afrika inspireer, een gewortel in verhoudinge, en gebou om te hou.”

René Momberg, hoof van ontwikkeling en strategiese vennootskappe van Township and Village en Annemie Liebenberg, uitvoerende hoof van Visit Stellenbosch.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!