Stellenbosch skud vere reg vir Posduif
Die gewilde musiekgroep Posduif, se Kaalvoet Kinders- toer skop op 22 September af.
Goeie nuus vir Stellenbosch-aanhangers is dat die groep ook op 24 September in Stellenbosch ‘n draai kom maak. Met hierdie lentetoer vier Posduif die bekendstelling van twee nuwe liedjies wat hulle pas vrygestel het. Met dié vrystelling bou hulle voort op die tendens wat verskillende aspekte van die veelsydige groep ten toon stel.
Volgens die hoofsanger en kitaarspeler, James Boland, het hulle besluit om vir die eerste keer twee nuwe liedjies op een slag bekend te stel om die twee kante waaruit die groep bestaan te beklemtoon en vir luisteraars te wys wie hulle regtig is. James sê voorts dat hulle maar almal diep, omgee-mense is en hulle kan maklik nostalgies raak.
“Daar is altyd twee kante aan Posduif. Die ernstige, nostalgiese, en familievaste kant wat diep omgee en gewys word met liedjies soos Kaalvoetkinders wat weergee wie ons in ons siele is. Dan is daar ook die lighartige, prettige kant wat beklemtoon dat ons lekker kuiermense is, altyd bokke is vir sports en daarvan hou om te lag en ons vriende te terg soos wat ons met Voetfout doen,” verduidelik hy.
James vertel verder dat die titel Kaalvoetkinders gebore is uit ’n gesprek tydens ’n besoek aan ’n wildsplaas naby Rustenburg waar die groep aan die skryf van die album gewerk het. Die bestuurder het lekker gesels en “met al hierdie lekker sêgoed gekom.”
“En iewers deur die aand sê hy – my Liewe Jesus skoene.”
Die konsep van kaalvoet wees het hulle nostalgies gelaat oor herinneringe aan kaalvoet- loop as kinders en hoe dinge verander het. Na die musiekvideo vrygestel is, het die groep goeie terugvoer gehad en James sê dat dit met mense resoneer en dat: “ons almal diep binne nog steeds daardie kaalvoetkinders is.”
Oor die skryfproses sê James dat hy en Nick Jordaan altyd saam skryf, maar werk ook gereeld saam met ander mense en ook die res van die groep. Hy spog dat hulle onlangs saam met Gian Groen ook geskryf het.
Ons gesels oor organisasie en James sê hy en Emile (baskitaarspeler) is die mees georganiseerdes van die groep. Hy spot dat Brendan Campbell, die groep se hoof- kitaarspeler en vervaardiger, gewoonlik die een is wat laat is, maar daar is ‘n besliste rede daarvoor.
“Hy het so ‘n blue steel move wat maar seker so effe langer neem as die res van ons.”
Op die vraag op watter verhoog die groep graag sou wou optree, sê James dat alhoewel dit wonderlik sou wees om op te tree in Madison Square of Wembley Square, dit vir die groep gaan oor die gehoor. Daar waar hulle optree en die mense saamsing, is net waar hulle wil wees en: “ons bring soveel energie as wat ons kan.”
Die ses groeplede bestaan uit Brendan Campell, Nick McGreade, James Boland, Amiel Gopal en Nick Jordaan.
- Posduif tree 24 September om 20:00 by Kapstadt Brauhaus in Stellenbosch op en kaartjies is beskikbaar by die deur en op die groep se sosiale media platform of aanlyn by Quicket:
https://www.facebook.com/PosduifLive
https://www.quicket.co.za/events/276838-posduif-live-by-kapstadt-brauhaus-stellenbosch