Intieme blik op lewens van bendes

Skemerwêreld van bendes van nader bekyk

Danie Keet

Carla van der Spuy se nuwe boek Gangster, is ‘n insiggewende blik na die lewe agter tralies en verleen ‘n insiggewende kykie na wat daar in die berugte bendewêreld gebeur.

Die bekroonde skrywer Van der Spuy het met geharde én gerehabiliteerde gangsters, ’n lady gangster, ‘n ma wie se kind koelbloedig vermoor is, tronkbewaarders, polisiebeamptes, en pastore wat probeer help, gaan gesels ok die hartklop van hierdei donker wêreld raak te vat.

Die boek is vol gesprekke wat Van der Spuy met gewese bendelede gevoer het en vertel hul stories – in hul eie woorde. Dit maak die leeservaring soveel beter en gee ‘n werklike gevoel van hoe dit in daardie mense se lewens gaan, wat verkeerd geloop het en veroorsaak het dat hulle in die skemerwêreld van misdaad en bendes beland het en hoe hulle daar uit gekom het.

‘n Paar gemene delers kom te voorskyn – gebroke huwelike, afwesige pa’s, en ma’s in sommige gevalle, groepsdruk, dwelms en die teneerdrukkende armoede in meeste van die gevalle.

Die leser kry ‘n deeglike indruk van die lewe in die tronk en veral hoe die bendes daar bedryf en aan die gang gehou word. Die bendekultuur is ‘n duistere wêreld vir die buitestaander maar vir die mense in die tronk ‘n alomteenwoordige werklikheid met sy eie reëls, gebruike en selfs taal. Heelwat is al hieroor geskryf maar die persoonlike aanslag van die skrywer maak dat die ervaring baie nader aan die lyf gevoel word.

Lesers kom in aanraking met die nommers, die Franse, die vierde kamp, Sabela en die Airforce (want hulle kan oor tronkmure “vlieg”).

Gangster wys in gewese bendelede se eie woorde hoekom bendes steeds groei, wat dit is wat kinders so jonk as twaalf na bendes lok, en hoe sommiges tog daarin slaag om te ontsnap. Want mense se lewens kán omkeer, en Gangster is ook vol stories van hoop.

‘n Mens moet jou hoed afhaal vir Van der Spuy wat die durf gehad het om diep in bendegeteisterde gebiede in te ry en met die mense in hul eie hartland te gaan praat. Sy is bygestaan deur Jacques Pratt, ‘n vriend en stigter van die Hope Hela Foundation, wat met gerehabiliteerde bendelede werk. Dat soveel gewese bendelede, gangsters, dit reg gekry het om hul rug op hierdie donker leefwyse te draai, is bemoedigend en laat ‘n mens tog glo dat daar in alle mense iets goeds skuil.

Carla van der Spuy se nuwe boek oor die lewe van bendes, Gangster, is nou beskikbaar en bied ‘n agter-die-skerms-kykie in die lewens van bendelede, en diegene wat daaruit ontsnap het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!