Spaar nou water!

Stellenbossers moet watergebruik inperk – vlak 2-beperkings geld

Skaars twee weke gelede het die munisipaliteit aangekondig dat gerugte van ‘n waterskaarste op Stellenbosch ongegrond is en nou word waterbeperkings ingestel.

Na die aanvanklik berigte dat daar slegs water vir 14 dae op Stellenbosch oor is en dat die dorp se vernaamste opgaardamme baie lae vlakke het, het die munisipaliteit in ‘n verklaring gesê dat die feite verkeerd is en dat die berigte inwoners verwar en beangs maak. Hulle het ook gesê dat daar geen Dag Zero-vooruitsig is nie en dat geen waterbeperkings in plek is nie.

Op Donderdag 26 Februarie is vlak 2-waterbeperkings egter ingestel wat op 1 Maart van krag geword het en sal inwoners in die afsienbare toekoms aansienliek besparings in dei ihad moet werk.

Ingevolge die beperkings sal tariewe van toepassing wees op ‘n 20% waterbesparingstydperk en wat aan di ewiend evan maart uitgereik word.

In wese kom dit daarop neer dat daar van inwoners en belastingbetalers verwag word om hul waterverbruik in te perk en om water verantwoordelik te gebruik. Die vernaamste beperking is dat inwoners tot die gebruik van slegs 330 liter water per persoon per dag ingeperk word, terwyl daar tye is wanneer geen besproeiing van tuine toegelaat word nie, kommersiele eiendomme moet 20% besparing in die hand werk, terwyl landbouers 10% in hul waterverbruik moet sny. Huishoudings word ook aan maandelikse verbruikerslimiete onderwerp, terwyl die gebruik van alternatiewe waterbronne soos boorgate en reëenwater aangemoedig word. Tuine mag voor 0900 en na 1800 vir een uur op Dinsdae en Saterdae  natgespuit word. Outomatiese besproeingstelesels mag wel gebruik word.

Die besluit om waterbeperkings in te stel is in pas met advies en voorstelle van die provinsiale regering, asook soortgelyke voorsorgmaatreëls wat reeds deur verskeie naburige en nabygeleë munisipaliteite ingestel is. Dit is ’n proaktiewe stap wat daarop gemik is om ons gedeelde waterbronne te beskerm en langtermyn voorsieningssekerheid te verseker.

Hoewel damvlakke en die aanhoudend droë toestande regoor die streek rede tot kommer is – veral gegewe die druk wat elders in die provinsie ervaar word – is daar geen rede vir paniek nie. Daar is geen onmiddellike risiko dat krane droog sal loop nie, en daar is geen dreigende krisis nie.

Die munisipaliteit ontvang die grootste deel van sy water uit die Western Cape Water Supply System (WCWSS), wat uit ses groot damme bestaan wat oor die streek versprei is – Theewaterskloof, Bergrivier, Steenbras (Bo- en Onder-), Wemmershoek en Voëlvlei. Hierdie stelsel voorsien ook die stad Kaapstad en naburige munisipaliteite, insluitend Drakenstein en Theewaterskloof.

Soos tipies tydens ’n droë, warm somerseisoen, het verhoogde verbruik en verdamping druk op reservoirvlakke geplaas. Hierdie vlakke word daagliks deur die munisipaliteit se waterafdeling gemonitor. Daarbenewens het onlangse uitgebreide brande regoor die Kaapse Wynlande, Overberg- en Stellenbosch-munisipale gebiede die gebruik van onbehandelde water uit die Ida’s Valley-damme vir brandbestrydingsdoeleindes vereis, wat ’n impak op damvlakke gehad het. Dit dui egter nie op ’n naderende krisis nie.

Die munisipaliteit produseer steeds voldoende drinkbare water deur die Paradyskloof-waterbehandelingsaanleg, wat vanuit die Theewaterskloofdam gevoed word. Voorsiening is verder geoptimaliseer deur operasionele aanpassings, insluitend verhoogde pomp na sleutereservoirs, die aktivering van addisionele infrastruktuur, dringende herstelwerk aan lekkasies en die heringebruikneming van boorgate wat tydens die 2018-droogte gebruik is om voorsiening aan te vul.

Bewerings van sabotasie van munisipale waterinfrastruktuur word baie ernstig opgeneem en ’n ondersoek na hierdie aantygings het reeds begin. Terselfdertyd is verskeie ingrypings reeds aan die gang om ononderbroke voorsiening te verseker en waterbronne verder aan te vul.

Die implementering van vlak 2-beperkings is ’n verantwoordelike en weldeurdagte ingryping om vraag vroegtydig te bestuur en ernstiger maatreëls later te vermy.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!