Leerders van Paul Roos Gimnasium het op verskeie terreine puik presteer.
Willem de Waal is as die nuwe o.14- Suid-Afrikaanse enkelspel tenniskampioen gekroon.
Willem, 3de gekeur, het Tennis Suid-Afrika se nasionale juniortoernooi in Bloemfontein gewen deur die 13de gekeurde, Siyabonga Jaca, met 6/4 en 6/4 te klop.
Willem, ’n gr.8-leerder, wat ook deel was van Paul Roos Gimnasium se 1ste tennisspan wat die onlangse Zest Fruit Gerrie Berner-toernooi gewen het, het deur die week uitstekende kompeterende tennis gespeel.
Willem het ook die finaal van die o./14-dubbelspelkompetisie gehaal.
Debat
Pellatt Smith, ’n gr. 11-leerder by Paul Roos Gimnasium, is een van vyf hoërskoolleerders in Suid-Afrika wat gekies is om aan Poland Ireland International Stars 2021 deel te neem. Talent Africa dien as platform vir leerders om aan die kompetisie deel te neem en die gekeurde leerders sal FPASA (Federation of Performing Arts South Africa) op internasionale vlak verteenwoordig.
Pellatt het vir hierdie gesogte kompetisie gekwalifiseer op gronde van sy PodiumPret-toespraak van 2020. Hy het gevolglik na die finale rondte van die kompetisie deurgedring wat vanjaar in Mei beoordeel word. Dit is die eerste keer wat ’n Paul Roos-leerder aan ’n internasionale redenaarskompetisie sal deelneem.
