Covd-19 het steeds greep op wynlande
Covid-19 het ‘n greep op inwoners in die Kaapse Wynland, maar die gedrag en flinke inentings teen die virus, kan die druk verlig en ‘n vierde golf uitstel.
Teen 5 Augustus het 1 856 mense van die omgewing aktiewe Covid-19 gehad – ‘n styging van 17% in die afgelope sewe tot 14 dae. Altesaam 42 personeellede van Wes-Kaapse gesondheidsdepartement in die Kaapse Wynland, het op 30 Julie aktiewe Covid-19 gehad, terwyl nog ses in daardie stadium in kwarantyn was in afwagting op hul toetsuitslae. Daar is ook ál meer mense gehospitaliseer in die Ceres-, Robertson-, Montagu- en Stellenbosch-hospitaal.
“Ons personeel hou die fort, maar ons het nodig om die druk te verlig,” sê dr. Lizette Phillips, Wes-Kaapse gesondheid se direkteur van die Kaapse Wynlanddistrik. Sy vra dat almal hul bes sal doen om te voorkom dat hulle Covid-19 kry en dat hulle gesondheidswerkers se raad volg om veilig in afsondering te bly terwyl hulle positief getoets het, in noue-kontak met ‘n positiewe persoon was, of as hulle wag vir Covid-19-toetsuitslae. Sy prys die spanne wat intussen sorg dat soveel as moontlik mense geënt word teen Covid-19 en vra dat die gemeenskap die hoop sal aangryp wat kom in die vorm van immunisering teen die virus.
“As ons aanhou om meer en meer mense te vaksineer teen Covid-19, stuit ons die verspreiding daarvan in die toekoms. Ons het nodig dat jý dit ernstig oorweeg om geënt te word.”
Teen 6 Augustus is 50 597 mense van hierdie omgewing ten volle ingeënt teen Covid-19 en ‘n verdere 64 133 mense het een van twee inentings gekry. Op 10 Augustus bied Wes-Kaap Gesondheid in vennootskap met Stellenbosch Universiteit inentings by die Lentelusklubhuis in Hammanshandweg vir personeel van die universiteit. Van 16 Augustus af sal lede van die publiek ook hierheen kan gaan vir inënting.
“Ons is baie opgewonde op vennootskappe soos hierdie, want dit bring ons nog nader aan gemeenskapsïmmuniteit,” sê Phillips.
In die week wat voorlê gaan inëntings ook voort by die res van die fasiliteite in die Kaapse Wynland. Mense wat 50 jaar en ouer is en geregistreer het, maar wag vir hul SMS vir hul eerste inënting, word gevra om na hul naaste fasiliteit te gaan vir inënting.
| Kaapse Wynland Distrik | Inëntings by Wes-Kaap Gesondheid se fasiliteite* Weeksdae (Openbare vakansiedae uitgesluit) |
| Stellenbosch | Van Der Stel Saal (Maandae & Dinsdae 08:00 – 11:00; Woensdae tot Vrydae 08:30 – 14:00) Cloetesville Gemeenskapsdagsentrum (09:00 – 14:00) Idasvallei Kliniek (09:00 – 14:00) Kayamandi Kliniek (09:00 – 14:00) Kylemore Kliniek (09:00 – 14:00) Don & Pat Bilton Kliniek (09:00 – 14:00) |

