Stap op Jeugdag vir sosiale geregtigheid saam met Thuli Madonsela
Die Universiteit Stellenbosch (US) is besig om pogings om ʼn einde aan studieskuld te maak, te verskerp.
Die Regstrust se leerstoel vir sosiale geregtigheid, die studenteraad (SR) en die afdeling ontwikkeling en alumnibetrekkinge (OAB), in vennootskap met Besoek Stellenbosch (Visit Stellenbosch), nooi jou hartlik uit na die staptog op die #Action4Inclusion-roete vir sosiale geregtigheid wat op 16 Junie plaasvind.
Die staptog is deel van deurlopende fondswerwingspogings om studieskuld uit te wis en die potensiaal van studente te ontsluit, sodat hulle betekenisvol tot die ontwikkeling van ons land kan bydra.
#Action4Inclusion is een van die talle inisiatiewe onder die vaandel van die jaarfonds van die US, Oorbrug die Gaping, wat die gemeenskap, personeel, alumni, ouers en vriende in staat stel om studente te ondersteun en die gaping tussen talent en finansiële behoefte te oorbring – iets waaroor ons almal omgee.
Hoewel dit ʼn fondswerwinggeleentheid vir die #Action4Inclusion-veldtog is, is dit ook ʼn geleentheid om sosiale geregtigheid teen die agtergrond van ons land se gekwelde verlede aan te gryp. Die geleentheid wil ook vorige ongeregtighede erken en is daarop gemik om hernude hoop, inspirasie en medewerking tussen diverse belanghebbers te bevorder, sê die organiseerders.
Die #Action4Inclusion se roete vir sosiale geregtigheid sal deur kollegas, alumni, vriende en sakeleiers bygewoon word en ons is bevoorreg dat mense soos prof Wim de Villiers (US-rektor en visekanselier), Geordin Hill-Lewis (uitvoerende burgemeester van Kaapstad) en Geraldine Mettler (munisipale bestuurder van die Stellenbosch-munisipaliteit) ook teenwoordig sal wees.
Die organiseerders voeg by dat dié staptog ʼn unieke geleentheid bied om belangstelling in die Dwarsriviervallei, ʼn onontwikkelde gebied met ryk lewende geskiedenis, kulturele bekoring en asemrowende natuurskoon in die Stellenbosch-omgewing, aan te wakker. Die roete van 16 km is ʼn toeriste-aantreklikheid met die naam Reis van Hoop en Genesing, en is daarop gemik om ʼn omgewing te skep waarin al die gemeenskappe van Stellenbosch die ontsaglike voordele van ons toerismepotensiaal kan geniet. Die roete neem ʼn mens van Stellenbosch, oor die ou Helshoogtepas tot by Pniel, en die dag sal afgesluit word met ‘n boodskap deur prof Madonsela.
ʼn Gedeelte van die opbrengs sal vir verversings tydens die staptog aangewend word, hoewel die grootste gedeelte van die opbrengs aan #Action4Inclusion geskenk sal word.