Zimbabwiër met PhD leer gou Afrikaans by US

Student in maatskaplike werk ontvang PhD op sy 30ste verjaardag

Maandag 5 Desember 2022 was ‘n groot dag vir dr Hillary Chibaya. Hy het nie net die verhoog oorgesteek om sy doktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch (US) te ontvang nie, maar hy het ook sy 30ste verjaardag gevier.

“Ek is opgewonde om op my verjaardag te gradueer. Afsonderlik is dit albei spesiale  geleenthede. Om albei saam met my familie en vriende te kan vier, is baie kosbaar.”

Chibaya het in Harare, Zimbabwe saam met sy jonger broer en twee susters grootgeword. Hy het sy hoërskooljare by Hoërskool Moleli naby die dorp Norton – sowat 80 km van Harare af – deurgebring.

Sy belangstelling in en sy begrip vir die sosiale interaksie tussen mense, gekoppel aan ‘n liefde om minderbevoorregtes te help, het hom na die vakgebied van Maatskaplike Werk gelei. Sy ouma, dr Chipo Mutyambizi wat ook ‘n US-alumna is, het hom aangeraai om aan die US te kom studeer.

“Terwyl ek besig was om oor ‘n universiteit vir my studie te besluit, was sy besig om haar meestersgraad in ekonomie aan die US te voltooi. Sy was oortuig dat die US die beste universiteit vir my keuse van vakgebied en aansienlike ambisie sou wees. Nou, amper nege jaar later, is ek geneig om met haar saam te stem.”

Sy navorsingsonderwerp fokus daarop om die menings van maatskaplike werkers oor hul waargenome rolle in maatskaplike protesaksies.

“Ek was as navorser uiters nuuskierig oor die ingewikkelde en verwikkelde werking van hoe mense besluit om bymekaar aan te sluit en kollektief besluit om onderskeie pogings om maatskaplike verandering te bewerkstellig, na te strewe,” verduidelik Chibaya.

Maar om aan ‘n doktorsgraad te werk, is inherent uitdagend vir ‘n mens se geestelike, sosiale en emosionele dimensies, sê Chibaya.

“Sonder die behoorlike leiding en mentorskap, is die ingewikkeldheid van die taak genoeg om jou na depressie te dryf. Die lang ure wat dit vereis, kan jou maklik sonder enige vriende laat. Dít alles saam met ‘n gebrek aan genoegsame finansiële bronne kan dinge onmoontlik laat lyk.”

Hy was egter gelukkig genoeg om ‘n “briljante studieleier en uitnemende mentor” in prof Lambert Engelbrecht te vind. “Hy het my die afgelope vier jaar in elke stadium van my navorsingstudie gelei en die rigting aangegee.” Danksy hom en die departement maatskaplike werk, het ek navorsingsbeurse ontvang om my doktorale studie finansier. Dianne Orton en Gordon Howard het my finansieel ondersteun en ek is dankbaar teenoor hulle.”

Chibaya is oortuig daarvan dat dissipline en ‘n afgemete, goedgebalanseerde benadering tot sy studie die sleutel tot sy sukses was.

“Ek het my lang- én korttermyndoelwitte versigtig versprei oor die beplande tydlyn om my studie te voltooi.”

Ondanks die eise van sy navorsing, het Chibaya steeds tyd gevind om aan aktiwiteite soos Toastmasters deel te neem en gereeld te oefen. Chibaya het ook besonderse belangstelling in tale en kon gou in Afrikaans gesels nadat hy die taal as vak geneem het en ’n paar voorgraadse jare in die Dagbreek Manskoshuis deurgebring het waar Afrikaans die huistaal van baie van die inwoners was.

Hy het die afgelope drie maande ‘n postdoktorale Erasmus+-program in Trento, Italië voltooi. Hierdie program het behels dat hy saam met Engelbrecht en prof Alessandr Sicora van die Trento-Universiteit navorsingsartikels skryf. Hy was ook die fasiliteerder van seminare en werksessies oor maatskaplike werk en maatskaplike aksie by die Turin- en Trento-Universiteit en het werksessies oor verskeie onderwerpe in maatskaplike werk en praktyknavorsing bygewoon.

Maar hy moet binnekort Stellenbosch se wingerde vaarwel toeroep, aangesien hy aanstaande jaar ‘n postdoktorale program by die Universiteit van Montreal in Kanada gaan volg.

“Daarna wil ek my navorsing oor maatskaplike aksie vir menseregte en maatskaplike geregtigheid in maatskaplike werk voortsit,” sê Chibaya. “Miskien word ek nog eendag ‘n professor in maatskaplike werk. Ek is baie lief vir Stellenbosch, so dalk keer ek terug om by die US te kom doseer.”

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!