Gaan Stellenbosch FC alleenreg kry?
Dit wil voorkom asof nog een van Stellenbosch se ikoniese instellings, die Van der Stel-sportterrein, voor ontwikkeling gaan sneuwel. Die Stellenbosse munisipaliteit het onlangs kommentaar gevra oor die voorgenome moontlike ontwikkeling van die terrein vir die eksklusiewe gebruik van die Stellenbosch-sokkerklub (SFC).
In die kennisgewing word kommentaar gevra oor ‘n voorgestelde huuroorenkoms van 30 jaar vir sportterrein.
Volgens Pieter Lotz, voorsitter van die Van der Stel-bestuurskomitee, bevat die kennisgewing nie volledige besonderhede oor presies wat beplan word nie en skep dit onsekerheid, veral onder die sportgemeenskap van Stellenbosch.
“Die sportgemeenskap van Stellenbosch sal nie duld dat enige van Stellenbosch se munisipale sportgeriewe uitsluitlik vir een groep sportkodes of ‘n privaat entiteit geoormerk en benut word nie.
“Ons verwerp enige proses – soos hierdie een – wat nie deursigtig is nie, openbare konsultasie ignoreer en die regte van talle sportkodes en atlete verwerp wat hierdie terrein al vir geslate hul tuiste gemaak het. Ons sal geen geheime besluite oor ons gedeelde sporttoekoms in die munisipaliteit duld nie, of enige sulke beslute wat agter geslote deure gemaak word nie,“ het Lotz gesê.
Die Van der Stel-sportterrein is al vir meer as 85 jaar die hoeksteen van Stellenbosch se sporterfenis en het dit as ‘n gemeenskaplike en munispale sportgerief ‘n tuiste verskaf aan sportkodes soos rugby, sokker, krieket, atletiek, netbal en hokkie.
“Die sportklub soos hy tans bestaan het oor die afgelope jaar en ‘n half aansienlik verbeter nadat die nuwe bestuur oorgeneem is. Ons is in ‘n positiewe finansiële posisie en oorleef te midde van min ondersteuning vanaf die munispaliteit. Ons is meer as bereid om ‘n werkbare winsdelende en samewerkende ooreenkoms met die munisipaliteit te sluit, tot voordeel van almal. Die munisipaliteit het reeds hierdie ooreenkomste in plek met verskeie ander sportfasiliteite.
“Dit is die munisipaliteit se wetlike plig om rekreasie- en sportgeriewe aan sy inwoners en belastingbetalers te verskaf. Indien kapitale onderhoud van Van der Stel reeds tekort kom, waar gaan befondsing vandaan kom om die huidige 20 sporte te herallokeer en geriewe elders te herbou,“ vra Lotz?

Die Van der Stel-sportterrein en sy onthaal- en sosiale byeenkomsgeriewe strek ver buite die grense van die verskillende sportkodes en het deur die dekades ‘n samekomsplek vir die groter Stellenbosch-gemeenskap geskep waar skole, klubs en ondersteuners van mense uit alle dele van Stellenbosch saam kon kom om sport te geniet.
Volgens Lotz het die oorspronklike kennisgewing aangedui dat “gemeenskapsgebaseerde sport sal toegang tot die verbeterde sportinfrastruktuur by Van der Stel gewaarborg word.” Maar het ‘n tweede weergawe, wat ‘n week of wat later gepubliseer is, gelees: “Economic activity will be encouraged and stimulated,” wat ernstige vrae laat ontstaan het oor die fokusverskuiwing van ‘n gewaarborgde gemeenskapsportgerief na die prioritisering van kommersiële belange.
Lotz het die volgende bekommernisse van die Stellenbosse gemeenskap en sportlui gelys:
• Die inwoners van Stellenbosch vereis eerlikheid, inklusiwiteit en ‘n regverdige proses – enigiets minder as dit is direkte verraad van die gemeenskap en sy sporterfenis.
• Die impak op bestaande sportkodes wat al vir dekades die Van der Stel-terrein as hul tuiste gebruik, is nog nie aangespreek nie en geen duidelik plan is beskikbaar waarvolgens bestaande rolspelers, insluitend huiseienaars van die direkte omgewing, sowel as sportklubs, spelers, omliggende besighede of die breër Stellenbosse gemeenskap hanteer sal word nie.

“Ons het reeds vantevore versoeke gerig vir deursigtigheid, maar geen amptelike bevestiging van die insluiting van die veelvuldige sportkodes by Van Der Stel kon verkry word nie.
“Ons wil ook duidelikheid hê oor of die ooreenkoms eksklusief tot voordeel van die Stellenbosch-sokkerklub gesluit gaan word, of ander sportkodes die reg gaan behou om voort te bestaan en steeds op die multifunksionele terrein bedryf sal word, al word die ooreenkoms aanvaar.
“Weens die erns van hierdie besluite, is dit noodsaaklik dat die kwellinge van die gebruikers van die terrein, sowel as die van die breër Stellenbosse gemeenskap, aangespreek word voordat ‘n finale besluit geneem word. ‘n Gebrek aan openbare deelname en deursigtigheid sal waarskynlik tot ernstige teenkanting van Stellenbosse inwoners lei en so ‘n eensydige proses is iets waaraan ons nie kan deelneem nie.”

Volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, finaliseer die Stellenbosch-munisipaliteit tans ‘n voorstel vir die bestuur en ontwikkeling van die Van der Stel Sportkompleks.
“Hierdie inisiatief poog om die fasiliteit se gebruik vir verskeie sportkodes te optimaliseer, terwyl instandhoudingskoste en personeeluitgawes verminder word. Dit volg op vorige uitdagings met wanbestuur, wanbetaling en nie-nakoming van finansiële verslagdoening onder die vorige bestuur,“ het Grobbelaar in ‘n verklaring gesê.Hy het gesê vorige onderverhurings is nie deur die munisipaliteit goedgekeur of toegelaat nie, wat gelei het tot die uitsluiting van minder-bevoorregte gemeenskappe van die geleenthede wat die kompleks bied.
“Hierdie is die tweede openbare deelnameproses ná vroeëre gesprekke met belanghebbendes en ‘n tenderproses. Die publiek word uitgenooi om teen 20 Februarie 2025 insette te lewer oor ‘n moontlike bestuursooreenkoms.
“Die doel van hierdie voorstel is om die kompleks tot ‘n wêreldklas-sportfasiliteit te ontwikkel wat nasionale en internasionale sportgeleenthede lok, terwyl dit steeds toeganklik bly vir alle inwoners van die munisipaliteit,“ het Grobbelaar gesê.
Die tenderaar moet alternatiewe buitesportfasiliteite in WC024 voorsien indien nodig. Geen vereistes geld vir binnefasiliteite nie. Enige persoon wat bestuurs- en onderhoudplanne wil insien, moet ‘n PAIA-aansoek indien.
weereens n dorp met leierskap wat n siel sal verkoop vir n bak lensie sop. hierdie skuif is n klap in sport se gesig.