Byna 10 000 teken reeds petisie oor Papegaaiberg-reservaat se verval

Inwoners ontstoke oor gebrek aan reservaat-bestuur
Nie eers ‘n petisie wat reeds deur byna 10 000 mense geteken is, kan die Stellenbosse munisipaliteit oorreed om met inwoners oor die stand van die Papegaaiberg-natuurrservaat in gesprek te tree nie.
Inwoners is erg ontstoke oor die skynbare gebrek aan aandag aan die reservaat en die negatiewe impak wat gebrekkige bestuur op die resrevaat, sowel as die omringende eiendomme in veral Onder-Papegaaiberg het.
“‘n Groot gedeelte van die omheining langs Bokmakieriestraat is onlangs verwyder – altesaam 70 panele is gesteel, en 48 in een ry, wat op kommersiële diefstal neerkom – en nog nie weer herstel nie. Oortreders sny snags gate in die heinings om toegang tot die woonbuurt te kry en inwoners moet self die skade herstel. Die elektriese drade op die heining is nooit geaktiveer nie,“sê Karin Coetzee, voorsitter van die petisiekomitee.

Die heining om die reservaat is gevandaliseer en meer as 70 afdelings is verwyder.

“Dit help ook nie dat daar veiligheidskameras opgerig is nie – net in Loeriestraat – maar dit word nie eers gemonitor nie en dien dus geen doel nie.
Volgens Coetzee is die reservaat ‘n nasionale bate en groot toeriste-aantreklikheid in Stellenbosch met fynbos, renosterveld en ‘n asemrowende uitsig van 360° rondom die dorp.
”Die onwettige varkplaas en plakkershutte in die reservaat is ‘n groot kopseer waaraan daar niks gedoen word nie en inwoners van die plakkerskamp jag met hul troppe honde die laaste oorblywende wild in die reservaat sonder dat ‘n vinger teen hulle gelig word. Die reservaat word ook as ‘n opelug-ablusiegerief gebruik met gevolglike besoedeling van die Eersterivier en Plankenburgrivier en die gevaar wat die besoedelde water vir vrugteboere stroomaf inhou.

Hier is ’n videogreep van een so ‘n jagsessie: https://youtube.com/shorts/bOpKYHqXfcw?feature=share

Die reservaat dek ongeveer 317 ha fynbos en bedreigde renosterveld en word in die voorgestelde Adam Tas-korridorprojek as ‘n belangrike bate erken. Omdat dit so gevaarlik is in die reservaat kan stappers, fietsryers, kinders en sportverenigings dit nie gebruik nie en belastingbetalers trek geen voordeel uit die bestaan van die reservaat nie.

Die reservaat word onwettig as storingsterrein en buite-ablusiegeriewe gebruik.

”Ons wil graag met die munisipaliteit in gesprek tree oor die probleme by die reservaat en glo ons werkbare voorstelle kan die munisipaliteit baie spaar – onder meer die maandelikse R700 000 wat aan die Rooimiere vir sekuriteit betaal word.
“Ons versoek ook dat net twee voertuighekke, vir nood- en diensvoertuie, oopgehou moet word om te keer dat onwettighede en onregmatige storting van bourommel nie kan plaasvind nie. Tans gebruik taxi’s en ander voertuie die reservaat as kortpad na Kayamandi. Beheerde toegangshekke vir voetgangers moet ook geskep word – by die Bergkelder, Striker Meat en die begraafplaas – alles in ooreenstemming met die Adam Tas-korridor en wat tussen 20h00 en 06h00 gesluit is,“ sê Coetzee.
Sy sê inwoners van Onder-Papegaaiberg sal met die munisipaliteit saamwerk om die probleem op te los.
Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosse munisipaliteit, het by navraag gesê die munisipaliteit bestuur die reservaat volgens die goedgekeurde Papegaaiberg-natuurreservaatbestuursplan. Dit sluit in die verwydering van uitheemse plantegroei, die instandhouding van brandbane en toegangspaaie, sowel as die oprigting en onderhoud van inligtingsborde, waarvan verskeie verlede jaar geïnstalleer is.
“Munisipale wetstoepassing patrolleer die area gereeld en tree op waar moontlik. Dit is egter nie finansieel haalbaar om al die natuurreservate en -gebiede van die munisipaliteit 24 uur per dag met sekuriteit te beman nie. Nietemin het wetstoepassing onlangs ’n persoon in die reservaat gearresteer wat in besit was van gesteelde heiningpanele. Die individu is aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek,“ het Grobbelaar gesê.
Volgens Grobbelaar word brandbane jaarliks onderhou as deel van die munisipaliteit se brandvoorkomingsmaatreëls. Hierdie bane word strategies beplan en uitgevoer om die risiko van brande te verminder en vinnige toegang vir noodreaksie te verseker. Munisipale spanne is tans besig met die instandhouding van brandstroke en die beheer van plantegroei. Sodra die ontbossingstender toegeken is, sal kontrakteurs aangestel word om uitheemse bome en digte plantegroei in die reservaat te verwyder.
“Hoewel deurlopende patrollies nie altyd moontlik is nie, werk munisipale wetstoepassingsalede nou saam met die plaaslike buurtwag om onwettige aktiwiteite in en om die reservaat hok te slaan. Klagtes en berigte van oortredings word so vinnig moontlik opgevolg om die veiligheid van besoekers te verseker. Die munisipaliteit bly in voortdurende kontak met die wyksraadslid, en inwoners word aangemoedig om enige bekommernisse direk by munisipale wetstoepassing of die departement gemeenskapsdienste aan te meld. Amptenare woon ook gereeld wykskomiteevergaderings by, waar besorgde inwoners hul kwessies rakende die Papegaaiberg-natuurreservaat met die munisipaliteit kan bespreek.“

Intussen het die Stellenbosch-tak van AfriForum tegniese ondersteuning aangebied om die nuwe vlaag van grootskaalse onwettige toestroming van persone na die Papegaaiberg-natuurreservaat te stop.

‘n Woordvoerder van die AfriForum-tak het gesê dat spanne van dié burgerregte organisasie gereeld nagvlug-hommeltuie met infrarooi toerusting in die wynlande aan polisie, wetstoepassers, buurtwagte en plaaswagte beskikbaar stel.

Dit word met aansienlik sukses hanteer aangesien die hommeltuie gevlieg word deur gekwalifiseerde persone wat dikwels jare se ervaring van hierdie soort operasies het. Tydens die huidige reeks van plaasaanvalle naby Stellenbosch kan hierdie vermoëns besonder goed aanwend word.

AfriForum is ernstig besorg oor die vinnige toename van soms dodelike plaasaanvalle rondom Stellenbosch en die groter wynlande streek. Sowel hommeltuie as groeperings van intelligente nommerplaatkameras word deur die organisasie gebruik om te help met suksesvolle vervolgings van die bendes betrokke.

Die woordvoerder het ook gesê dat in groter wetstoepassingsoperasies die Stellenbosch AfriForum-tak aansienlike addisionele steun kan bekom van ander takke in die Wes-Kaap. Hierdie soort samewerking beteken dat verskeie hommeltuie gelyk in die nag oor ‘n gebied kan wees om wetstoepassers ‘n baie beter kans op sukses te gee.

AfriForum ondersteun die huidige inisiatief van die OPG in verband met hierdie petisie deur talle ernstig-besorgde Stellenbossers. Bestuurslede van AfriForum in Stellenbosch is al sedert verlede jaar in kontak met die groep en glo dat die situasie op nou op ‘n veiligheidskrisis afstuur.
—-

One Reply to “Byna 10 000 teken reeds petisie oor Papegaaiberg-reservaat se verval”

  1. Stellenbosch Munisipaliteit finaliseer tans ‘n voorstel vir die bestuur en ontwikkeling van die Van der Stel Sportkompleks. Hierdie inisiatief poog om die fasiliteit se gebruik vir verskeie sportkodes te optimaliseer, terwyl instandhoudingskoste en personeeluitgawes verminder word. Dit volg op vorige uitdagings met wanbestuur, wanbetaling en nie-nakoming van finansiële verslagdoening onder die vorige bestuur.

    Vorige onderverhurings is nie deur die munisipaliteit goedgekeur of toegelaat nie, wat gelei het tot die uitsluiting van minder-bevoorregte gemeenskappe van die geleenthede wat die kompleks bied. Daar is ook geen munisipale ooreenkoms oor die kroeg en onthaalsaal nie – onderhandelinge hieroor moet direk met die aangewese huurder geskied.

    Hierdie is die tweede openbare deelnameproses ná vroeëre gesprekke met belanghebbendes en ‘n tenderproses. Die publiek word uitgenooi om teen 20 Februarie 2025 insette te lewer oor ‘n moontlike bestuursooreenkoms.

    Die doel van hierdie voorstel is om die kompleks tot ‘n wêreldklas-sportfasiliteit te ontwikkel wat nasionale en internasionale sportgeleenthede lok, terwyl dit steeds toeganklik bly vir alle inwoners van die munisipaliteit.

    Die tenderaar moet alternatiewe buitesportfasiliteite in WC024 voorsien indien nodig. Geen vereistes geld vir binnefasiliteite nie. Enige persoon wat bestuurs- en onderhoudplanne wil insien, moet ‘n PAIA-aansoek indien.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!