Buitengwone varsheid in 2025-oesjare
Die 2025 Suid-Afrikaanse wynoes is goed op dreef, met wynmakers en wynboere wat regoor die land uitmuntende gehalte rapporteer. Met die meerderheid produsente reeds verby die halfpadmerk, dui vroeë aanwysers op ’n oesjaar gekenmerk deur wyne met besonderse vruguitdrukking en varsheid.
Gunstige groeitoestande regdeur die seisoen het gelei tot goed gebalanseerde vrugsamestelling vir rooidruifsoorte, gekenmerk deur goeie suurinhoud, diep kleur en tannienontwikkeling. Matige en droë toestande in sleutelstreke het ’n bestendige rypwordingsproses verseker, wat wynmakers in staat stel om druiwe teen optimale rypheid in te neem. Vroeë gistings toon intense aromatiese profiele, wat die weg baan vir wyne met uitsonderlike karakter en diepte.
Dr. Etienne Terblanche, hoof van konsultasiedienste by Vinpro, beklemtoon die impak van hierdie seisoen se klimaat: “Die kombinasie van matige temperature, voldoende winterreënval en noukeurige lowerbestuur om die potensiaal van die seisoen te ontgin, het gelei tot ’n uitstekende balans in die druiwe. Vroeë aanduidings is dat 2025 wyne van buitengewone varsheid en struktuur sal lewer.”
Die na-oesperiode van 2024 het ’n sleutelrol in hierdie jaar se sukses gespeel, aangesien warm en droë toestande bygedra het tot gesonde lowers en daardeur goeie koolhidraatreserwes. Alhoewel vroeë winterreënval ondergemiddeld was, het die rekord Julie-reënval waterbronne aangevul en voldoende besproeiing verseker, wat wingerdgroei ondersteun het. Danksy matige en droë lente- en somertoestande was siektedruk laag en wingerdgroeikrag sterk in die meeste streke. Daarbenewens het koel en droë rypwordings toestande die tafel gedek vir ʼn uitstekende oes.
Produksievlakke vir vroeg-rypwordende kultivars soos Chardonnay en Pinotage het verbeter ná besonderse lae opbrengste in 2024 weens ryptoestande. Chenin Blanc lewer tans kultivar-egte wyne met kenmerkende varsheid en tekstuur, terwyl vroeë waarnemings ’n baie belowende oesjaar vir Shiraz, Merlot en Colombar voorspel. Indien gunstige weerstoestande tot in die tweede helfte van die seisoen voortduur, word verwag dat laat-ryp kultivars in optimale toestand die kelders sal ingaan, wat 2025 verder as ’n oesjaar van hoë sal gehalte bevestig.
Rico Basson, uitvoerende hoof van South Africa Wine, beklemtoon die belangrikheid van hierdie jaar se oes. “Die 2025-oesjaar bevestig die vaardigheid, veerkragtigheid en toewyding van ons bedryf. Suid-Afrikaanse wyne bly wêreldwyd beïndruk, en hierdie oesjaar bevestig ons verbintenis tot gehalte en volhoubaarheid.”
Alle data vir hierdie oesverslag is saamgestel deur SAWIS en Vinpro, wat gesamentlik die oesjaar noukeurig monitor en analiseer. Ten spyte van die uitdagings wat klimaatsverandering inhou, bly die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van die Suid-Afrikaanse wynbedryf sigbaar. Produsente is opgewonde dat hierdie jaar se oes wyne van uitstaande gehalte sal lewer, wat die diversiteit en uitmuntendheid weerspieël waarvoor Suid-Afrikaanse wyn wêreldwyd bekend is.
