Munisipale direkteur voorlopig geskors

Ondersoek na De Beer se optrede begin
Nadat www.stellenboschmonitor onlangs berig het dat die munisipale direkteur van korporatiewe dienste, Anneline de Beer, in die sop is oor beweringe van wanbestuur en die misbruik van magte, is sy nou tydelik geskors hangende ‘n ondersoek na die voorval.
‘n Ingeligte bron in die munisipaliteit wat weens vrees vir vervolging anoniem wil bly, het toe gesê die klagtes is teen De Beer gemaak weens wanbestuur en misbruik van gesag. Dit spruit na bewering uit voorvalle waartydens onregmatige veranderinge aan datums op amptelike dokumente en ook die aanpassing van die inhoud van ander dokumente, gemaak is.
Inligting wat bekom is uit ‘n spesiale raadsvergadering wat op Donderdag 23 Januarie gehou is, het getoon die meerderheid van die stem-geregtigdes was ten gunste van die ondersoek gestem – 38 van die 42 raadslede. Volgens die bron is ‘n regsfirma, Weber Wentzel, genader om die voorval en bewerings te ondersoek.
De Beer is reeds geruime tyd in die kollig, hoofsaaklik weens die wyse waarop sy deur die vorige burgemeester, Gesie van Deventer, op ‘n langtermynkontrak aangestel is.
In reaksie op navrae deur www.stellenboschmoinitor.com, het die speaker van die raad, Quintin Smit, in ‘n verklaring gesê dat ingevolge hoofstuk 2 van die wet op plaaslike regeringstelsels, (no 32 van 200) en die gepaardgaande regulasies, moet enige bewerings oor wangedrag teen ‘n senior bestuurder onder die aandag van die munisipale raad gebring word waarna die verlange voorgeskrewe prosesse gevolg moet word. Die dissiplinêre optrede word dan gelei deur verskeie beginsels wat in hoofstuk 2 vervat is.
‘n Waarskuwingsbrief oor moontlike skorsing soos beskryf in regulasie 6 van die wet, is op 19 Maart 2025 teen De Beer uitgereik.
In die verklaring sê Smit dat geen besonderhede wat op die saak betrekking het, bekend gemaak mag word nie ten einde ’n onpartydige en regverdige proses te verseker.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!