PRG seëvier op hokkieveld (aksiefoto krediet – Janco Saunders)
Hier is bietjie nuus oor Paul Roos Gimnasium en hoogtepunte wat die afgelope week of wat op sowel sport- as kultuurgebied behaal is.
Die eerste hokkiespan van Paul Roos Gimnasium (PRG) het Vrydagaand daarin geslaag om die span van Paarl Gimnasium met 6-2 op die Maties-astro te verslaan. Paarl Gimnasium het ʼn uitstekende seisoen tot dusver en hul was beslis die gunstelinge op die aand.
PRG het goed begin met vinnige doele van Ruan Strauss. In die laaste kwart het PRG behoorlik die krane oopgedraai en die finale spyker in Paarl Gim se doodskis geslaan. Dit was ook ʼn spesiale aand vir die kaptein, Christo Swanepoel, wat sy 100ste wedstryd vir die eerste span gespeel het. Hy het in 2022 (gr. 9) reeds sy buiging gemaak en is ʼn noodsaaklike deel van die span se DNA. Swanepoel is slegs die tweede Paul Rooser ooit om hierdie spesiale mylpaal te behaal.

Hibbert-toernooie
Die Paul Roos-spanne het hierdie jaar weer daarin geslaag om drie medaljes by die gesogte Hibbert-toernooie in Gqeberha te wen. Die o.14- en o.16-toernooi word in samewerking met Grey High School deur Pearson High School aangebied, terwyl Grey die gashere vir die o.19-toernooi is. Hierdie toernooi word tans beskou as een van die top seunshokkietoernooie in die land.
Die o.14-span, wat tot op hede onoorwonne is, het in die opbou tot die finaal al hul opposisie oortuigend geklop: Selborne wen 3-0, St Albans wen 7-0, Grey High wen 5-0, Maritzburg College wen 8-2, Paarl Gim wen 7-0 (semi-finaal), Hulle word vir die eerste keer in die finaal getoets teen PRG se grootste kompetisie in die Wes-Kaap – SACS. In ’n naelbytfinaal wat op 1-1 in gewone speeltyd eindig, forseer die Paul Roosers die wedstryd in ekstra-tyd en hulle wen dit uiteindelik met 5-4.
Die o.16A-span is volgende aan die beurt. Na oortuigende oorwinnings in die opbou tot die finaal kom hulle uiteindelik teen Grey High te staan: Garsfontein wen 6-0, St Stithians wen 3-1, Paarl Gim wen 3-1, Westville wen 3-0, DHS wen 1-0 (semi-finaal)
In ’n herhaling van die 2024-finaal, verseker Paul Roos dat hulle die opperhand neem en stap met ’n gemaklike 4-0 oorwinning weg.
Die o.19A-span kom in die semi-finaal teen SACS te staan wat hulle verlede jaar in ekstra tyd in die stof laat byt het. Na ’n naelbyt semi-finaal wat Paul Roos in die doodsnikke in ekstra tyd forseer het, moes Paul Roos die knie buig en tevrede wees met ’n derde-plek wedstryd teen Garsfontein, wat hulle 2-1 wen om met brons huis toe te kom.
PRG-hokkie getuig tans van ongelooflike diepte. Terwyl die A-spanne in Gqeberha deelneem, neem die 19B-, 16B en 14B-spanne aan die Winelands Cup in Stellenbosch deel teen meestal A-spanne. Aan die einde van die week stap Paul Roos ook hier weg met ’n bronsmedalje op o.19-vlak en 2 goue medaljes vir die o.16 en o.14 spanne.
beKoor
Op 7 Mei is die 12de PRG beKoor met groot sukses aangebied. Hierdie konsert is al ‘n bekende Stellenbosch-geleentheid waartydens skole jaarliks hul uitmuntende kore kan ten toon stel. Kore van Bloemhof, Rhenish Girls’ High, Hoërskool Stellenbosch, Bridge House, Paul Roos en die PRG Senior Band het ‘n gehoor van ‘n duisend mense behoorlik vermaak!
PRG-fietsry
Luca Zietsman (junior seuns-kategorie) het onlangs die SA Enduro-kampioenskappe by Summerplace Game Reserve naby Vaalwater gewen.
