So sê die jongspan van Laerskool Eikestad
Cornelia de Kock
Hoe vier ’n mens die amptelike status van jou hartstaal op ’n stralende najaarsdag in Mei 2025? Soos NP Van Wyk Louw vervul vreugde die hart van hulle wat Afrikaans in al sy variteite vereer:
“Uit hierdie ligte en wye herfstyd straal
’n nuwe, namelose vreug in my…”
Die oorspronklikste viering waarvan ek weet, was die idee van Laerskool Eikestad in Stellenbosch. Elke kind moes op die herdenkingsdag soos ’n idioom aantrek. Agter op hul rȗe moes die betekenis aangebring word.
Die ou skooljuffrou van baie jare gelede ontwaak in my ek raak vuur en vlam vir die saak. Hoe lui die spreekwoord nou weer? ’n Jakkals verander van hare, maar nie van snare nie.
In my woonbuurt is daar genoeg leerders wat ek kan nader roep en die wêreld van idiome vir hul oopmaak.
Afrikaans is ’n maklike taal om aan te leer. Daar is immers geen naamvalle of manlike en vroulike vorme vir lidwoorde nie. Blykbaar is dit slegs die idiomatiese rykdom van die taal wat dit moeilik maak.

My gesprekke met die kinders word een groot bron van vreugde. Die kinders verkies idiome oor diere: Sy bont varkie is weg, Die verkeerde perd opsaal, Slapende honde wakkermaak en Soos ’n Uil op’n kluit.

Sy is ’n katjie wat jy nie sonder handskoene moet aanraak nie, ontlok die meeste reaksie by hierdie dertienjariges. Die seuns lag agter hul hande en die dogters snork verontwaardig. Of het hul balke gesaag?
’n Graad eentjie besluit om haar deftigste klere aan te trek, haar te grimeer en pou,-duif-en tarentaalvere in haar hare te sit, want die vere maak die voël.

So negehonderd Afrikaans-sprekende leerders ondertsreep dat moedertaalonderrig steeds die heelbeste is. Die skoolklok lui en ek verstom my aan die oorspronklikheid: Kinders op stokperde hardloop by my verby. ’n Graad eentjie skiet soos blits by die skoolhek uit en roep dat sy Katjie van die baan is. Baie ape wat uit die mou gelaat is, figureer. Menige se hande is afgekap. Een stap met ’n witbrood onder die arm – hierdie bevoorregte kinders het inderdaad niks om oor te kla nie.
Op dié wolklose Donderdag is daar heelwat leerders met sambrele waaraan katjies en hondjies hang. Langenhoven wat die dryfveer agter die amptelike erkenning van Afrikaans was, sou beslis oor hierdie idioom sy hare uit sy kop getrek het – direk uit Engels vertaal. Dit reën ou dames met knopkieries, kon eweneens heel maklik uitgebeeld word.
Selfs ’n uitdrukking uit die pen van Dale Carnegie (1948) wat geen idioom is nie, maak sy verskyning: As dit suurlemoene reën, maak limonade– bloot ’n oproep om jou nie te bekommer nie. As dit pap reën, moet jy skep, wat ’n heerlike manier om leerders aan te moedig om hul geleenthede te benut.
Die dag was voorwaar ’n riem onder die hart en ek klink daarop ’n glasie rooiwyn, geskink uit ’n bottel met ’n Afrikaanse etiket en Afrikaanse inskrywing op die rugkant.
In 2019 het nege tweeling-pare by Laerskool Eikestad ingeskryf. Hulle is steeds almal in die skool. Twee het duidelik onderstreep dat hul individualiste is. ’n Ander paar het hul eendersheid beklemtoon. Indien al agtien van hulle wel Vinkel en koljander, die een is soos die ander, voorgestel het, sou daar spreekwoordelik ’n Babelse verwarring geheers het.

