Top-gehalte wyn uit Kanu-kelder – gemeng met sprankelende stories
Die meeste Stellenbosse wynplase het feitlik geen bekendstelling nodig nie, maar dit is altyd belangrik om te onthou dat buiten die bekende name wat gereeld in die kollig verskyn, daar nog talle juwele in die Suid-Afrikaanse wynkroon glinster.
Een hiervan is Kanu-wyne, wat juis direk langs seker een van die bekendste pinotage-produsente, Beyerskloof, geleë is, maar beslis nie in sy buurman se skadu staan nie.

Maar anders as die algemene stories van baie van die ander wynplase, is daar op Kanu iemand wat al vir soveel jare die wyn-beuel blaas dat hy al as die engel van wyn beskryf word. Op Kanu is daar een – Cobus Germishuys. Hy is ’n bekende figuur in Suid-Afrika se wynbedryf, liefdevol bekend as die “Wynengel van Stellenbosch”.
Gebore op die plaas Remhoogte naby Baardskeerdersbos in die Overberg, het Cobus van kleins af ’n passie vir letterkunde en kommunikasie ontwikkel, gedryf deur sy ma se wysheid om uitdagings met selfvertroue te benader. Hy het letterkunde as ’n bykomende vak op skool geneem en hom later besig gehou met vrywillige werk, onderhoude met regeringsamptenare en vryskutskryfwerk.
Cobus se loopbaan in die wynbedryf strek oor meer as 25 jaar, en het hy by bekende Stellenbosse wynplase soos Muldersbosch en Kanu-wynlandgoed gewerk. Op Kanu is hy tans die proelokaalbestuurder.
Cobus vertel dat hy al die voorreg gehad om met bekende figure soos Margaret Thatcher, pres. Arab Moy en Oprah Winfrey in aanraking te kom – ontmoetings wat elkeen ’n blywende indruk op sy lewe gelaat het.

As ’n meesterverteller verweef Cobus boeiende verhale wat gaste na ander wêrelde vervoer, wat wynproe by Kanu-wynlandgoed ’n meesleurende ervaring maak. Sy uitsonderlike kommunikasievaardighede, warmte, empatie en positiewe gesindheid het hom ’n geliefde figuur in die wynbedryf gemaak.
Benewens sy werk in die wynbedryf is Cobus ook ’n bekwame fotograaf wat die skoonheid van die Wes-Kaap deur sy lens vasvang. Sy foto’s is al in verskeie publikasies gepubliseer en toon sy kreatiewe oog en vermoë om stories deur beelde te vertel.

Deur sy lewe en loopbaan het Cobus toegewyd gebly daaraan om ander te inspireer — hetsy deur sy storievertelling, fotografie of opregte menslike interaksie. Sy betrokkenheid by dei wynbedryf en die bevordering van die Kanu-handelsmerk, is ’n bewys van die krag van passie, toewyding en verbondenheid.
En as jy en jou familie ‘n plek soek om heerlike wyne te proe, dalk ‘n lekker sushi-ete te geniet terwyl die kinders in die speelplek of putt-puttbaan kerjakker, gaan gesels met Cobus op Kanu en geniet sy borrelende storie-persoonlikheid.


