Straatsluiting moet verder ondersoek word
Om Kerkstraat in ‘n voetgangersone te verander is ’n ou en lank gekoesterde droom vir baie in die Eikestad. Nie almal dink egter dis ’n goeie idee nie. Tog duik die gedagte nou en dan weer op, en daarmee saam verander Kerkstraat in ietwat van ’n slagveld.
Verlede maand het die Young Urbanists NPC Stellenbosch-tak, in samewerking met die munisipaliteit en die Stellenbosch Erfenisstigting, ’n openbare deelnameproses van stapel gestuur om die haalbaarheid van tydelike proefsluitings van Kerk- en Andringastraat op Sondae te ondersoek.
Die projekleier Roland Postma verduidelik: “Die bedoeling is nie om enige uitkoms vooruit te loop nie. Al is daar werklike operasionele uitdagings, veral rondom toegang, parkering en sakekontinuïteit, word hierdie kwessies deur gestruktureerde betrokkenheid aangespreek.”
Die Young Urbanists se filosofie is dat sekere gebiede van die middedorpe en -stede herwin moet word as sosiale ontmoetingspunte en veilige voetgangergebiede. Sommige mense in Stellenbosch voel egter dat Kerkstraat nog nooit ’n uitsluitlik voetgangerslaan was nie, en wys daarop dat dit sedert die vroegste dae ’n hoofslagaar vir verskeie vorme van vervoer was. Jong mans het hulle selfs dikwels voor die landdros bevind omdat hulle te vinnig met hul perde gery het!
Die openbare konsultasievergadering met belanghebbendes in die Stadsaal is in groot getalle deur sake-eienaars bygewoon, en die gesprek het soms taamlik warm geraak. Sommige het gevoel hulle het nie genoeg tyd gehad om voor te berei nie, terwyl ander beklemtoon het dat soortgelyke proeflopies in die verlede onomwonde die nadelige uitwerking op kleinhandel bewys het.
“Die laaste proef in Oktober was verwoestend vir die winkels in Andringastraat,” het Madeleine Germishuis, eienaar van die bekende Fidders, gesê. “Die inkomste van my besigheid, wat sedert die 1940’s ononderbroke bedryf word, het ’n verlies van 90% van ons gewone daaglikse inkomste getoon. Ons personeel raak paniekerig, want sulke verliese kan ook hul lewensbestaan raak. Ons het nie nóg eksperimente nodig in hierdie ekonomies sensitiewe kern nie – dit het konsekwent dieselfde negatiewe resultate opgelewer en ons kan eenvoudig nie die koste daarvan dra nie.”
Nog ’n voorstel is om die middedorp meer fietsryervriendelik te maak ten einde motorverkeer te verminder. Hoewel baie die idee ondersteun, het ander daarop gewys dat, ten spyte daarvan dat die gebied reeds vrylik vir fietsryers toeganklik is, die talle fietsrakke meestal leeg is omdat mense óf onveilig op fietse voel, óf omdat dit dikwels onprakties is om inkopies so te vervoer.
Hoewel die Oktober 2025-eksperiment heelwat kritiek ontlok het, was daar ook dié wat gesê het dit was vir baie plaaslike inwoners ’n aangename ervaring. Hulle het ’n beroep gedoen dat almal saamwerk om ’n oplossing te vind wat almal sal akkommodeer.
Postma het om verskoning gevra dat die kennisgewings oor openbare deelname nie almal betyds bereik het nie, en hy het toegegee dat konsultasie met die sakegemeenskap uitgebrei moet word om hul vrese en uitdagings beter te akkommodeer. Daar is gevolglik besluit om die sperdatum vir besprekings uit te stel om soveel moontlik insette toe te laat en tot ’n gevolgtrekking te kom wat ’n billike weerspieëling van die haalbaarheid van voetgangerproewe sal wees.
Enige individue of belangegroepe wat insette wil lewer, kan dit doen via kerkstrsundays@youngurbanists.co.za
- Hierdie verslag is oorgeneem uit Facebook en van ‘n onbekende akrywer

