Net 17 dae se watergebruik is oor
Gerugte doen tans die ronde dat watertoevoer na Stellenbosch binne die volgende 17 dae gaan opdroog en dat ‘n waterskaarste die dorp gaan tref.
Uitgediende waterretikulasiestelsels, gebrekkige bestuur en ‘n tekort aan wateringenieurs word as van die redes hiervoor aangevoer.
Daar word selfs beweer dat daar tans geen waterstelselingenieurs meer in diens van die munisipaliteit is nie. Onder die beste omstandighede is daar slegs water vir nog 40 dae oor.
Volgens The Cape Independent lyk verskeie plaaslike damvlakke gesond, maar is spesifieke sleutelbronne wat Stellenbosch voed, ontkoppel, en munisipale waterbronne kan nie gemonitor word nie weens die verwaarlosing daarvan.
Inwoners het op Facebook gekla oor dalende waterdruk, en die munisipaliteit moes waarskuwings uitreik om die gebruik van stelselwater tot slegs noodsaaklike doeleindes te beperk.
Na bewering het bestuurslui verkose ampsdraers uitgesluit, waterinfrastruktuur gesaboteer en doelbewus alle ingenieuers op rassegronde verdryf. Die DA het hoegenaamd geen toesighoudende rol gespeel nie.
’n Onlangse foto van die Ida’s Valley-reservoir, heeltemal droog weens die versuim om water gedurende die nat seisoen in te pomp.
Die krisis het volgens The Cape Independent ontstaan weens die weiering om ingenieurspanne toe te laat om waterpype te herstel, die opskorting van noodsaaklike opgraderingsprojekte, en die weiering om gedurende die nat seisoen water in opgaardamme te pomp.
Die kernmislukkings het ná die 2018/2019-droogte begin, toe gevorderde intydse moniterings- en modelleringsisteme, wat toesig oor toevoer vanaf Franschhoek en Klapmuts moontlik maak, laat verval is en noodsaaklike uitbreidings is gekanselleer of onbepaald uitgestel is. Toerusting is nie vervang of onderhou nie, voorsieningskettingkontrakte vir die watersisteem het verval en is nie hernu nie, en telemetriestelsels vir pompstasies en reservoirvlakke is al vier jaar lank buite werking. Dit het operateurs onbevoeg gelaat om doeltreffend te monitor of te reageer – tegniese personeel werk in wese blindelings.
Die Stellenbosch-munisipaliteit se drinkwaterstelsel kombineer plaaslike munisipale bronne met grootmaattoevoer vanaf die Wes-Kaapse Watervoorsieningstelsel (WKWVS), hoofsaaklik bestuur deur die Stad Kaapstad. Die WKWVS het histories tot twee derdes van die water voorsien, hoofsaaklik vanaf die Theewaterskloofdam via tonnels en pyplyne, met bydraes vanaf die Wemmershoekdam.
Hierdie bronne moet egter ook die hele Kaapstad bedien, en Stellenbosch steun toenemend op sy eie bronne. Plaaslike bronne, gesentreer rondom die Idasvallei-damme in die Jonkershoek-opvangsgebied, bied ’n noodsaaklike buffer tydens beperkings en word gevoed deur die Eersterivier. Rou water word by twee hoofaanlegte behandel: die Paradyskloof-waterbehandelingswerke, wat die grootste deel van die WKWVS-toevoer hanteer en die Idasvalley-waterbehandelingswerke, ’n stadige sandfiltrasiestelsel met ’n kapasiteit van ongeveer 28 Ml per dag wat plaaslike bronne ondrsteun. Behandelde water vloei na reservoirs soos Roosendal en word deur ’n verspreidingsnetwerk na Stellenbosch, Kayamandi, Franschhoek, Klapmuts en ander gebiede versprei, met verbindingspyplyne wat buigsaamheid tussen die Paradyskloof- en Idasvalley-sones moontlik maak.
Die stelsel bly sterk afhanklik van seisoenale inpomping na opberging en WKWVS-toekennings. Uitbreidingspogings sluit nuwe boorgate, hergebruikinisiatiewe en alternatiewe verbindings soos die Koelenhof/Wemmershoek-lyn en moontlik ’n Blackheath-koppeling in.
Stellenbosch self het egter twee hoofopgaardamme, Idasvalley 1 en 2. Primêre rou water kom vanaf die Theewaterskloof-skema via ’n tonneluitlaat naby Blaauwklippen, wat die Paradyskloof-aanleg voed, vanwaar dit teen ’n hoogte op gepomp word na die Roosendal-reservoir in die dorp – ’n proses wat voorafbeplanning vereis. ’n Sekondêre bron is die Eersterivier uit die Jonkershoek-opvangsgebied, wat die Idasvalley-damme voed. Namate riviervloei afgeneem het, het die munisipaliteit bloot op gestoorde damwater staatgemaak eerder as om nuwe kapasiteit te bou.
Die vraag neem skerp toe in die somer wanneer universiteitstudente terugkeer – iets wat beplanners jare gelede reeds voorsien het en wat bykomende berging en toevoeruitbreiding sou verg. Verskeie projekte bly onvoltooid: ’n skakel vanaf die nuwe Skilpadvlei-reservoir na Papegaaiberg, grootmaattoevoerlyne vanaf Koelenhof, met gebruik van die Stad Kaapstad se Wemmershoek-pyplyn na Kayamandi en ’n alternatief vanaf Blackheath.
Die Skilpadvlei-reservoir self is gebou, maar nog nie aan bronne gekoppel nie. Vertraging word toegeskryf aan personeeltekorte, begrotingsbeperkings en stadige besluitneming.
- Die Stellenbosch-munisipaliteit is genader om kommentaar te lewer en hul antwoorde sal bygewerk word sodra dit ontvang word.
- Foto ter illustrasie

