Opwindende feesjaar in die vooruitsig
“In 2026 vier ons Paul Roos Gimnasium se 160ste bestaansjaar met diepe dankbaarheid. Vanuit ‘n nederige begin in 1866 het die skool gegroei tot ‘n instelling van uitnemendheid wat sy stigters se mees ambisieuse verwagtinge oortref het,“ sê Jannie de Villiers, die 17de rektor van die skool.
“Paul Roos Gimnasium is vandag ‘n wêreldbekende demonstraie van die krag van kwaliteit opvoeding. Die afgelope 160 jaar was die vergestalting van ons leuse, Semper Splendidior, en ons gaan die toekoms in met die wind in ons seile, gerugsteen deur ons gemeenskap, geloof en ononderhandelbare kernwaardes.”

Visie
PRG, geleë op die oewer van die Eersterivier, met die Stellenboschberg as agtergrond, se uitgestrekte kampus is die tuiste van ’n seunskool met ’n tradisie van uitnemendheid op alle terreine. Die skool streef daarna om ’n leidinggewende, gerespekteerde en relevante seunshoërskool vir Suid-Afrika te wees.
“Hierdie skool, wat in 1866 gestig is, is slegs ’n klipgooi vanaf die Universiteit Stellenbosch (US). Die noue verbintenis tussen die skool en universiteit spruit uit die gedeelde geskiedenis en die invloed van beide instansies op Stellenbosch. Die skool bied ʼn groot verskeidenheid topgehaltegeriewe, van ikoniese geboue op die hoofkampus tot wêreldklassportgeriewe op die uitgebreide kampus. Geriewe sluit die binnehuise krieketfasiliteit, die moderne JF Ferreira-gimnasium, toegang tot drie astrohokkievelde en die wêreldbekende Markötter-sportgronde in. Die drie koshuise, Prima, Prima Nova en Secunda, bied verblyf aan leerders van regoor Suid-Afrika en ons buurlande,“ sê Jannie.

Paul Roos Gimnasium slaag daarin om sy leerlinge voor te berei op die wêreld van studie, ontspanning en werk. Sedert die instelling van die kanseliersmedalje van die US het veertien Paul Roos-leerders die gesogte toekenning verwerf. Hierdie suksesse word toegeskryf aan die skool se missie om professionele onderrig van die hoogste gehalte te lewer en leerders toe te rus met die akademiese kennis en lewensvaardighede wat uitnemendheid en sukses in die samelewing verseker.
Die skool lewer die grootste getal Springbokrugbyspelers (56) op, maar duisende oudleerlinge in leiersposisies op die akademiese gebied en op die saketerrein getuig van die besondere vormende invloed van die rustigheid en veiligheid van een van die mooiste dorpe in Suid-Afrika, die stimulering en energie van die jeug, en talle geleenthede om aan bykans enige aktiwiteit, akademies en andersins, deel te neem. ’n Paar bekendes sluit in prof Wim de Villiers (uittredende US-rektor), sakelui soos Jannie du Randt en Johann Rupert, dr Leon Schreiber (minister van buitelandse sake) en vele ander wat op die akademiese, sport en kultuurvlak uitblink.
“Die skool se 160 jaar van sukses berus op roemryke tradisies en waardes – die sogenaamde “old school values”, naamlik trots, respek en “gentlemanship”. Hier vind elke seun sy plek en is daar werklik ’n geleentheid vir elke seun om te presteer op een van die vele gebiede wat die skool aan hulle voorhou.“
Vieringe
Die 160-vieringe word waardig op drie vlakke gevier:
Vir die leerders: Die tradisionele stigtersdagsaal word op Maandag 2 Maart gevier. Oud-skolier dr Braam Hanekom (matriek 1977) behartig die saalopening en die seëning. Frans van Niekerk, wat 38-jaar diens aan PRG gelewer het as onderwyser en koshuisvader, is die geleentheidspreker vir die oggend.
Die graadagtleerders vergesel ook die leerderraad na die tradisionele kranslegging by die beelde van die skool se stigters op die terrein van die teologiedepartement van die US.
Die seuns ontvang daarna hul tradisionele “donuts” en ’n spesiale 160-foto is geneem
PRG-gemeenskap: Die skool bied vir die eerste keer ’n pa-en-seun-dinee met die tema “16 Dekades van Legendes“ aan. Die spesiale aand is ’n geleentheid vir pa’s en seuns om op ’n formele wyse tyd te spandeer. Die groot trekpleister van die aand is ’n paneelbespreking onderleiding van Jak de Priester met vooraanstaand pa-en-seun-pare uit die gemeenskap.
Die breër gemeenskap/landswyd: PRG bied in Junie namens die Association for Public Boys’ Schools of South Africa die “Aspiring Deputies en Heads”-konferensie aan. Hierdie konferensie, met die tema: Terroir: a sense of place, word met die ondersteuning van die Universiteit Stellenbosch, DKVG-prokureurs, Fairtree Investments en Koelenhof aangebied. Die uitgang van die konferensie is die ontwikkeling van skoolleiers vir die toekoms deur ’n twee-dagkonferensie waar deelnemers aan topsprekers uit die privaatsektor sowel as die onderwyssektor blootgestel sal word.
“Die PRG-gemeenskap is trots op wat ons in die laaste 10-jaar vanaf ons 150-vieringe vermag het, en sien met trots en hoop uit na die volgende 15 jaar voor ons weer ‘n besonder mylpaal in ons 175ste bestaansjaar vier, “ sê Jannie.

