SA skuldkrisis tydens apartheid belig

Suid-Afrikaanse skuldkrisis 1985/6-versameling werp lig op laaste periode van apartheid in SA

’n Unieke versameling wat aan die biblioteek van die Universiteit Stellenbosch (US) geskenk is, werp nuwe lig op die laaste paar jaar van die stryd om demokrasie. Die Suid-Afrikaanse Skuldkrisis 1985/6-versameling bevat artikels wat verband hou met die Suid-Afrikaanse buitelandse skuldkrisis van 1985–1986 en wat as ’n gebeurtenis in die laaste periode in die anti-apartheidstryd beskou word – aldus D.D Bradlow in sy boek Don’t waste a serious crisis: lessons from South Africa’s debt crisis’ (2016).

Prof Eugene Cloete, viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies, het vandag (Vrydag, 7 Mei) die versameling in die Ou Hoofgebou in Ryneveldstraat in Stellenbosch geopen.

Sir Claude Hankes KCVO*, wat die versameling aan die US geskenk het, het by die geleentheid gepraat terwyl Ellen Tise, senior direkteur: biblioteek- en inligtingsdienste by die US, ’n kort aanbieding oor die versameling gelewer het.

“Die versameling is beketenisvol omdat dit aantoon hoe verreikend en moontlik bedreigend die skuldkrisis van 1985/6 vir die Nasionale Party-regering was en watter rol dit in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel het,” verduidelik Tise.

‘Projek Luiperd’, soos die versameling inligting van banke en die Suid-Afrikaanse regering se daaropvolgende voorstel aan hierdie banke bekendgestaan het, blyk om ’n redelik klandestiene operasie te gewees het en sal waarskynlik nuwe bewyse aan navorsers wat in hierdie kwessie belang stel, bied. Korrespondensie met mense soos die sakemagnaat, dr Anton Rupert, die Brits-gebore anti-apartheidsvegter en geestelike leier, eerwaarde Trevor Huddlestone en die voormalige Suid-Afrikaanse president, PW Botha, wat deel is van hierdie versameling, dui op die omvang van die skuldkrisis.”

Tise voeg by dat die versameling die belangrikheid van die skuldkrisis in die Suid-Afrikaanse geskiedenis onthul, aangesien die terugtrekking van lenings aan Suid-Afrika die land tot op die rand van nog groter chaos gedryf het. “Die versameling is ’n rekord van hoe hierdie krisis afgeweer is.”

Skenking

Sir Claude het in 2020 die Suid-Afrikaanse Skuldkrisis 1985/6-versameling aan die US geskenk. Die versameling word in die manuskripte-afdeling, spesiale versamelings in die US-biblioteek gehuisves.

Volgens sir Claude toon die versameling ook hoe die krisis en die hantering daarvan “vervolgens die Britse eersteminister, Margaret Thatcher, en die Duitse kanselier, Helmuth Kohl, in staat gestel het om ’n ultimatum aan president Botha te stel om te bedank (iets wat tot nou toe nie algemeen bekend was nie)”.

“Die US is baie bevoorreg om ’n versameling van hierdie omvang en geskiedkundige waarde te ontvang,” sê Tise. “Weens die oorsese persepsie van die politieke, plaaslike en ekonomiese vooruitsigte in Suid-Afrika gedurende die skuldkrisis, het buitelandse banke op grootskaal buitelandse krediet aan Suid-Afrikaanse banke en sake-ondernemings begin onttrek. ’n ‘stilstand’ op kapitale terugbetalings ten opsigte van buitelandse skuld ter waarde van $14 miljard by hierdie banke is aangekondig. Onderhandelings met die banke, met dr Fritz Leutweiler, die voormalige president van die Switserse Nasionale Bank, as onafhanklike mediator, het gevolg, aangesien verskeie banke weens politieke redes geweier het om direk met Suid-Afrika sake te doen. “

Sy voeg by dat die versameling ’n magdom van wat ons glo voorheen onvrygestelde inligting is, bevat.

“Die versameling bevat onder meer ’n brief wat Nelson Mandela in 1994 as president van die African National Congress (ANC) aan Leutweiler geskryf het. Hierin gee Mandela erkenning aan die sentrale rol wat Leutweiler gespeel het om die land se oorsese skuld in die tagtigerjare te herbeding en om druk op die voormalige pres. PW Botha, te plaas om Mandela en sy kamerade uit die gevangenis vry te laat,” voeg Tise by.

“Die versameling word verder verryk deur artikels soos algemene korrespondensie, koerantknipsels, memoranda, programme van geleenthede en notules van vergaderings.

Navorsingswaarde van die versameling

“Daar is tans hernude belangstelling in die geskiedenis en invloed van ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika, asook in die faktore wat tot die uiteindelike magsverskuiwing in die Suid-Afrikaanse regering van die dag gelei het,” voeg Tise by. “Hierdie versameling dra by tot die navorsingsbelangstelling en kan nuwe lig werp op dít wat tussen 1985 en 1987 agter die skerms gebeur het. Die versameling bied unieke insigte op die wêreld se sentiment teenoor Suid-Afrika en sy apartheidsbeleide in die middeltagtigers. Dit onthul ook die rol wat Suid-Afrika se sosiopolitieke onrus in samesprekings gespeel het en die beslissende uitwerking wat maatskaplike stabiliteit op die persepsie van ’n land se kredietwaardigheid het.

“Hierdie versameling sal bydra tot navorsing op die gebied van Suid-Afrika se ekonomiese geskiedenis, sosiologie, politiek en regering, asook Suid-Afrikaanse geskiedenis oor die algemeen.”

Meer oor sir Claude Hankes

Sir Claude Hankes, ridderkommandeur van die Koninklike Victoriaanse Orde, was die voorsitter van die bestuurskomitee van Price Waterhouse en Vennote en was by die skuldkrisis in Brasilië en die Filippyne betrokke wat die gevolg van onverantwoordelike uitleningsbeleide deur Westerse banke was. Dr Leutweiler het saam met sir Claude gewerk toe hy president van die Switserse Nasionale Bank en president van die Bank vir Internasionale Verrekening was. Hy het sir Claude versoek om met die strategie vorendag te kom en het Price Waterhouse en Vennote versoek om die infrastruktuur te verskaf.

Prof Thuli Madonsela tydens Vrydagoggend se voorlegging oor Suid-Afrika se skuldkrisis van die 1980’s. Foto: Stefan Els

 

One Reply to “SA skuldkrisis tydens apartheid belig”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!