Gryswalvis stel nuwe afstandsrekord vir migrasie op
In Mei 2013 het mariene bioloë verstom gestaan oor die nuus dat ‘n gryswalvis vir die eerste keer ooit suid van die ewenaaraan die kus van Walvisbaai in Namibië waargeneem is.
Was hierdie walvis moontlik ’n oorblyfsel van ’n Atlantiese bevolking wat volgens vermoede al lankal tot uitwissing gejag is? Die laaste waarneming van ’n gryswalvis was klaarblyklik in die 1740s. Of was dit ’n aanduiding van die begin van ’n nuwe bevolking in dié area?
Nou het navorsers verbonde aan die Durham Universiteit in die Verenigde Koninkryk (VK) en die Universiteit Stellenbosch in Suid-Afrika (SA), dié alleenlopende gryswalvis se geboorteplek as die Noordelike Stille Oseaan geïdentifiseer. Hul bevindings is vandag (9 Junie 2021) in die vaktydskrif Biology Letters gepubliseer.
Terwyl gryswalvisse daarvoor bekend is dat hulle van die wêreld se langste migrasies onderneem, het hierdie Namibiese gryswalvis elke rekord in die boek oortref deur ’n beraamde 27 000 km vanaf sy geboorteplek te reis – bykans halfpad rondom die wêreld.
Prof Rus Hoelzel, ‘n evolusionêre bioloog van die Durham Universiteit en hoofouteur van die artikel, het die volgordebepaling van die hele genoom van die walvis gedoen ten einde die uitdaging van sy herkomsbepaling te kon oorkom.
“Dit identifiseer sy geboorteplek onomwonde as die Noordelike Stille Oseaan. Wat ons egter nié weet nie, is of hierdie merkwaardige lang migrasie slegs ‘n toevallige rondlopery is, en of sy voorkoms in die Atlantiese Oseaan ‘n voedingsuitstappie verteenwoordig, wat moontlik gemaak is deur ‘n deurgang deur Arktiese pakys.”
Vroeg in die negentiende eeu is gryswalvisse rondom Korea en Japan bykans tot uitwissing gejag, maar die bevolking in die oostelike deel van die Noordelike Stille Oseaan was minder erg daardeur geraak. In die Atlantiese Oseaan is die geskiedenis nog onduidelik, maar daar is fossielrekords wat uit die pleistoseen dateer, voeg hy by.
Mede-outeur en bioinformatikus Fatih Sarigol, ook van die VK, sê hulle sou verkies het om met meer as een monster te werk, of om só ’n migrasie met ’n GPS-opsporingstoestel te dokumeteer:
“Niemand kon voorsien dat hierdie walvis die Suid-Atlantiese Oseaan sou besoek nie. Vir sulke onverwagse geleenthede in die wetenskap moes ons van buitengewone metodes gebruik maak om sy herkoms te kon vasstel.”
Dr Simon Elwen en dr Tess Gridley, direkteure van die Namibiese Dolfynprojek en navorsingsgenote in die departement plant- en dierkunde by die US, sê hulle het dadelik geweet dat hierdie waarneming ‘n ongewone gebeurtenis was:
“Gedurende die twee maande wat die walvis in Walvisbaai gebly het, het ons so veel as moontlik inligting ingesamel. Dit het die neem van genetiese monsters behels, asook gedetailleerde foto’s, aangesien grys walvisse op grond van hulle merke geïdentifiseer kan word.”
Hulle het geweet dat die genetiese materiaal hulle sou help om vas te stel van watter bevolking die walvis vandaan kom, en hoe ver dit gekom het. Tot dusver het die foto-identifikasie van die gryswalvis nog geen passing opgelewer nie.
Volgens die navorsers het die waarneming in die Suid-Atlantiese Oseaan, in kombinasie met ‘n handvol ander waarnemings in die Noord-Atlantiese Oseaan oor die afgelope dekade, aangedui dat die spesie aan die beweeg is.
Migrasie van gryswalvisse van die Stille Oseaan-bevolking kan ook toegeskryf word aan menslike bedrywighede:
“Ons glo dat die mees waarskynlike reisroete van die Namibiese walvis, via die Arktiese Oseaan was, ‘n deurgang wat slegs moontlik gemaak is as gevolg van die afname in ysvloei wat toegeskryf kan word aan klimaatsverandering in onlangse jare.”
- Die artikel, “Natal origin of Namibian grey whale implies new distance record for in-water migration”, is op 9 Junie 2021 in Biology Letters gepubliseer. Dit is aanlyn beskikbaar by https://royalsocietypublishing.org/journal/rsbl
MEER OOR DIE NAMIBIESE DOLFYNPROJEK
Die Namibiese Dolfynprojek is ‘n navorsings- en bewaringsprojek wat in Walvisbaai en Lüderitz in Namibië werksaam is. Dit word bestuur as deel van die Sea Search niewinsgewende navorsings- en bewaringsgroep en betrek wetenskaplikes en spesialiste van verskeie Suid-Afrikaanse en insternasionale universiteite en institute. Belangstellende studente kan ‘n internskap by die Namibiese Dolfynprojek en Sea Search doen ten einde belangrike veldwerkvaardighede aan te leer.


