SA Menseregtekommissie se sitting oor taal in koshuisomgewing: 14 Junie
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het gister (14 Junie) by STIAS op Stellenbosch sy ondersoek voortgesit na klagtes oor ʼn vermeende verbod op Afrikaans in die koshuisomgewing by die Universiteit Stellenbosch (US) tydens die verwelkomingstydperk aan die begin van die akademiese jaar.
’n Afvaardiging van die US-bestuur neem nie aan hierdie ronde van voorleggings deel nie, maar het op 10 Mei ’n verskyning voor die SAMRK gemaak. Prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, se volledige voorlegging is hier beskikbaar.
Hy het onder meer in sy verklaring gesê “ons is vol vertroue dat ons studente meer keuses, groter toegang en ’n beter toekoms het danksy ons benadering tot taal”.
De Villiers het ook gesê, “Daar is geen verbod op Afrikaans by die US nie – nie in lesingsale, in koshuise of op enige ander plek op kampus nie. Dit is nié ons beleid nie”.
Hoogtepunte van ’n onafhanklike forensiese ondersoek deur Deloitte is ook vandag (14 Junie) in ’n e-pos deur prof Deresh Ramjugernath, viserektor: leer en onderrig, bekend gemaak.
Die Deloitte-verslag bevind onder meer dat daar geen US-bestuursopdrag was om die gebruik van Afrikaans te verbied nie, en dat koshuisleiers nie ’n verbod op die gebruik van Afrikaans geplaas het nie.
Die US het in sy opvolgverslag aan die SAMRK na aanleiding van die eerste verhoor bevestig dat toe die universiteit van hierdie bewerings bewus geword het, ’n interne ondersoek onmiddellik van stapel gestuur is.
Die US se sentrum vir studentegemeenskappe het dadelik begin om met studenteleiers en studente in koshuise te skakel om te werk aan ’n gedeelde begrip van die taalbeleid. En die kwessies is bevredigend opgelos.
Die US het ook bevestig dat hy verbind bly tot inklusiewe meertaligheid, veral met inagneming van die diversiteit van ons samelewing en die rykdom inherent aan daardie diversiteit.
Vandag het dr Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus, die DAK-netwerk, Frederik van Dyk van Studenteplein, Milna van Dyk, ’n student aan die US, en prof Harold Lesch en dr Amanda Lourens van die departement afrikaans en nederlands aan die US, voorleggings aan die SAMRK gemaak.
Die ondersoek duur vandag voort.
Die US respekteer die Suid-Afrikaanse Grondwet en die werksaamhede van die grondwetlike instellings soos die SAMRK.


