US Woordfees gratis op TV

Toyota US Woordfees binnekort hier – skuif reg voor TV

Met so bietjie meer as twee weke oor voor die eerste digitale aanbieding van die Toyota US Woordfees, heers daar groot belangstelling onder getroue feesgangers om die fees op hierdie platform te ervaar.

Die Woordfees TV-opwipkanaal se program is op 1 September gelyktydig op die Woordfees se Facebook-blad en die DStv YouTube-kanaal bekend gestel. Fees TV, soos dit op DStv bekend sal staan, is die eerste kunstefees wat op Suid-Afrikaanse televisie uitgesaai word en dit sal van 1 tot 7 Oktober 2021 op die lug wees.

Fees TV bring die verskeidenheid en vreugde van een van Suid-Afrika se grootste kunstefeeste na die kassie. Die programinhoud sluit ’n wye verskeidenheid van genres in wat top plaaslike talent ten toon stel: teater, skrywers en boeke, dans, leefstyl, stand-up-komedie, kontemporêre en klassieke musiek, film, diskoers en visuele kuns. Die program het ’n sterk fokus op gehalteboeke, -teater, -musiek en -film in Afrikaans.

Fees TV sal in Suid-Afrika van 1 tot 7 Oktober 2021, 24 uur ’n dag, op DStv-kanaal 150 aan alle Premium- en Compact Plus-intekenaars beskikbaar wees. In Namibië word dit op GOtv-kanaal 15 uitgesaai, waartoe alle GOtv Max-intekenaars toegang het. Die Fees TV-opwipkanaal sal ook op DStv Now beskikbaar wees en ’n verskeidenhied van aanbiedings ook op DStv Catch Up.

“ ’n Groot verskeidenheid inhoud deur plaaslike vervaardigers is uitgesoek met die belangstellings en voorkeure van ons lojale feesgangers in gedagte. Die feesprogram sal dus aanklank vind by alle kultuurnuuskieriges en liefhebbers van die kunste, boeke, musiek, goeie kos en wyn. Mense uit verskeie omgewings en agtergronde sal kan saamkom rondom hul entoesiasme vir die kunste om skoonheid, skouspel, debat, stimulerende en uitdagende idees en ’n gevoel van gemeenskap te ervaar. Leefstylinhoud sal fokus op alles wat Stellenbosch en omgewing bied, aangesien dit die plek is waar die fees gewoonlik aangebied word,” sê die Toyota US Woordfees-direkteur, Saartjie Botha.

Die fees word gratis op hierdie kanale aan kykers gebied.

Strauss & &Co bied ‘n omvattende kunsveiling tydens die fees aan.

Amanda Strydom se vertoning Stadig oor die Klippers beloof om baie gewild te wees. Foto: Merwelene van der Merwe
David Kramer is altyd ‘n gunsteling by die fees.
Ferine en Ferase, nog ‘n item op die dansprogram. Foto: Nardus Engelbrecht

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!