Is Stellenbosch ’n besonderse/unieke dorp?
Cornelia de kock
” Dit is die maand Oktober, die mooiste mooiste maand…” So het C. Louis Leipoldt die lente in sy geboortewêreld, die Cederberge, beskryf.
Die legendariese doktor Con de Villiers het lente op Stellenbosch so verwoord:
“Vriende, kyk die lug word blou,
groen is boom en blaar,
sonskyn bring weer nuwe moed-
lentetyd is daar.
In Stellenbosch bloei weer die bome,
die wintertyd is nou verby,
dan droom ons weer salige drome
want lente is weer in ons land.”*
Terwyl ons almal steeds in die wuggreep van die pandemie leef, het ons die sonskyn wat die “nuwe moed bring”, so oneindig nodig.
’n Predikant het by geleentheid, toe ’n lidmaat vir hom ’n glasie wyn aangebied het, dit bedank en opgemerk:” Dit is onbekend aan my.”
Toe ek so vyftig jaar gelede as skrikkerige eerstejaar en gebore Vrystater, vir die eerste keer my voete op Stellenbosch-grondgebied gesit het, was die lente eweneens “onbekend aan my!”
In die Rosestad waai die wind geniepsig in Augustus en sleep stofwolke met hom mee. Kragies en mousboordjies is selfs vol rooi sand – nogal ’n uitdaging vir wasvroue.
Anderkant die Oranjerivier is September onmiddellik kokend warm – daar is geen milde oorgang na somer nie. Met bloeisels wat bot en die reuk van katjiepiering het ek nie grootgeword nie.
Lente in Stellenbosch doen sy naam gestand. September is nie werklik die lentemaand nie. September is nog ysig koud, maar die koeler weer berei plant, dier en mens voor op die skouspel wat in Oktober volg.
My eerste kennismaking met die kappertjietapyt op die oewer van die Eersterivier sal ek nooit vergeet nie. Die reuk van jasmyn in die blompotjie op my studeertafel sal my altyd bybly.
Elke Stellenbosser besef ook Oktoberweer is ongestadigd en om wintersklere weg te pak, is baie dom. Ek onthou ook hoe my ma wat as bejaarde hier kom woon het, nooit daaraan gewoond kon word nie en elke lente gekla het: ” Die winter wil maar nie ophou nie.”
Dan hoor ek weer die waar woorde van gebore en getoë Stellenbosser: “Jy moenie die Bolandse winter te gou afskryf nie.”
Soos ek hier sit en tik op Saterdag, 16 Oktober, hoor ek die weervoorspelling vaagweg in die agtergrond: “Daar is twee koue fronte op pad.”
Juis hierdie onvoorspelbaarheid maak Stellenbosch enigmaties: vandag pak ons die kaggelhout weg en môre sneeu dit dalk. Binne drie dae styg die kwik en die blomme dra hul mooiste, veelkleurige rokkies.
Om langs en oor die Braak te stap is asof jy jou binne-in ’n landskapskunswerk bevind: gesiggies in volle blom – die groot Skilder se kleurpalet.
Kyk ‘n mens op na die berge, wil jy saam met die Psalmdigter sê: “Rondom Stellenbosch is daar berge, so is die Here rondom sy volk…”
Vriend en vyand sal saamstem dat Stellenbosch se natuurskoon uniek is en dat dit die dorp uitsonderlik maak.
Landgoedwyne, druiwe, sagte- en sitrusvrugte, en snoek is net ‘n hanetreetjie ver- om nou maar net ’n paar bederfvoedsels te noem.
Andrè van der Merwe en die geskiedkundige Universiteitskoor laat steeds musiek oor die dorp en oor die wêreld heen weerklink:
“Hoe verkwiklik, hoe verruklik is ’n lied uit Stellenbosch
Voel jy olik , voel jy vrolik
Dit gaan kop toe net soos mos
Ja, bepaald so ‘n lied hoor jy net uit Matiekele…”**
Soos alle dorpe het Stellenbosch sy gawe, vriendelike en aangename mense, maar ook sy knorpotte en Jobstroosters. Die verskeidenheid waaruit jy jou vriende kan kies, is gelukkig groot: die boekgeleerdes, diegene met doodgewone “common sense”, die kunstenaars, die taalvegters en hulle wat met hul twee hande dit kan doen wat jy nie in ’n boek kan leer en waarsonder geen professor of dominee kan klaarkom nie.
Daar is inwoners wat in stokou huise woon waarin hul ouers voor hul gewoon het. Daar word gesê:” In stellenbosch word ou slotte nie vervang nie; dus kultuurgeskiedenis. ” Daar is ook andere wat huise platslaan en herehuis in die plek daarvan oprig.
Ala, Dirk Opperman: ” ’n Stellenbosser in elke geur.”
Voorwaar ‘n bonte verskeidenheid wat aan die dorp sy eie, unieke speserygeur gee. Dis net die ewige parkeerprobleme wat ’n kopseer bly en die dorp ongewild maak.
Maar, nee, wag ’n bietjie – vir nou al meer as ’n week is parkering oral in die dorp gratis! Ongelukkig het ’n mens nou nie ’n graad in kernfisika nodig nie om te weet dat daar eersdaags weer parkeermeters en alles wat daarme gepaardgaan, sal wees.
Alles in ag genome: kan enige plek op die aardbol nou meer volmaak as die Eikestad wees?
*”Im Prater blüh’n wieder die Bäume.”
**”Lied aus Wien.”( Beide vertalings CGS de Villiers).
Cornelia de Kock
Stellenbosch
Oktober 2021


