Franschhoek se mense is amptelik ‘veilig’!
Met Covid-19 wat weier om die aftog te blaas, is daar darem goeie nuus uit Franschhoek. Hierdie gewilde toerismebestemming se bevolking is amptelik “veilig” verklaar nadat meer as 80% teen die virus ingeënt is, die eerste dorp in Suid-Afrika wat daarin kon slaag om soveel mense teen die virus ingeënt te kry.
’n Projek met die volle ondersteuning van premier Alan Winde, Wesgro en die departement van gesondheid, het teen die einde van Augustus afgeskop wat ten doel gehad het om almal in die vallei teen die virus in te ent. Dit is onderneem in ’n poging om plaaslike en internasionale besoekers vinniger na die streek te lok, asook om werkskepping in Franschhoek ’n broodnodige hupstoot te gee.
Voordat die veldtog afgeskop het, het Franschhoek slegs twee inentingsdatums per maand gehad. Om die sogenaamde kudde-immuniteit te bereik, moes ’n minimum van 960 mense per dag ingeënt word, wat uiteraard ’n duur proses was en ’n koste wat deur Franshchoek Tourism self gedra moes word. Die daaglikse geprojekteerde koste van R37 600 was om onder andere beamptes, koördineerders en skoonmakers te betaal, asook hul etes en vervoer na en van die inentingsentrums. Deur middel van verskeie geldinsamelingsveldtogte, wat ’n GoFundMe-rekening ingesluit het, is die doelwit bereik.
Die uitslag was fenomenaal. Nie alleen is 85% van die mense in die streek ingeënt nie, maar die plaaslike kliniek was in staat om die dienste van ’n verpleegster te bekom wie se enigste verantwoordelikheid was om daagliks inentings toe te dien. Hierbenewens was Clicks so beïndruk dat hulle ingespring het en bykomende inentingsdae voorsien het in hul Franschhoek-tak.
“Nie alleen is die projek deur Franschhoek Tourism self gedryf nie, maar dis aktief deur die hele gemeenskap ondersteun aangesien die behoefte om toeriste veilig terug te kry om die vele aanbiedings te ervaar en geniet, uiters belangrik is. Ons is só dankbaar vir Winde se hulp en bystand om ons visie ’n werklikheid te maak,” sê Ruth McCourt, Franschhoek Tourism se bemarkingsbestuurder.
