190 glans-landboujare gevier

Agri-Expo vier 190 jaar in landbou – opwip-kaasfeeste oppad

Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika en Afrika, vier vanjaar sy 190ste bestaansjaar – en dit met mening.  Op Maandag 29 November 2021 tydens sy spesiale 190ste bestaansjaarvieringe op die landgoed Cavalli buite Stellenbosch, het Agri-Expo prominente landbourolspelers vereer en opwindende planne vir 2022 aangekondig. Nuwighede sluit ’n internasionale landbou-in-die-klaskamer-projek, ‘n kykNET-televisiereeks oor kaas en ’n reeks SA Kaasfees Opwip-pieknieks in.

Agri-Expo betree in 2022 nuwe terreine op nuwe platforms, sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo: “In ‘n eerste vir Agri-Expo begewe ons ons in die opwindende wêreld van televisie met die heel eerste Suid-Afrikaanse kosreeks oor die veelsydigheid van kaas saam met ons vennote Ladismith Cheese en Sea Harvest. Die TV-reeks van dertien episodes, met sjef Tiaan Langenegger as aanbieder, word deur Homebrew Films vervaardig en word van April tot Junie 2022 op kykNET uitgesaai.

“In ‘n eerste vir Suid-Afrika én Afrika neem ons landbou na die klaskamer met Farmer Time South Africa as deel van die internasionale Farmer Time-projek wat digitale kommunikasie benut om jongmense te inspireer, te betrek en op te voed oor landbou. Die projek is deur die boer Tom Martin in die Verenigde Koninkryk begin en is reeds in Australië, Swede, Finland, Ierland, Denemark en Nieu-Seeland gevestig. Leerlinge gesels regstreeks via ‘n video-oproep met ’n boer vanuit hul klaskamers. Agri-Expo het vanjaar ’n aanvoorprojek by Hoërskool Porterville begin en sal dit in 2022 verder uitbou.

“Werklike goeie nuus is dat die bekroonde SA Kaasfees ná twee jaar terugkeer. Kaas- en wynliefhebbers kan uitsien na ‘n splinternuwe ervaring – ‘n  besonderse reeks SA Kaasfees-opwip-pieknieks oor vier naweke in April 2022. Die Opwip-pieknieks word saam met uitgesoekte vennote by vier van die Kaap se gewildste bestemmings aangebied – van die Wynland tot Walkerbaai tot die Weskus en weer terug na die Wynland.

“Die eerste Opwip-piekniek vind op Saterdag 2 en Sondag 3 April 2022 by Warwick-wynlandgoed buite Stellenbosch plaas, die tweede op Saterdag 9 en Sondag 10 April 2022 by Benguela Cove-wynlandgoed buite Hermanus, die derde op Saterdag 23 en Sondag 24 April 2022 by Groote Post-wynlandgoed buite Darling, en die vierde en laaste op Saterdag 30 April en Sondag 1 Mei 2022 op Sandringham buite Stellenbosch.”

Bekyk landbou opnuut

Volgens Ehlers vier die organisasie 190 jaar van erfenis én 25 jaar van innovasie. “Die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap is in 1831 gestig en Agri-Expo, ons bemarkingsnaam, in 1996. Vernuwing was nog altyd deel van ons DNA, waaronder die aanvoorwerk om georganiseerde landboustrukture in Suid-Afrika te vestig, soos die eerste departement van landbou in die Kaap in 1886, en ‘n landboukollege in 1888,” sê Ehlers.

Oor die afgelope 25 jaar het Agri-Expo daarin geslaag om met innovasie en kreatiewe denke aan die voorpunt te bly, aldus Ehlers: “Ons het opwindende geleenthede in verskillende landboubedrywe geskep en herskep sodat mense met nuwe oë na landbou kyk, ook danksy die mediablootstelling ter waarde van R80 miljoen wat ons jaarliks genereer.”

Volgens Ehlers sluit hoogtepunte oor die afgelope 25 jaar in:

  • die stigting van die nasionale Jeugskouvereniging (1998),
  • die ontwikkeling van die Qualité-logo (2001) as die enigste merk van gehalte vir SA suiwelprodukte,
  • die geboorte van die SA Kaasfees-handelsmerk in 2002 en die deure wat dit vir agri-preneurs oopgemaak het,
  • die From the Earth Expo (2006, 2009) in die Kaapstad Internasionale Konvensie Sentrum (KIKS),
  • ‘n wêreld-eerste middestad-perdeveiling in die KIKS (2011),
  • ‘n wêreldstandaard-skouring by Agri-Expo Livestock (2014-2019),
  • die omskep van inligtingsdae vir nuwe en klein boere in hibriede SIYABONGA-dae (2020),
  • die heel eerste virtuele toekenningsgeleentheid in die landbousektor, die 2020 Qualité-toekennings, wat die weg gebaan het vir vele ander virtuele geleenthede,
  • die 2020 Sauvignon Blanc SA Top 10-toekennings met Nataniël as gaskunstenaar wat deur bekende wynskrywers as die beste toekenningsgeleentheid in die bedryf beskryf is,
  • en die feit dat Agri-Expo die enigste organisasie ter wêreld is wat ‘n suiwelkampioenskappe ononderbroke in 2020 en 2021 tydens die pandemie kon aanbied.

“Agri-Expo het sedert sy stigting ‘n impak op baie aspekte van mense se lewens gehad,” skryf Haar Koningklike Hoogheid Prinses Anne in ‘n gelukwensingbrief uit Buckingham Paleis in haar amp as President van die Royal Agricultural Society of the Commonwealth (RASC). Volgens Prinses Anne bied die herdenking ook ‘n geleentheid om erkenning te gee aan diegene wat elke dag ‘n verskil aan landbou in Suid-Afrika maak.

Landbou-ikione vereer

Twee landbou-ikone, Alan Winde en Joyene Isaacs, is op Maandag 29 November met die nuut-ingestelde Agri-Expo-eretoekenning vereer. Winde, Wes-Kaapse Premier, ontvang dié toekenning vir sy bydrae tot landbou gedurende sy termyn as LUR vir ekonomiese geleenthede (2014-2018), asook as premier van die Wes-Kaap, en die direkte impak daarvan op die dinamika van Agri-Expo. Isaacs, voorsitter van die Landbounavorsingsraad (LNR), is vereer vir haar bydrae tot landbou gedurende haar termyn as departementshoof van die Wes-Kaapse departement van landbou (WKDL) (2005-2020). Die internasionale suiwelkenner Kobus Mulder is ook as Agri-Expo Ere-president vereer.

Winde sê dit is ‘n voorreg om vereer te word vir sy pogings om landbou te ondersteun: “Landbou is ‘n dryfkrag van die provinsie se ekonomie en dit bly ‘n prioriteit om te verseker dat landbou suksesvol is. Ons het die voordeel van landbou die afgelope 19 maande duidelik gesien, waar dit gehelp het om die pandemie se invloed te versag deur broodnodige werk te skep. Ons moet landbou verder uitbrei en ons mededingende voordeel in hierdie ruimte benut.”

Isaacs het erkenning gegee aan die span by die WKDL wat saam met haar gewerk het en die geleenthede wat Agri-Expo geskep het: “Hierdie toekenning is net so veel oor Agri-Expo wat goeie werk doen as oor die departement en die briljante span wat sáám met my gewerk het om te bereik wat ek ten doel gehad het.”

Volgens Ehlers is die sluit van vennootskappe deurslaggewend vir ‘n visionêre benadering tot landbou: “Ons bedank graag ons platinumvennoot die Wes-Kaapse Departement van Landbou, asook al die vennote van Agri-Expo se herdenkingvieringe, waaronder ons platinumvennoot Standard Bank met wie Agri-Expo ‘n 150-jaar verhouding het.”

‘n Opwikaasfees word ook weer volgende jaar op Sandringham aangebied.
Groote Post naby Darling is een van die wynlandgoedere waar ‘n opwipkaasfees volgende jaar aangebied word.
Benguela Cove in die Overberg gaan ook gasheer speel vir ‘n opwipkaasfees in 2022.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!