So amper-amper of Maties struikel weer

Stellenbossers nou derde op Varsitybeker-punteleer

Maties het Maandagaand so byna-byna oor hul eie voete gestruikel toe hulle  ‘n naelskraapse oorwinning van 40-38 oor UJ in vanjaar se Varsitybekerkompetisie behaal het. Dit was hul eerste uitdraf op tuisbodem.

UJ het eerste bloed geruik  met ‘n drie deur Brendon Pawson na ‘n sterk rolmaalbeweging wat die Maties onverhoeds betrap het. Kort daarna het die Maties verder gesteier nadat Kelvin Kanenungo ook agter die Stellenbossers se doellyn gaan kuier het.

Maar soos gewoonlik het Maties weer in rat gekom en met Brendan Venter in die middelveld en Sean Swart aan die spits, het die Stellenbosse studente gaandeweg beter begin vertoon.

Drieë deur Sibabalwe Xamlashe (1×7), Waqar Solaan en Sean Swart (2) het gesorg dat die telbord ten gunste van die Maties kon bly voortrol en met die ondersteuning van die geleerde skopvoet van Fleurs wat drie drieë verdoel en met vier strafskoppe geslaag het, kon die Maties ‘n sug van verligting slaag toe die eindfluitjie blaas.

Vir UJ het Johannes Terblanche, Kelvin Kanenungo, Likhaya Tengimfene (1×7), Rowan Malgas en Babalo Makana gaan druk, met Jonathan Viljoen wat drie doelskoppe suksesvol hanteer het, Shaun-Christian Baxter wat een maal suksesvol was en Viljoen met een strafdoel geslaag het.

Sean Swart van Maties was die Player that Rocks.

Op die punteleer begin dinge nou beter lyk vir Maties wat met 15 punte in die derde plek is, net een punt agter Shimlas wat bo lê en Ikeys wat 16 punte elk het. Elkeen van dié spanne het al een wedstryd verloor, maar die Maties se punteveskil van 17 is heelwat laer as die van Shimlas (61) en die Ikeys (28).

Eerskomede Maandag pak Maties die Ixias, wat tans heel onderaan die punteleer is en nog net een van hul vier wedstryde kon wen.

Maties se volgende tuiswedstryd is op 23 Maart wanner hulle teen die NWU Eagles uitdraf.

Foto’s en videos: Thys Lombard

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!