Maties buig knie voor Tukkies

Toe word die lente winter vir Maties in eindstryd

Vir die eerste keer in 9 jaar het Tukkies se Varsitybekerrugbyspan gisteraand die onverwagse reggekry en Maties in die eindstryd van die Varsitybekerkompetisie met 29 – 23 op sy tuisveld geklop.

Die Tukkies kon laas in 2013 die Maties op hul tuisbodem klop – ook in die eindstryd om die gesogte beker.

In ‘n wedstryd vol drama het Tukkies se kookwater-skrumskakel, Bernard van der Linde, in die doodsnikke ’n drie gaan druk wat die oorwinning aan die besoekers gegee het. Die drie moes egter eers deur die televisieskeidsregter bevestig word, aangesien ‘n moontlike vorentoe-aangee op die kaarte was. Maties en Tukkies het nou altwee die kompetisie reeds vyf keer gewen.

Tuisveld-voordeel en ‘n skare wat bankvas agter die maroentruie gestaan het, was ongelukkig ook nie genoeg om ’n sege vir die tuisspan te verseker nie.

Soos verwag, het Maties se voorspelers die wedstryd veral in die eerste helfte gedomineer, met die agterspelers wat druk toegepas en punte aangeteken het.

Nevaldo Fleurs, Matie-losskakel, het die spel gedikteer en Tukkies se verdediging deurgaans getoets.’n Kruisskop van Taigh Schoor het in die hande van Mike Mavovana beland vir die eerste drie van die wedstryd. Dit was ook Maties se enigste. Fleurs se skopskoen was akkuraat en hy kon vyf strafskoppe oor die pale sit sodat Maties teen rustyd met 20 – 10 voor was.

In dire tweede helfte het die momentum in die guns van Tukkies verskuif en in die 53ste minuut kon Kabelo Mokoena vir die besoekers gaan druk. Kort daarna is nog ‘n drie nie toegeken nie nadat die Maties hul witkaart-appél aangeteken het en dit gehandhaaf is.

Mokoena was kort daarna weer ager die doellyn en in die 70ste minuut was die wedstryd op ‘n mespunt gebalanseer.

‘n Los skop deur Maties het in die hande van Tukkies se heelagter, die lenige Stefan Coetzee, beland en hy het uit sy kwartgebied ‘n naellopie begin. In Maties se kwartgebied het hy vir Van der Linde, wat op sy skouer was, aangegee wat die wendrie gaan druk het. Maties het ook hierdie drie bevraagteken, maar dit is deur Egon Seconds, die TMO, van die hand gewys en Tukkies is as 2022 se Varsitybekerkampioene gekroon. Met vier drieë teen een is die oorwinnig welverdiend.

Fleurs is na die wedstryd as die toernooi se Back that Rocks aangewys.

Anton du Toit,vleuel van Maties, probeer ‘n teenstander van Tukkies ontduik. Foto’s: Asem TV
Mike Mavovana druk sy span se eerste enigste drie.
Adriaan van der Bank, Maties se kaptein in aksie in die Varsitybekereindstryd gisteraand op die Danie Craven-stadion.
Nevaldo Fleurs probeer ‘n verdediger van Tukkies klop.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!