Dataskool loop voor met innovasie

 US se drie jaar oue dataskool reeds ’n wêreldleier

 Met die bekendstelling van sy skool vir datawetenskap en rekenaardenke in Julie 2019 het die Universiteit Stellenbosch (US) die hoop uitgespreek dat die nuwe entiteit ’n wêreldklasinstelling sou word. Skaars drie jaar later word die skool reeds wyd erken as ’n voorloper op sy gebied.

Prof Kanshukan Rajaratnam, wat in Januarie 2020 as direkteur van die skool aangestel is, skryf dié snelle vordering daaraan toe dat die US reeds oor hoogs bekwame datawetenskapsakademici en -programme beskik het voordat die skool geskep is. Nogtans moes die werk van die verskillende fakulteite gekonsolideer word.

“By die meeste universiteite vind datawetenskapswerk in fakulteitsilo’s plaas,” verduidelik hy. “By die US verstaan ons egter dat datawetenskap oor alle fakulteite heen moet strek. So, om die werk wat reeds afsonderlik by ons universiteit gedoen is te konsolideer, het prof Wim de Villiers, rektor van die US, die skool vir datawetenskap en rekenaardenke van stapel gestuur om groter doeltreffendheid en interdissiplinariteit teweeg te bring.”

Vir die US was die behoefte aan die skool ’n dringende een. “Ons het geweet ons moet vermoë bou op die terrein van datawetenskap en rekenaardenke om lewens oor die hele vasteland te verbeter – hetsy in die gesondheid- en medisyne-, voedselproduksie- of ander sektore,” sê Rajaratnam.

Die Covid-19-inperking wat vroeg in 2020 opgelê is, het werk aanvanklik vertraag. Nietemin het diegene wat die visie van die Skool moes implementeer hulle nie van stryk laat bring nie. Hulle het die eerste jaar ná die skool se bekendstelling gebruik om ’n strategie vir personeelaanstellings te bedink, en het besluit om van gesamentlike aanstellings gebruik te maak.

“Hierdie personeellede staan dus met een voet in ’n bepaalde fakulteitsgebaseerde US-departement, en met die ander in die skool,” verduidelik Rajaratnam. “Dít bevorder interdissiplinariteit, want dit stel ’n mens in staat om kennis van jou departement na die Skool te bring, en andersom. Boonop kan akademici wat só aangestel is met mekaar skakel en saamwerk aan inter- en multidissiplinêre navorsing.”

Rajaratnam verwys na die gesamentlike aanstelling van prof Tulio de Oliveira om die sukses vn hierdie strategie te illustreer. Dié wêreldbekende wetenskaplike, ’n professor in bio-informatika, is gesamentlik deur die skool en die fakulteit natuurwetenskappe sowel as geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aangestel. Die MIT Technology Review van die prestigeryke Massachusetts Instituut vir Tegnologie het onlangs De Oliveira se werk om Covid-19-variante te identifiseer en na te spoor as een van die tien tegnologiedeurbrake van 2022 bestempel.

“Omdat gesamentlike aanstellings soveel verskillende verhoudings behels, leer ons nog elke dag iets nuuts oor hoe om dit optimaal te bestuur,” erken Rajaratnam. “Ons wil ons personeellede in staat stel om die beste moontlike navorsing te onderneem, en hulle ’n omgewing bied om in te floreer.”

Die skool spog tans met tien nadoktorale genote en agt navorsers, waaronder die Capitec-leerstoel, die AIMS Junior-leerstoel in datawetenskap vir klimaatsveerkragtigheid, en die leerstoel in rekenaardenke. Ook die Standard Bank-laboratorium is hier geleë.

“Dít bied ’n aanduiding van die bedryfsamewerking waarby die skool betrokke is,” sê Rajaratnam. Daarbenewens beskou die nasionale navorsingstigting twee van die skool se akademici – Rajaratnam en prof Bruce Watson, die bekleër van die leerstoel in rekenaardenke – as internasionaal gerekende wetenskaplikes.

Die skool het ’n jaar ná sy bekendstelling, in Junie 2020, die Afrikadatawetenskapsakademie tot stand gebring. “Dink daaraan as die onderriggedeelte van die Skool,” sê Rajaratnam. “Dit reël werksessies en kortkursusse om akademici en navorsers se vermoë te bou – nie net by ons universiteit nie, maar ook in die res van Suid-Afrika, Afrika en die wêreld.”

Die Akademie het in 2020 drie kursusse aangebied. In 2021 is die aanbod tot agt kursusse verhoog, onder meer ’n inleiding tot datawetenskap en rekenaardenke wat gratis vir studente aangebied is.

“Onderwys in Suid-Afrika is oor die algemeen buite soveel mense se bereik, so ons het onsself afgevra hoe ons ons vaardighede kan gebruik om ’n groter groep mense met datawetenskaplike kennis toe te rus,” sê Rajaratnam. Die Akademie het meer as 2 000 aansoeke vir die inleidende kursus ontvang, maar om logistieke redes kon slegs die helfte aanvaar word.

“Ons het ’n kursus van wêreldgehalte vir studente van oor die hele wêreld aangebied,” voeg Rajaratnam trots by.

Die skool het ’n besige jaar wat voorlê. Benewens sy gewone akademiese program, is hy betrokke by ’n aantal projekte met verskeie internasionale vennote. Die Skool sal in die loop van die jaar vier webinare aanbied om voor te berei vir sy Masjienleersomerskool, wat in Januarie 2023 in vennootskap met Praelexis aangebied sal word. ’n Kursus oor digitale burgerskap word ook vir November 2022 in Italië beplan in samewerking met KU Leuven (België) en Waseda-universiteit (Japan). Danksy ’n interne vennootskap met US Internasionaal sal beurse beskikbaar gestel word sodat US-studente dit kan bywoon.

Boonop sal werk aan ’n aanlyn oop kursus oor ontwrigtende tegnologieë vir klimaatsverandering – in vennootskap met universiteite in Europa en Suid-Afrika – uitloop op ’n somerskool in Februarie 2023. Terselfdertyd beoog die skool om sy eie sentrums en navorsingsgroepe op die been te bring wat met akademici by die skool, in US-fakulteite en met eksterne rolspelers sal saamwerk om hulle navorsingsdoelwitte te bereik.

“Ons is gelukkig dat ons rektoraat uiters toekomsgerig is,” sê Rajaratnam. “Met die Skool het hulle ons ’n wonderlike geleentheid gebied om datawetenskap en rekenaardenke te bevorder.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!