Soek sappige sampioene saam met kenners

Delheim-Landgoed se wilde sampioen-snuffeltog is terug

Van groot karbonkels teen ’n boomstam tot ragfyn sampioenkoppies, al hierdie begeerlike paddastoele wag op jou noudat die wonderlike jagtog vir wilde sampioene by Delheim-landgoed in Stellenbosch terug is.

Dié bekende kelder kom nou as’t ware weer uit die donker op soos die heerlike boslekkernye en bied vanjaar sy kundige begeleide uitstappies aan tydens die jaarlikse baie kort seisoen.

As jy lus is om deel te neem, sal jy moet spring. Nie net omdat sampioene net vir ’n kort rukkie ná die eerste winterreën hul opwagting maak wanneer die toestande perfek is nie; maar ook omdat die Delheim-sampioensnuffeltogte net vir eendag – die openbare vakansiedag, 16 Junie (Jeugdag) – vir die publiek aangebied word.

As jy dit misloop, is daar gelukkig ’n ander opsie. ’n Bykomende dag word vir 2 Julie beplan, maar dit is uitsluitlik vir lede van die landgoed se wynklub. As jy nie reeds ’n lid is nie, is dit nou die regte tyd om aan te sluit.

Die lekker nuus vir vanjaar is dat deelnemende snuffelaars weer eerstehands van die gasheerduo – wat dit al 15 jaar lank ’n hoogtepunt op die Kaapse wynland-dagboek gemaak het – sal leer. Delheim se Nora Thiel het in ’n huis grootgeword waar daar gereeld vir sampioene gesnuffel is. Die skrywer en sampioenspesialis, Gary Goldman, sluit by haar aan. Albei van hulle is meester-mikrofiele wat al genoeg oefening gehad het om dié fungus uit te snuffel.

Groepe word tot slegs 30 deelnemers beperk, sodat elkeen ’n intieme- en eerstehandse ervaring in hierdie opskiet-geleentheid kan geniet. Elke kaartjie sluit die oorsig oor sampioen-variëteite – wat natuurlik dié wat liefs vermy moet word en dié eetbares insluit, die snuffel-uitstappie in Delheim se woud, ’n driegang sampioen-geïnspireerde middagete en wyne van die landgoed, in.

Behalwe die insiggewende praatjie en pret wat die geleentheid self inhou, is die Delheim-sampioen-snuffeltogte ok baie gewild vir die woud waar die paddastoele groei.

Dis hier waar die fungi ongestoord floreer, sy drade onder die woudvloer weef en organiese materiaal in gesonde grond omskep.

Trouens, eetbare sampioene word dikwels aan verskeie gesondheidsvoordele gekoppel en sommige kulture beweer selfs dat hulle bonatuurlike magte het. Wat ookal hul towerkrag, baie spesies is heerlik as ’n gereg, met van die beste voorbeelde hiervan, wat op Delheim groei.

Of jy dus net lus is vir (padda)-wales of net uit jou gemak(stoel) wil opstaan, dis jou kans om saam met die kabouters en feetjies te gaan speel. Dis tyd om op Delheim te gaan kuier.

Besonderhede:

Koste:                                      R650 per persoon

Besprekings:                           Noodsaaklik, epos marketing@delheim.com.

Bring:                                       ’n Mandjie, knipmes, stapskoene en reënbaadjie

Ouderdomsbeperking:            Geen o.18’s

 

BELANGRIK: Wilde sampioene is totaal van die natuur afhanklik en dus onmoontlik om met akkuraatheid te voorspel, veral na lang droogte-periodes. Alhoewel die Delheim-geleenthede tydens die sampioen-hoogseisoen gehou word, kan die landgoed nie waarborg dat daar wel sampioene op die dae sal wees nie.

Delheim Landgoed is in die Simonsberg sub-streek van die Stellenbosch Wynroetes, op die Knorhoekpad, van die R44, geleë.

Al hierdie heerlike paddastoele wag op jou by Delheim-landgoed.
Delheim se sampioensnuffeltogte word vanjaar net vir een dag aangebied.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!