Kamermusiekfees gaan weer keur van internasionale musiek bied

Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees is terug!

Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) is na ’n afwesigheid van twee jaar as gevolg van die COVID-19 pandemie, terug.

Die 17de SIKMF sal van 1 tot 10 Julie 2022 by die Konservatorium, die tuiste van die Universiteit Stellenbosch (US) se musiekdepartement, plaasvind.

“Te midde van die Covid-19-pandemie, maar met `n positiewe uitkyk op die toekoms, het die  bestuur van die SIKMF begin om uitnodigings vir vanjaar se fees aan alle belangstellendes te rig,” sê dr Peter Martens, SIKMF-drekteur.

“Oor 16 agtereenvolgende jare was die SIKMF `n belangrike gebeurtenis op die opvoedkundige en kunstekalender van die Wes-Kaap. Die Covid-19-pandemie het ongelukkig meegebring dat die kamermusiekfeeste van 2020 en 2021 afgestel moes word. Voor dit het die fees jaarliks ongeveer 300 studente na Stellenbosch gelok, waarvan ongeveer 80% uit die verskillende provinsies van Suid-Afrika en 20% vanuit die buiteland afkomstig was. Die fees se artistieke direkteur, Nina Schumann, nooi jaarliks `n keur van die wêreld se mees vooraanstaande musici uit om op die fees se personeel te dien.”

Martens voeg by dat planne nou op koers is om hierdie ware fees van klassieke musiek met die deelname van `n aantal beminde kunstenaars van vorige jare van stapel te stuur. Hulle is almal gretig om te onderrig, te inspireer en op ons plaaslike verhoë op te tree.

“Madeline Adkins, Alissa Margulis en Nicholas Dautricourt (viool), Gareth Lubbe (altviool), Marco Silva (trompet), Demarre McGill (fluit) en Weston Sprott (tromboon) is van die kunstenaars uit die VSA, Frankryk, Duitsland en Portugal wat in Suid-Afrikaanse studente en gehore se harte ingekruip het. Saam met `n nuweling soos Knut-Erik Sundquist (kontrabas) en Kyril Zlotnikov (tjello), het hulle reeds hul vaste onderneming gegee om aan die opkomende fees deel te neem.

Lede van die publiek word weer uitgenooi na die verskeie aandvertonings met kaartjies beskikbaar by Computicket (Kaartjieverkope open 1 Mei 2022). ’n Feespas bied toegang om etensuurkonserte, meesterklasse, praatjies en konserte by te woon en kan via die SICMF-webwerf bespreek word: www.sicmf.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!