Franschhoek vier Bastille | 16 & 17 Julie
Na ‘n afwesigheid van twee jaar keer die immergewilde Bastille-fees terug na Franschhoek. Oor die naweek van 16 en 17 Julie sal hierdie bekende Bolandse dorp se hoofstraat weer gasheer speel wanneer “alles Frans” gevier word. Stof dus die klere in rooi, wit en blou af – en moenie die baret vergeet nie! – en skud die vere reg vir ‘n fees van kos, wyn en vermaak.
Franschhoek se hoofstraat sal oor dié naweek oorloop van aktiwiteite, wat Frans-geïnspireerde straatkos uit die restaurante langs die straat insluit. Gryp ‘n varsgebakte croissant, gevulde baguette, croque monsier, moules frites of stomend warm kaneelsuikerpannekoek terwyl jy die feesaanbiedings geniet. As jy nie iets in rooi, wit en blou in die klerekas het nie, gooi inhibisies oorboord en verbeel jou jy’s Marie Antoinette of Charles de Gaulle deur ‘n kostuum te huur. ‘n Plaaslike orkes sal regdeur die naweek by die stadsaal sorg vir musikale vermaak.
Die vallei se uitsonderlike wyne sal by twee plekke aangebied word, naamlik Franschhoek-kelder en The Franschhoek Square. Hier sal wynliefhebbers en -entoesiaste ook die kans kry om hul voorraad aan te vul.
Om enige teleurstelling te voorkom, bespreek sommer nou jou proeglas en wynkoepons (agt per persoon) teen R180 per persoon direk by Webtickets. Bykomende proekoepons sal oor die naweek te koop aangebied word.


