Stellenbosch se apteekdienste steeds tops
Die Wes-Kaapse dpartement van gesondheid se aptrekjerspan op Stelklenbosch het die topgradering by die Suid-Afrikaanse Aptekersraad ontvang.
Dit is die derde agtereenvolgende keer dat die span A-gradering kry, en Esna Wessels (toesighouer oor apteekdienste by primêre gesondheidsorg in Stellenbosch) hoop dit sê vir die gemeenskap iets van die hart waarmee die personeel hulle dien.
Wessels se span se basis is by Cloetesville-gemeenskapsdagsentrum vanwaar hulle medikasie bestel en beskikbaar stel aan klinieke in die Stellenbosch-area. Van hier af gaan hulle uit om die apteekassistente wat permanent by klinieke is, by te staan. Die span se werk is omvattend, en so ook die aspekte wat in ag geneem word tydens ‘n inspeksie van die SA Aptekersraad.
“Dit is ‘n baie streng proses. Alles word gemeet aan bewyse. Jy moet elke dag alles insit en alles gereed hê, want die inspeksie kan enige dag plaasvind,” sê Wessels.
Tydens die inspeksie word daar nie net gekyk na prosesse soos die bestel, ontvang, korrekte berging en hantering van medikasie nie, maar ook na hoe apteekpersoneel deurlopend opgelei word, hoe hulle op hoogte bly van die jongste beleide, en hul interaksie met pasiënte. Inisiatiewe om die pasiënt se ervaring te verbeter, word in ag geneem, én stappe wat geneem word om medikasie se gehalte te beskerm tot die oomblik wat die pasiënt dit neem.
‘n Swak prestasie tydens ‘n inspeksie kan lei tot meer gereelde inspeksies of die sluiting van die apteek, wat sou beteken dat Cloetesville-gemeenskapsdagsentrum en al die apteke in die Stellenbosch-omgewing geraak sou word. Die inspekteur het egter Wessels se span as “klein maar dinamies” verwys. Hy was beïndruk met al hul stappe om gehalte te verseker en het gesê hierdie span het modelle wat hy aan ander sal voorhou as voorbeelde van goeie praktyke.
Wessels sê die sleutel tot hul prestasie, lê in die welstand van hul personeel. Hulle praat voortdurend oor die belangrikheid daarvan om die regte medikasie op die regte tyd aan die regte pasiënt te gee, want elke pasiënt verteenwoordig hul eie ma, pa en geliefde. Die span roteer daagliks in die klinieke in Stellenbosch, wat goeie en deurlopende kommunikasie tussen die spanlede verg.
“Die personeel by die klinieke is ook vir ons belangrik, want ons moet nou saamwerk om die stelsel te laat werk tot die punt waar die baba bv. sy inenting kry. Die apteekspanne is dikwels die laaste kontakpunt wat die pasiënt met die fasiliteit het, so ons doen alles wat ons kan om seker te maak dat dit ‘n positiewe oomblik vir die pasiënt is.”
Van die inisiatiewe wat hulle neem om pasiënte se ervarings te verbeter, is deur in sommige fasiliteite ‘n trollie met medikasie toe te ken aan verpleegkundiges wie voorskrifte kan uitreik. Die verpleegkundige kan dan dadelik nadat ‘n voorskrif geskryf is, die medikasie vir die pasiënt gee, en die pasiënt kan huistoe gaan.
Die span verpak en reik ook medikasie uit aan tot agt instansies in die Stellenbosch-omgewing, sodat hul inwoners nie nodig het om dit af te haal nie. Minder mense hoef dus na klinieke te gaan. Apteekdienspersoneel deel ook waarnemings met operasionele bestuurders, sodat daar bv. ‘n opeenhoping van pasiënte voorkom word, en gesondheidswerkers gereelde indiensopleiding kry oor die doeltreffendste hantering van medikasie.
“Ek is baie trots op die prestering van apteekdienste. Daar word gedurig volhoubare planne gemaak om dienste te verbeter. Hierdie is ‘n wonderlike span,” sê Denise Johnson, die Wes-Kaapse regering se bestuurder van primêre gesondheidsdienste in die Stellenbosch-omgewing.
