Stellenbossers reageer op burgemeester se verduidelikings

Inwoners reageer sterk op water-klagtes

Die berig verlede week oor klagtes van inwoners oor buitensporige waterrekeninge, en ander kwellinge, wat tydens ‘n openbare vergadering gelug is, het heelwat verdere reaksie ontlok.

Klagtes het hoofsaaklik gegaan oor die waterrekeninge en die wyse waarop die munisipaliteit die klagtes hanteer en ook teenoor belastingbetalers optree. Daar was ook kritiek op die wyse waarop Gesie van Deventer, Stellenbosch se uitvoerende burgemeester, tydens die vergadering en op navrae van www.stellenboschmonitor.com gereageer het. Lees haar reaksie hier.

Emeritus professor Christo Viljoen het tydens die vergadering ‘n uiteensetting gegee van die dramatiese styging in waterkostes en verduidelik hoe dit algemene standaarde oortref.

Hy het op Van Deventer se kommentaar gereageer en gesê Van Deventer se reaksie op die vergadering met inwoners oor die watertariefstruktuur van die Stellenbosch-munisipaliteit, is ‘n teleurstelling.

“Vergeet nou maar dat ons afgemaak word as ‘n klein groepie met hoë waterrekening wat wil hê dat ander vir ons water betaal. Sy vertel ons andermaal hoe goed die dorp bestuur word, en hoe hard sy werk. Sy beantwoord egter glad nie die kwessie van die onrealistiese glyskaal van die watertarief nie, en omseil dit met ‘n lang relaas met twee lawwe en foutiewe stellings:

*             ‘n taalles, nl dat ‘woekerwins’ ‘slegs op hoë rentekoerse van toepassing is,’ en

*             ‘n fisikale les, nl dat ‘water kan nie gemaak word nie”.

Viljoen verduidelik dat volgens die  Verklarende Afrikaanse Woordeboek (Labuschagne & Eksteen, JL van Schaik 1992) beteken “woekerwins” “Buitensporige (onwettige) wins…”  Van Deventer verwar dit met woekerrente wat as “buitengewone hoë rente” in dieselfde woordeboek gedefinieër word.

“Soos wat enige hoërskool-skeinatleerling vir jou kan verduidelik, kan water wel gemaak word (jy het net waterstof en suurstof nodig). Buitendien het die see volop water wat deur ontsouting vars gemaak kan word. So sneuwel haar tweede stelling.

“Vergeet nou van naiewe taallesse en fisikalesse, en laat ons fokus op Stellenbosch se watertariefstruktuur.

“Hoe verduidelik sy die rasionaal agter die glyskaal waarvolgens een verbruiker R7.35 vir ‘n kiloliter water aangeslaan word (eerste 6 kiloliter/maand), en sy buurman wat ‘n tuin het wat besproei moet word R116.29 vir ‘n kiloliter moet betaal (>70 kiloliter), d.w.s. ‘n prysverhouding van 1580% vir dieselfde produk? Hoe kom die munisipaliteit uit by 1590%, en nie sê 1000% of 500% of die aanvaarde ontmoedigingstarief van 200% nie?

“As ek aanneem dat water nie teen die laagste tarief teen ‘n verlies verkoop word nie, is die groot vraag: wat is die gemiddelde produksiekoste vir ‘n kiloliter kraanwater vir die Stellenbosch- munisipaliteit? Dit sluit in die aankoopkoste van bulkwater, die suiwering en verspreiding daarvan, afbetaal van lenings vir kapitaaluitgawes vir watersuiwering, en instandhouding van die stelsel? Dié prys moet tog bekend wees, of hoe anders bereken die munisipale amptenare die minimum verkoopprys van water?

“Gee vir ons dié prys, dan praat ons weer oor woekerwins, of nie. Of wil sy vir my sê dat haar raad die watertariewe goedgekeur het sonder om die produksiekoste per kiloliter te weet? Het sy of enige raadslid dit bevraagteken toe hulle die watertariewe goedgekeur het. Haar stelling dat ‘die munisipaliteit maak geen wins op dienste nie’, sal in die geval van waer slegs beantwoord kan word as ons die gemiddelde kosprys per kiloliter kraanwater weet,”het Viljoen gesê.

Hy het die tweede kwessie uitgelig as die prysverhoging van water sedert 2015, wat ver bo inflasie is. Hy het bevestig dat die tariewe sterk verhoog is tydens die “dag-zero”-dreigende waterdroogte van twee jaar gelede, maar daarvoor maak die tariewe tog voorsiening met droogteheffings (vir ‘n droogte wat lankal verby is) en keer ‘n mens daarna terug na normale tariewe.

‘n Gemiddelde inwoner wat 50 kiloliter water per maand gebruik, se waterrekening vanaf 2015 tot 2022 het met 309% toegeneem, sonder heffings vir droogte in albei gevalle, wat 269% meer is as inflasie. Vir ‘n groot waterverbruiker (>70 kiloliter/maand) is die toename nog meer.

“Hoe regverdig Van Deventer so ‘n buitengewone toename in die waterprys, ver bo inflasie? In dieselfde tydperk het Eskom se gemiddelde elektrisiteitsprys, soos beheer en goedgekeur deur NERSA, toegeneem met 83,5%, teenoor ‘n totale inflasietoename van 40.1%.

“Hoe regverdig Van Deventer en haar mede-raadslede hierdie buitengewone toename? En moenie ander munisipaliteite se ewe onrealistiese watertariewe as vergelykende norm neem nie.

“Ek voorspel dat die volgende verkiesing op plaaslike vlak vir ‘n stadsraad sterk sal wentel om Stellenbosch se watertariefstruktuur. Ek verwag nie dat ander my waterrekening betaal nie, maar ek wil ook nie vir ander se waterverbruik opdok nie. Ek aanvaar ‘n billike prystoename (tot so veel as 200%) as ontmoedigingsprys vir groter maandelikse verbruik, maar nie ‘n 1580% verhouding nie. My stem sal nie gaan vir ‘n kandidaat wat die plaaslike watertariefstruktuur goedgekeur het, of dit nie kan regverdig nie,” het hy gesê.

Nog ‘n anonieme inwoner, wat uit vrees vir intimidasie nie haar naam genoem wil hê nie het gesê:    ”Sy (die burgemeester) praat nie die waarheid nie – ek het my e-posse aan haar, Karolus, Rooifontein en Nicholls gestuur…twee keer. Niemand het eers ontvangs erken nie, (ek het) geen woord terug gehoor nie.

“Ons is nie groot waterverbruikers nie, ons gebruik tussen 11kl en 15 kl per maand al vir tien jaar, hulle het toegang en sien die meter deur die heining van die pad af. My vraag is hoe ek dan skielik vir twee maande 38kl en 40 kl gebrui+k volgens hulle terwyl ons niks anders doen as al die ander maande nie. Daar is geen lek nie…want daarna keer dit terug na normaal…so wat het dit veroorsaak?

“Ons doen geen besproeiing nie, maak nie swembaddens vol nie, het nie krane oop vergeet nie. Wat is die verklaring, dit is wat ek wil weet. Haar houding is swak ern dit is tyd en dis tyd vir onafhanklike candidate. En ek wonder wat gaan Bredell sê? Hy is ook DA! Natuurlik gaan hy vertel hoe wonderlik sy is!”

Nog ‘n inwoner het gesê die uitvoerende burgemeesters is verantwoordelik vir munisipale begrotings.

“Dit sluit in die winsmarges op die verkoop van water en ander dienste. Die MFMA (Munisipale Finansiële Bestuurswet #56 van 2003) bepaal: ‘The council of a municipality must for each financial year approve an annual budget for the municipality. The mayor must table the annual budget at a council meeting at least 90 days before the start of the budget year. The mayor must coordinate the processes for preparing the annual budget . . .’
“‘n Munisipale begroting is dus die heersende burgemeester en sy/haar raad se verantwoordelikheid. Die surplus op Stellenbosch se munisipale waterverkope het in die afgelope 10 jaar verdriedubbel.”

Nog ‘n leser meen: ”Gesie raak wel betrokke by sekere dinge, wat definitief niks met haar amp te doen het nie, soos toe die “nuwe” Meraki se aansoek vir ‘n “dek” deur die ingenieursdepartement afgekeur is, is die juiste department deur haar genader om die aansoek goed te keur.”

 

One Reply to “Stellenbossers reageer op burgemeester se verduidelikings”

  1. Dit sal die burgemeester en amptenare gerade wees om hierdie stelllings kort en saaklik te antwoord. Hoeveel ander berekeningsprobleme en inmengings was daar nie. Bv, waarom mag geen raadslid of anptenaar nie met media praat nie? Tevore het raadslede punte op hul evaluering gekry as hulle mediadekking oor hul werk of gebied gekry het. Dit is aangemoedig. Waarom word kommunikasie met amptenare gestriem?

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!