Straat-pret laat Stellenbosch kook

Drink Stellenbosch-lewe in by Straat Soirees

Besoekers aan Stellenbosch kan nou in die soel aande van die somerseisoen ontspan en aansluit by gevierde wynkelders onder die eikebome tydens die Stellenbosch Straat Soirees.

Die Straat Soirees is dié plek vir vriende om weer saam te kuier om lekker kos en wyn en vir wynliefhebbers wat die hartland van Suid-Afrikaanse wyn in al sy glorie wil ervaar.

Dit is nie verbasend dat die Soirees die streek se jaarlikse hoogtepunt geword het nie. Dit bied entoesiaste die geleentheid om in die buitelug wyn te proe en die Kaap se beste seisoen te vier. Soos die tradisie bepaal, sal heerlike straatkos van plaaslike verskaffers, waaronder die bekende sjef Bertus Basson se De Vrije Burger, saam met strelende en kontemporêre musiekvermaak beskikbaar wees.

Die datums vir vanjaar en vroeg volgende jaar se Stellenbosch Straat Soirees is 23 November, 7 Desember, 18 Januarie, 1 en 15 Februarie en 1 en 15 Maart. Elke aand se aktiwiteite is tussen 18:00 en 20:00. Tussen 15 en 25 wynkelders neem aan elke geleentheid deel.

“Die Stellenbosch Straat Soirees het werklik ’n lewe van hul eie begin aanneem, sedert hulle in 2011 bekendgestel is,” sê Elmarie Rabe, Stellenbosch Wynroetes se bestuurder. “Maar hulle kry steeds met elke nuwe soiree nog meer momentum. Dit is altyd lekker om die verrassing op besoekers – wat onverwags op die feestelikhede in die geslote Drostdystraat afkom – se gesigte te sien.

“Dit is altyd baie pret en ons moedig mense aan om daarna by een van die vele binne-loopafstand restaurante te gaan aansit vir aandete, of selfs die partytjie by een van Stellenbosch se toonaangewende wynkroeë voort te sit,” sê sy.

Die Straat Soirees is gestig om aan besoekers ’n voorsmakie van die Stellenbosch-lewe te gee, maar ook as ’n geleentheid vir plaaslike inwoners om hul dorp te geniet. Stellenbosch is nie net bekend vir sy wyne nie, maar het ’n goeie reputasie vir die gehalte van sy gasvryheid, restaurante en verblyf, klassieke styl en stedelike aantrekkingskrag.

Besonderhede:

Kaartjies:                     R170pp (sluit ’n glas en 10 proekaartjies in)

Koop aanlyn:               Kaartjies is deur Plankton beskikbaar

Ry sommer fiets na die Straat Soirees.
Wyn, kos en lekker saam kuier is waaroor dit alles gaan.
Kerkstraat is waar dit ales gebeur.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!