Tiervlei-gemeenskap en US in gesprek oor herstel en memorialisering van eertydse Hardekraaltjie-begraafplaas
Gemeenskapslede van Ravensmead in Kaapstad, voorheen bekend as Tiervlei, het deelgeneem aan ’n gesprek oor die Universiteit Stellenbosch (US) se herstel van die Hardekraaltjie-begraafplaas.
Die universiteit het, nadat dié begraafplaas buite gebruik gestel is, eienaarskap van die perseel bekom en vandag is die US fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe (FGGW) daar geleë. Mense uit die Tiervlei-gemeenskap is daar begrawe.
Die gesprek om met die gemeenskap te beraadslaag het op 12 Desember by die openbare biblioteek in Ravensmead plaasgevind. Die US is die afgelope twee jaar in gesprek met gemeenskapslede wat ’n verbintenis met die begraafplaas het.
Die begraafplaas was vanaf 1909 tot 1946 in gebruik en het ’n sentrale plek beklee in die lewe van die destydse Tiervlei-gemeenskap, wat in die apartheidsbedeling onder dwang ingevolge die Groepsgebiedewet verskuif is. Die US het in 1971 ’n deel van die grond bekom toe die destydse Parow-munisipaliteit dit aan die Universiteit oorgedra het.
Die historiese begraafplaas strek oor gedeeltes grond wat aan die US, die Tygerberg-hospitaal (Wes-Kaapse departement van gesondheid en openbare werke) en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (PRASA) behoort of onder hulle beheer is.
Dr Therese Fish, die FGGW se viserektor: kliniese dienste en sosiale impak, het die gesprek gelei en prof Aslam Fataar het namens die US-transformasiekantoor as voorsitter opgetree. Die US het saam met lede van die destydse Tiervlei-gemeenskap vertrek op “’n proses van gemeenskapsdeelname wat ten diepste mensgerig is” wat ten doel het om daarop uit te loop dat diegene wat daar ter ruste gelê is op gepaste wyse gedenk word.
Gemeenskapsdeelname is begrond op wat Fataar ’n herstellende benadering noem wat op navorsing, mondelinge storieversameling en gemeenskapsbetrokkenheid begrond is. Die proses van erfenisherstel “betrek diegene wat in die omgewing van die begraafplaas gewoon het en hulle nakomelinge. Ons werk saam met Erfenis Wes-Kaap aan gepaste gedenkprosedures, wat die langtermynbestuur van die Hardekraaltjie-perseel insluit,” sê hy.
Dr Handri Walters, dosent in die US departement sosiologie en sosiale antropologie en projeknavorser, het ’n kort aanbieding gedoen om sommige van die bevindings uit te lig wat uit onderhoude met uitgesoekte gemeenskapslede na vore gekom het. Sy het ou kaarte van die gebied gebruik om ’n gesprek te fasiliteer oor die begraafplaas, die ligging daarvan en die verbintenis wat dit met die US en die voormalige Tiervlei het.
Walters het herhaal dat die US daartoe verbind is om te doen wat die apartheidsregering nagelaat het, naamlik om die begraafplaas te erken as die laaste rusplek van mense wie se lewens waardevol was en om erkenning aan hul lewens te gee, selfs na hulle dood. Haar aanbieding het afgesluit met ’n naamlys van persone wat in die Hardekraaltjie-begraafplaas begrawe is volgens inligting wat tydens die onderhoudproses verskaf is.
Medeprojeklid Curtley Solomons het ’n aanbieding gedoen oor aspekte van die sosiale lewe van die Tiervlei-gemeenskap in die 1940’s, 1950’s en 1960’s. Op grond van koerante uit die era wat hy geraadpleeg het, het Solomons ’n prent geskilder van ’n florerende gemeenskap met burgerlike, vermaak-, sport-, skool- en godsdienstige aktiwiteite. Dit is alles hewig ontwrig deur gedwonge verskuiwings en die gevolglike versplintering van die gemeenskapslewe deur die apartheidsregering.
Deur hierdie perspektiewe voor te hou, probeer die projek die lewe sigbaar maak van die gemeenskap wat in die omgewing van die begraafplaas bestaan het. In die lig hiervan behels een van die projek se sleuteldimensies dat stories ingesamel word onder nakomelinge van mense wat in die begraafplaas begrawe is. ’n Span US- en gemeenskapsgebaseerde navorsers het die afgelope ses maande lank sulke stories ingesamel, wat die grondslag sal vorm vir ’n boek hieroor.
Solomons het ook kortliks inligting verskaf oor ’n digitale aanlyn stoorplek, op ’n webblad, waar enigiemand wat in die projek belangstel toegang kan kry tot alle dokumente, artefakte, klankgrepe, artikels, ensovoorts wat versamel is. Oop toegang tot die projekinligting is ’n sleutelaspek daarvan en sal later ’n wesenlike deel vorm van opvoedkundige en gemeenskapsgesprekke wat deel van die memorialisering van die begraafplaas sal uitmaak.
Die sessie het lewendige kommentaar en deelname uitgelok onder die gehoor van ongeveer vyftig gemeenskapslede. Sommige sake wat in die kommentaar aangeroer is: hoe belangrik dit is dat die herstel van die begraafplaas gekontekstualiseer word binne die geskiedenis van die inheemse mense wat die Tiervlei-gebied voor kolonialisasie bewoon het, dat daar behoefte is dat die plaaslike Khoisantaal in die herstelproses geakkommodeer word, en hoe belangrik dit is dat jongmense meer bewus van die projek gemaak word.
Ten slotte het Jerome Topley, projekbestuurder, ’n voorlopige konteksbord bekendgestel. Die bord sal ’n verklaring oor die voortgaande proses bevat, asook die doelwitte en metodologie van gemeenskapsdeelname van die herstelproses. Die aanbieding oor die konteksbord is gedoen met die oogmerk om met die deelnemers te beraadslaag oor die aanvaarbaarheid daarvan om so ’n bord op te rig en om idees uit te ruil oor watter gedagtes en bewoording gepas sou wees. ’n Sleutelaanbeveling vanaf die deelnemers was dat daar oorweeg moet word om die teks op die bord in vier tale aan te bied, met die Khoitaal aanvullend tot Afrikaans, Xhosa en Engels.
Fish het die sessie saamgevat deur uit te wys hoe kompleks ons gedeelde verlede is en dat nie die gemeenskappe van die verlede óf die hede homogeen was of is nie. Dit is opnuut beklemtoon in die konteks van dié begraafplaas, wat deel was van ’n koloniale stelsel wat ingevoer is eeue nadat inheemse mense en stelsels al daar aanwesig was. Daar is besin oor die oorweging daarvan om ’n plaaslike Khoisantaal in te sluit. Fish het alle teenwoordiges daaraan herinner dat, hoewel die beraadslaging oor die begraafplaas die beweegrede vir hierdie gesprek was, die ryk stories van gemeenskapslewe oor hulle eie verledes geleentheid skep vir gemeenskappe om self hierdie stories (dikwels mondelinge geskiedenisvertelling) te boekstaaf en aan die nageslag oor te lewer.
Ter afsluiting het Fish gesê dat die kern van hoe die gemeenskap oor die herstel van die begraafplaas dink, geleë is in die behoefte aan memorialisering as ’n manier om om te sien na die emosionele lyding en geestelike leegheid wat veroorsaak is deur die transgenerasionele trauma wat die gemeenskap gely het. Daar is aan die einde van die sessie ’n aangrypende beroep gedoen dat die memorialiseringsproses ’n ruimte op die perseel van die begraafplaas sal insluit om stil nabetragting te doen en die nagedagtenis te eer van diegene wat daar begrawe is.


