Word parkeer-bewyse ‘verkoop’?
Die stelsel van parkeerwagte op Stellenbosch blyk steeds ‘n probleem te wees en iets waaraan min skynbaar gedoen kan word. Dit was die mening van ‘n motoris wat by www.stellenboschmonitor gekla het oor skynbare onwettige optrede deur van die beamptes.
Dit kom in nadraai op klagtes verlede jaar dat parkeerwagte by die PJ Olivier-kunssentrum bloot hul rug draai op leeglêers in die omgewing en niks doen om die gebied te beveilig nie. Daar is ook al voorheen gekla oor die wettigheid van die stelsel asook die aanstelling van buite-maatskappye om die werk op Stellenbosch te doen.
Die jongste klagte, van ‘n anonieme inwoner, gaan oor die proses van die uitreiking van kwitansies vir parkering in die dorp.
“Ek het in Millstraat geparkeer en het die parkeerwag die verlangde R4 betaal vir die tyd wat ek daar parkeer het. Toe ek vir ‘n kwitansie vir die betaling vra, het sy half gesteurd gevra of ek dit regtig wou hê. Sy het vir my ‘n kwitansie tussen ‘n bondel ander kwitansies wat sy vasgehou het, uitgehaal en dit vir my gegee. Dit was wel vir dieselfde bedrag, maar die datum en tyd van die kaartjie was nie vir daardie dag nie en ook nie vir die straat waarin ek geparkeer het nie.
“Vir my is dit duidelik dat die parkeerbeampte dieselfde parkeerplek twee maal, of dalk meer kere ‘verkoop’ deur bloot ‘n kwitansie wat al voorheen uitgedruk is maar nie aan die regmatige parkeergebruiker gegee is nie, dan weer uitdeel,” het die motoris verduidelik.
Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die munisipaliteit, het op navraag oor wat die raad doen om sulke aktiwiteite, wat aan bedrog grens, te voorkom en te ondersoek, geantwoord dat die munisipaliteit enige motoris wat parkeer aanmoedig om altyd te vra vir ‘n kwitansie.
“Indien die kwitansie foutief lyk, kan dit aan ons wetstoepassingsbeheerkamer aangestuur word sodat ons spanne ondersoek kan instel,” was sy reaksie.


