Rivierstorting: ‘Nie rou riool’, sê munisipaliteit

Riool in Eersterivier ontstel boere

Danie Keet

Boere wat langs die Eersterivier boer is hoogs ontsteld oor vuil rioolwater wat die afgelope byna twee weke in die rivier gestort word. Skynbare wanfunksionering van die stelsels by die munisipale rioolsuiweringswerke is verantwoordelik hiervoor, maar boere bevraagteken die oorsaak van die probleem.

“Die aanleg is teen ‘n koste van byna R450 miljoen gebou en sowat drie jaar gelede in gebruik geneem,” vertel Kallie Kirsten van die plaas Goedvertrou waardeur die Eersterivier vloei.

“Die kontrakteurs het vir ongeveer ‘n jaar die aanleg bedryf en toe was daar geen probleme nie. Sowat twee jaar gelede is dit aan die munisipsliteit oorhandig en sedertdien is daar baie probleme.

“Die jongste voorval het omtrent twee weke gelede begin toe ons gesien het dat die rivier vuil word. Vandag (Dinsdag) het dit ‘n hoogtepunt bereik met rou riool wat in massas in die rivier afgestroom het.”

Kirsten se seun, Freddie, vertel dat dit duidelik is dat dit nie verwerkte riool is nie.

”Die reuk is iets afskuweliks en wat hier ronddryf is nie verwerkte riool nie,” het hy gesê.

Volgens Kirsten het herhaalde vertoë tot die munisipaliteit niks opgelewer nie, totdat die burgemeester, Gesie van Deventer, Dinsdag op hul versoeke gereageer en ‘n vergadering oor die aangeleentheid vir eerskomende Vrydag belê het.

Kirsten sê die besoedelde rivier belemmer hul besproeiingsaktiwiteite van gewasse wat langs die rivier gekweek word en hulle kan nie hul toegedeelde water gebruik nie. Veral nou onder die uiterste warm toestande kan dit groot skade aan hul oeste doen.

Volgens Kirsten lyk dit of die probleme gaan oor die bedryf van die rioolstelsel en die suiweringsaanleg.

“Ek sidder om daaraan te dink wat by die nuwe rioolsuiweringswerke in Pniel gaan gebeur en of dit dieselfde pad as Stellenbosch se aanleg gaan loop. Hier is ook bykans R190 miljoen spandeer. Ons is daarvan oortuig dat ‘n tekort aan kundige en opgeleide personeel ‘n groot deel van die probleem is.”

Nog ‘n boer,wat anonym wil bly, het gesê daar is bufferdamme op die werke wat leeg moet wees om in ‘n noodgeval die uitvloeisel te kan stoor.

“Hoekom is dit dan nou vol,” wou hy weet. “Die probleme soos pompe wat nie werk is verseker ‘n uiters swak verskoning want die gevolg van een of twee komponente wat onklaar raak, veroorsaak nie ‘n storting soos dié nie. Dit lyk of die hele aanleg op die randjie is van totale ineenstorting.

“Ek sal graag wil weet wat werklik daar aangaan. Dit is dieselfde geval in die ander suiweringsaanlegte. Geen personeel word aangestel wat die werk kan doen nie. Die posvlakke wat die munisipaliteit afdruk om minder bekwames teen laer salarisse aan te stel, het nou sy tol begin eis,”het hy gesê.

Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê hulle het op 28 Februarie bewus geword van die onklaarraking van meganiese  skerms  by die watersuiweringsaanleg. Die probleem was weens toerusting wat weens verhoogde slytasie, veroorsaak deur die voortdurende aan- en afskakel van elektrisiteitstoevoer weens beurtkrag, ontstaan het.

“Die verhoogde vlakke van beurtrkrag plaas geweldige druk op munisipale infrastruktuur en meganiese stelsels wat nie ontwerp is om voortdurend aan- en afgeskakel te word nie of om vir lang tydperke sonder betroubare kragbronne te funksioneer nie.

“Die meganiese onklaarraking het veroorsaak dat die vloei van die membraanafdeling na die slik-aanleg herlei is. Die volle vloei van die slik was te veel vir hierdie afdeling en gevolglik het van die slik saam met behandelde water  in die rivier beland.

“Die munisipaliteit het onmiddellik die diensverskaffer opdrag gegee om die skerms te herstel en die geblokkeerde vloei reg te stel. Dit is dieselfde dag gedoen,” het Grobbelaar verduidelik.”

Hy het dit benadruk dat dit nie rou riool was wat in die rivier beland het nie, maar wel van die slik en behandelde water.

“Dit was ook nie ‘n aaneenlopende storting wat 10 dae geduur het, soos beweer word nie. Ons het op 9 Februarie ook ‘n storting gehad weens ‘n probleem met die pompe. Dit is egter binne twee uur opgelos,” het Grobbelaar gesê.

Freddie Kirsten by die laagwaterbrug in die Eersterivier op hul plaas Goedvertrou waar duidelik gesien kan word hoe erg die rioolstorting is. Foto: Francois Lombard

2 Replies to “Rivierstorting: ‘Nie rou riool’, sê munisipaliteit”

  1. Load shedding is here for the long term. A proactive executive mayor should have foreseen the need for backup generators. Management probably too far removed from the coal face

  2. Wil graag hierby aansluit, wat betref uiters onuithoubare stank en swak beeld vir Stellenbosch is die rivierloop langs die Krommerivier ,die pragtige boomryke kompleks “Die Rand” kompleks wat van die hoogste huur tariewe beloop in Stellenbosch .
    Die uitbroei van muskiete en die ongelooflike stank om nie eers te praat van die vullis storting nie Die ander Groot onaanvaarbaar is dat daar geen polisie teenwoordigheid ooit is om die dwelm transaksies en bende bedrywighede by die Mosambiek woonstel geboue te hanteer nie,mens waag jou lewe om daar verby te kom om by jou woonplek uit te kom, met voertuig of te voet,wat ‘n teleurstelling Stellenbosch!!!!! Ons het gedink ons verruil die Gauteng “nes “vir sprokies dorp Stellenbosch …..???

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!