Beleggingskenner nou op US-raad

Ervare sakeleier Helena Conradie tot US-raad verkies

Die ervare sakeleier en medestigter van TenFour Partners, Helena Conradie, is verkies om in die Universiteit Stellenbosch (US)-rRaad vir ’n termyn van vier jaar te dien.

Die US Raad dra ’n algemene oorsigverantwoordelikheid ten opsigte van akademiese en bedryfsaangeleentheid, asook oor institusionele beleid en strategie.

Die US se registrateur, dr Ronel Retief, het die lede van die verkiesingskollege van donateurs bedank wat in die verkiesing gestem het. Conradie was een van twee kandidate wat vir die verkiesing genomineer is. “Ons wens haar alles van die beste toe vir haar vier jaar lange termyn in die Raad,” het Retief gesê.

Conradie, ’n US-alumna, glo universiteite speel ’n baie belangrike rol om gemeenskappe te help om wins én doel te prioritiseer. Haar sterk globale netwerk en erkenning as ’n baanbreker in die passiewe beleggingsbedryf sal aansienlike waarde tot die Raad toevoeg.

Conradie het die volgende in haar verkiesingsmanifes opgemerk: “My ondervinding in die finansiëledienstebedryf en by Satrix stel my in staat om bydraes in die Raad te kan lewer oor kwessies soos demokratisering van beleggings, volhoubaarheid, die skep van ’n inklusiewe kultuur en om diversiteit as hefboomkrag aan te wend in uitdagende tye.”

Conradie is ’n geoktrooieerde finansiële ontleder by die CFA en het ’n MSc-graad in Toegepaste Wiskunde (cum laude) aan die US behaal. Sy dien in die direksies van Satrix, Strate en Women in ETF (Vroue in beursverhandelde fondse) vir die EMEA- (Europa, Midde-Ooste, Afrika) streek. Sy is ook lid van die FTSE/JSE-advieskomitee en die JSE-koopkantraad (Buy Side Council).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!