Veranderende seevlakke dalk bydraend tot afname in pikkewyngetalle

Afrika-pikkewyne: klimaatsvlugtelinge uit ’n verre verlede?

’n Nuwe studie oor die paleohistoriese geografiese verspreiding van die bedreigde Afrika-pikkewyn sedert die laaste Ystydperk, skets ’n donker prentjie van ’n spesie wat skerp afneem in getalle.

Stel jou voor: die prentjie van die westelike kuslyn van suider-Afrika gedurende die laaste Ysmaksimum meer as twintigduisend jaar gelede. In die verte sien jy ten minste vyftien groot eilande, waarvan die grootste ’n area van 300 km2 beslaan. En dit is oortrek met honderde miljoene seevoëls en pikkewynkolonies.

Verbeel jou nou dat seevlakke met tot ’n 100 m gestyg het tussen vyftien- tot seweduisend  jaar gelede en sodoende geleidelik hierdie groot eilande bedek het totdat slegs klein heuweltjies en dagsome bo water oorgebly het. Oor die afgelope 22 000 jaar het dit gelei tot ’n tienvoudige afname in gepaste nesmaakhabitat van Afrika-pikkewyne, wat ’n skerp afname in hul populasiegetalle tot gevolg gehad het.

Dít is die paleohistoriese prentjie van die geografiese verspreiding van Afrika-pikkewyne  wat wetenskaplikes in die navorsingsgroep oor evolusionêre genomika in die departement plant- en dierkunde, en die skool vir klimaatstudies by die Universiteit Stellenbosch (US) geskets het. Met hierdie poging hoop hulle om nuwe insig te verskaf oor die teenswoordige kwesbaarheid van hierdie laaste oorblywende pikkewynspesie in Afrika.

Die studie getiteld: “A natural terminal Pleistocene decline of African penguin populations enhances their anthropogenic extinction risk” is vandag (20 April 2023) in die African Journal of Marine Science gepubliseer.

Dr Heath Beckett, hoofouteur van die artikel en nadoktorale genoot by die US se skool vir klimaatstudies, sê hierdie paleohistoriese  beeld van etlike miljoene pikkewyne, staan in sterk kontras met die huidige realiteit van ’n post-1900 ineenstorting van die Afrika-pikkewynbevolking.

In 1910 was Dasseneiland (‘n eiland langs die Weskus, ongeveer drie vierkante kilometer in oppervlak) ’n plek wat wemel van ’n geskatte 1,45 miljoen pikkewyne. Teen 2011 het Suid-Afrika se algehele pikkewynbevolkinhg in duie gestort tot 21 000 broeipare, en teen 2019 het dit verder gedaal tot slegs 13 600. Ongeveer 97% van die huidige bevolking in Suid-Afrika word deur slegs sewe broeikolonies ondersteun.

In Mei 2005 het die internasionale unie vir die bewaring van die natuur, die Afrika-pikkewyn as ’n bedreigde spesie geklassifiseer.

Paleohistoriese skattings van pikkewynbevolkingsgroottes

So hoe hét die suidelike en westelike kuslyne van Suider-Afrika dan gelyk gedurende die laaste Ystydperk? En wat kan dit ons vertel van die pikkewynbevolking se getalle?

Aangesien pikkewyne verkies om op eilande te broei ten einde vastelandroofdiere te ontwyk, het die navorsers topografiese kaarte van die oseaanvloer langs die kus van suider-Afrika gebruik om potensieel historiese eilande te identifiseer wat tien tot 130 meter onder die huidige seevlakke lê.

Ten einde eilande as geskikte pikkewynhabitat te klassifiseer, moes dit beskerming teen landgebaseerde roofdiere kon bied en omring wees van geskikte voedingsgronde vir sardyn en ansjovis binne ’n radius van 20 kilometer.

Met die aanname dat seevlakke veel laer was gedurende die laaste Ystydperk, het hulle 15 groot eilande langs die weskus geïdentifiser waarvan die grootste ’n eiland met ’n oppervlak van 300 km2 is wat 130 meter onder die seeoppervlak lê. Met inagneming van die stygende seevlakke oor die afgelope 15 000 tot 7 000 jaar, het hulle 220 eilande geïdentifiseer wat geskikte nesmaaktoestande vir pikkewyne sou kon verskaf, waarvan 216 ’n area van minder as 1 km2 beslaan. Sommige van hierdie eilande is minder as 30 m2 – basies ’n rotsagtige dagsoom.

Vandag is daar vyf groot eilande aan suider-Afrika se kuslyn. Dit is Robbeneiland (~5 km2), Dassen-eiland (~3 km2), Possessioneiland (~ 1.8 km2) en Seal- en Penguin-eilande (beide kleiner as 1 km2).

Gebaseer op die vroegste beskikbare populasiedightheidskattings, het hulle toe die pikkewynpopulasieskattings op grond van beskikbare eilandoppervlakte bereken, met die veronderstelling dat pikkewyne gewoonlik hoogstens 500 meter van die kus af nesmaak.

Deur bogenoemde benadering te volg, het hulle geskat dat tussen 6,4 miljoen en 18,8 miljoen individue moontlik die Suid-Kaapse waters gedurende die Laaste Ysmaksimum bewoon het. As gevolg van stygende seevlakke 15 000 tot 7 000 jaar gelede, het die habitat waar die Afrika-pikkewyne kon nesmaak, egter skerp afgeneem.

Volgens Beckett was die hoofdoel van hierdie studie om aan te toon dat daar groot veranderinge in die beskikbaarheid van habitat oor die afgelope 22 000 jaar was: “Dit kon ’n massiewe uitwerking op pikkewynpopulasies gehad het. Hierdie bevolkings ervaar nou bykomend hiertoe ook mensgemaakte druk in die vorm van klimaatsverandering, habitatvernietiging en mededinging vir kos,” verduidelik hy.

Terwyl hierdie bevinding groot kommer wek, voer die navorsers aan dat dit ook die potensiaal van ’n reserweveerkragtigheid in Afrika-pikkewyne beklemtoon. En in die lig van ’n onsekere toekoms, kan juis dít in hul bewaringsbestuur gebruik word.

Implikasies vir bewaringsbestuur

Beckett verduidelik: “Veranderende seevlakke sou die behoefte aan veelvuldige hervestiging van Afrika-pikkewynbroeikolonies op tydskale van eeue noodsaak, indien nie selfs korter tydskale nie. Intense mededinging vir broeiruimte sou ook toeneem namate die eilandhabitat aansienlik verminder het. Hierdie historiese buigsame aanpassingsreaksie  bied bewaringsbestuurders dus ’n mate van ruimte om geskikte broeiruimtes beskikbaar te stel – selfs op vastelandterreine – solank toepaslike nes- en broeiplekke beskikbaar is.”

Volgens Prof. Guy Midgley, tussentydse direkteur van die US skool vir klimaatstudies en mede-outeur, sou hierdie millenniumskaal stel faktore wat druk op seleksie geplaas het, die vermoë tot kolonievorming in die spesie bevoordeel het: “Dis ’n totale oorlewende en met die geringste kans, sal hulle vasbyt. In die verlede het die verskuiwing na ander eilande hulle van uitsterwing gered en hulle weet hoe om dit te doen,” beklemtoon hy.

Maar selfs al sou hulle die kans op hervestiging kry, is daar ook toenemende druk wat die mens in die moderne samelewing uitoefen. Wanneer pikkewyne en ander mariene lewe met die kommersiële visbedryf en die mensdom in die algemeen meeding om dieselfde voedselbronne, staan hulle dalk nie ’n kans nie.

Daarom waarsku hulle: “vir enige suksesvolle hervestigingpoging as deel van ’n gekoördineerde reaksie om uitsterwing van die spesie te voorkom, is voldoende toegang tot mariene voedselbronne ’n noodsaaklike element”.

 

Dasseneiland – toe en nou

Halifax-eiland – toe en nou

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!