Stellenbosch se ‘turbotoppies’ slaggereed vir 62ste Bergriviermarathon
Stellenbosch se “turbotoppies” soos alle 50-jaar-plus roeiers by die Maties-kanoklub bekendstaan, is slaggereed om die 62ste Bergriviermarathon aan te pak wat volgende week in die Paarl begin.
Altesaam 15 van Maties-kanoklub se ouer roeiers het hulle reeds daartoe verbind om deel te neem aan vanjaar se Bergrivier-kanomarathon wat op Woensdag, 5 Julie, by die Markstraatbrug in die Paarl begin en vier dae en 240 km later op Saterdag, 8 Julie, by Velddrif aan die Weskus eindig.
“Ons het laag gelê met ons rivieroefensessies met die onlangse vloede, aangesien die riviervloei dan redelik onvoorspelbaar is en ‘n mens maklik onder opdrifsels vasgevang kan word,” sê die 75-jarige Johan van Rooyen, die oudste Turbotoppie in die groep wat mik om vanjaar sy 16de Berg te voltooi.
Vir Johan, vir wie die Bergrivier-kanomarathon ‘n permanente deel van sy jaarlikse sportkalender geword het, verteenwoordig die Berg ‘n avontuur deur ‘n winterlandskap soos net die Boland kan bied.
“Dit het ‘n rukkie geneem om gewoond te raak aan die koue weerstoestande, soos om in die donker op te staan, in jou boot te klim en dan te begin roei, maar ek kan my nie ‘n winter sonder die marathon voorstel en sal dit doen so lank as wat ek kan.
“Die ondersteuning wat ek oor die jare van die Turbotoppies ervaar het, help ook baie. Ons oefen saam en kyk na mekaar deur die jaar. Hul kennis en wysheid is van onskatbare waarde. Hulle is inderdaad ’n uitsonderlike groep mense,” sê Johan.
Hierdie sentiment word deur nog ‘n Turbotoppie, Danie Brink, gedeel wat vanjaar sy sesde marathon aanpak. “Die Berg daag jou ui,t dog spoor dit jou aan en dryf jou tot uiterstes, maar ook om jou te beloon, die kosbaarste daarvan die vriendskappe wat jy smee en herrineringe wat ons deel,” sê Danie.
Danie Brink is ‘n professor en dekaan van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit agriwetenskappe en Johan van Rooyen is ‘n afgetrede buitewone professor in landbouekonomie aan die US.
Die Turbotoppies van Maties-kanoklub wat hulself verbind het om aan vanjaar se Berg deel te neem met marathons reeds voltooi is Hanré Streicher (6), Francois Loedolff (37), Francois Meyer (8), Danie Brink (5), Johan van Rooyen (15), David Malherbe (6), Schalk Smit (12), Daantjie Malan (11), Andries JP Smit (25), Stephan du Toit (16), Gert van Deventer (16), Theuns Matthee (15). ) en Barry Muller (5). Matiestudente wat ook vanjaar deelneem is Ross Leslie (1), Carel Botha (1), Luka Koumantakaris (0) en David Evans (0).
Die Bergriviermarathon se 240 km is soos volg oor die vier dae verdeel: Dag Een van die Paarl tot Zonquasdrif (62 km), Dag Twee van Zonquasdrif tot Bridgetown (46 km), Dag Drie vanaf Bridgetown tot Zoutkloof (75 km) en Dag Vier vanaf Zoutkloof tot Velddrif (57 km).
Een van die mees uitsonderlike roeiers om aan vanjaar se marathon deel te neem, sal ongetwyfeld die 84-jarige Jannie Malherbe wees, wat hierdie jaar sy 50ste marathon aanpak. Jannie het sy eerste Bergriviermarathon reeds in 1962 voltooi.



